
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Bou jou loopbaan op meriete – nie kwotas nie
Deur Leré Nel
In ʼn Suid-Afrika waar rassekwotas klaarblyklik meer as enigiets anders tel, is daar steeds mense wat weier om tou op te gooi – mense soos Renate Pieterse (Barnard). Haar naam het vanaf 2005 sinoniem geword met die stryd teen regstellende aksie toe sy, as voormalige kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), in die Konstitusionele Hof verskyn het nadat sy twee keer vir ʼn bevorderingspos oor die hoof gesien is – bloot omdat sy wit is.
Die regstryd wat tot by dié hof gelei het, het nege jaar geduur. En al het sy uiteindelik die saak verloor, is sy nie spyt oor enigiets nie. Vandag help sy, as ʼn werknemer by Solidariteit, ander amptenare – van alle kleure – in die openbare sektor wat hulself in soortgelyke situasies bevind.
Wie is Renate?
Renate het in ʼn familie van polisiemanne en -vroue grootgeword. Van kleins af het sy geweet dat sy ook eendag in die polisiemag wou werk. Sy vertel dat haar pa ʼn baie eerbare polisieman was. “Toe ek agtien was, het hy my ingesweer as lid van die mag en vir my gesê: ‘Jy leer hard, jy werk hard, en jy loop die reguit pad. Dan sál jy groei en suksesvol wees.’”
Renate het vinnig deur die range beweeg en was teen die vroeë 2000’s al 13 jaar lank ʼn kaptein met waardevolle operasionele ondervinding. Maar toe sy vir ʼn bevorderingspos (waarvoor sy volkome gekwalifiseerd was) aansoek gedoen het, is die pos vakant gelaat eerder as om haar aan te stel. Ses maande later, toe die pos weer geadverteer is, het sy weer aansoek gedoen – al het sy vermoed wat die uitkoms daarvan sou wees. Weereens is daar besluit om nie die pos te vul nie eerder as om vir Renate, die enigste geskikte kandidaat, aan te stel.
Renate se stryd teen kwotas
Renate was ʼn lid van Solidariteit en Solidariteit se regspan het haar saak hanteer. Die arbeidshof het aanvanklik in haar guns beslis. Toe die SAPD die beslissing in die Hoogste Hof van Appèl appelleer het, is daar weer in haar guns beslis. Uiteindelik het die Konstitusionele Hof egter beslis dat daar teen niemand gediskrimineer is nie – omdat niemand aangestel is nie.
“Ek het in die hof getuig dat al my eweknieë in die polisie wat nie wit was nie, reeds teen 2009 bevorder is. Die wit polisielede het agtergebly. Ek het ook besef dat elke keer as ek interne foute aan senior offisiere uitgewys het, met bewyse, ek as ʼn rassis bestempel is – bloot omdat ek wit is,” sê sy.
Renate het uiteindelik besluit om die polisie te verlaat en het in 2014 by Solidariteit aangesluit, waar sy nou ander amptenare soos sy help wat ook in hierdie stryd betrokke is.
Wat beteken meriete vir Renate?
“Meriete is bestaan uit twee dinge: ervaring en dit wat op papier is,” sê Renate. “Jy kan nie beweer dat jy glo in aanstelling op grond van meriete, maar dan ophou leer nie. Onderhoude is subjektief, maar ʼn kwalifikasie of sertifikaat agter jou naam is iets waarmee niemand kan stry nie. Dis iets wat niemand van jou kan wegvat nie.”
En dit geld vir enige werksoeker. “Ek werk met swart polisiemanne wat in trane is omdat hul poste vir swart vroue geoormerk is – selfs al is die vrouekandidate minder gekwalifiseerd. Dit is so duidelik soos daglig: hierdie ‘sommetjie-benadering’ van die regering werk nie! Selfs die mense wat skynbaar deur SEB ‘gehelp’ word, trek aan die kortste ent. Ons moet wegbeweeg daarvan! Ons moet mense aanstel wat die werk kán doen – ongeag hul velkleur of geslag.”
Renate se raad aan werksoekers
Renate beklemtoon dat die beste ding wat werksoekers kan doen, is om nooit op te hou leer nie. “As jy weet daar is net plek vir een persoon van jou velkleur in ʼn werkplek, maak seker jy is daardie een deur jouself beter te kwalifiseer as al die ander kandidate.” Sy deel nog ʼn paar wyshede:
- Hou aan probeer, selfs al dink jy nie jy sal ʼn regverdige kans gegee word nie.
“Doen aansoek! Bring jou kant. Niemand gaan ʼn deur vir jou oopmaak as jy nie eers klop nie,” sê sy. “En onthou, daar is steeds baie werkgewers wat ook nie in die SEB-stelsel glo nie. Jy weet nooit wanneer iemand wel ʼn besluit op grond van meriete gaan neem nie.” - Moenie tou opgooi nie.
“Ek sien hoe die jonger generasie werksoekers moed verloor. Hulle sê: ‘Wat help dit ooit ek probeer?’ Ek sê: ‘Wat help dit jy neem aan wat ander mense gaan doen?’ Probeer eerder en vind self uit!” - Wit werksoekers – hou aan leer.
“Ek sien al hoe meer dat jong, wit Afrikaners nie gaan studeer nie – selfs al het hulle die geleentheid,” vertel sy. “Dis teleurstellend, want hulle skiet hulself in die voet. Hul swart en bruin eweknieë gryp elke geleentheid aan om te leer en gevolglik is hulle deesdae meer gekwalifiseerd vir poste.”
- Moenie alles glo wat jy hoor nie.
“Ouer mense sê soms daar is geen toekoms hier nie, maar ek sien daagliks wonderlike geleenthede. Slegs jy kan besluit om dit aan te gryp. Ek het al gesien hoe ʼn wit kind ʼn beurs by die SAPD kry – tot sy eie grootste verbasing! Al is jy wit, probeer net! Want wat is die alternatief?”
“Moenie wag vir die stelsel om beter te raak nie – word jý eerder beter.”
Renate sê: “Daar is steeds goeie, eerbare mense in besluitnemersposisies. Maar jy, as werksoeker, moet die eerste stap neem. En jy moet iets hê om te wys: jou ervaring, jou werksetiek en jou kwalifikasies. Dít is meriete.”
Haar storie is nie bloot ʼn verhaal van onreg nie. Dit is ʼn bewys van karakter, volharding en die krag van integriteit. Vandag is sy ʼn mentor vir ander en ʼn lewende bewys dat jy jou loopbaan op meriete kán bou.
Onthou: Jy kan nie beheer hoe ander dink nie, maar jy kan beheer hoe goed jý voorbereid is. Bou aan jou meriete. Gryp geleenthede aan. En moenie bang wees om net te probeer nie.