loading
avatar
Blogs
2 weke gelede
bou-aan-mense-gemeenskappe-en-die-toekoms

Foto Krediet: Verskaf

Bou Aan Mense, Gemeenskappe En Die Toekoms!

Deur dr. Elsha Hermann

Baie bietjies help baie. Só help bydraers tot die Solidariteit Boufonds om ʼn groot verskil in mense se lewens te maak, en ook hier by Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut is dit verseker van toepassing.

By die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut glo ons dat opleiding méér is as net kwalifikasies en sertifikate. Opleiding is die beginpunt van hoop, diensbaarheid en volhoubare verandering in gemeenskappe. Elke versorgingstudent wat deur ons deure stap, dra die potensiaal om nie net hul eie lewe te verander nie, maar ook die lewe van ander mense aan te raak.

Ons visie is nie net bloot om tuisversorgingstudente op te lei nie — ons wil mense toerus wat met empatie, professionaliteit en ʼn roepingsgedrewe ingesteldheid gemeenskappe kan versterk. In ’n wêreld waar die behoefte aan versorging, ondersteuning en menswaardigheid daagliks groter word, is die rol van goed opgeleide versorgers belangriker as ooit.

Waarop fokus ons in 2026?

Uitnemende opleiding wat relevant bly

Die wêreld van versorging verander voortdurend. Daarom fokus ons daarop om ons opleiding prakties, relevant en mensgerig te hou. Ons wil verseker dat elke student nie net teoretiese kennis ontvang nie, maar ook selfvertroue ontwikkel om werklik ’n verskil te maak.

Ons kyk voortdurend na nuwe maniere om opleiding meer toeganklik en doeltreffend te maak. Tegnologie, nuwe leergeleenthede en samewerking speel ’n belangrike rol in hoe ons groei. Om hierdie rede voorsien ons om binne die afsienbare tyd ʼn hibriede model vir opleiding uit te rol.

Studentevorming en menswaardigheid

By die Opleidingsinstituut gaan dit nie net oor wat jy weet nie, maar ook oor jou vorming as mens. Ons wil studente help ontwikkel tot professionele versorgers met integriteit en leierskap, individue wat ander met waardigheid behandel.

Die uitbreiding van ons versorgingsnetwerk

Ons droom is groter as ’n versorgingsopleidingsinstelling alleen. Ons wil deel wees van die broodnodige groeiende netwerk van versorging in gemeenskappe — ’n plek waar opleiding en diens, hand aan hand loop.

Om hierdie rede wil ons nog sterker brûe bou tussen ons studente, die gemeenskappe en ondersteuningsnetwerke. Ons glo dat ware verandering plaasvind wanneer mense saamwerk en wanneer opleiding direk omskep word in die uitleef van jou roeping.

Waarom doen ons dit?

Omdat ons glo alle mense maak saak; ook die kwesbares.

Agter elke student is daar ’n storie. Agter elke versorger is daar ’n hart wat wil help. In elke gemeenskap is daar mense wat ondersteuning, hoop en menswaardigheid nodig het. In elke klas, praktiese sessie en gemeenskapsprojek lê daar ’n groter doel opgesluit: om hoop te bring waar mense dikwels alleen en kwesbaar voel.

Saam met ons studente, personeel en gemeenskappe bou ons aan ’n kultuur van diensbaarheid, opleiding en opregte omgee. Want wanneer ons mense toerus, bou ons nie net loopbane nie — ons bou sterker gemeenskappe en ’n beter toekoms vir almal. Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut is deel van die oplossing wat ʼn toekoms hier, vir ons mense, bou. 

Dr. Elsha Hermann is die hoof van navorsing, programme en opleiding by Helpende Hand

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel