
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Bou jou onderneming se waarde met sake-afrigting
Deur Leré Nel
As jy gedink het jou onderneming is jou pad na finansiële vryheid, dink weer. Só sê Fergus Ferguson, stigter van Fergusmor, ʼn franchise van die internasionale ActionCoach-netwerk. Hy is ʼn ervare rekenmeester en sakeleier wat al jare in die finansiële sektor werk, maar vandag is sy missie veel groter: om entrepreneurs regoor Suid-Afrika te help om nie net winsgewend te wees nie, maar ook om finansieel vry te word.
“Sake-eienaars is gewoonlik die slimste mense in hul eie onderneming,” verduidelik Fergus. “Hulle weet hoe om alles te laat werk, maar die probleem is dat die onderneming nie sonder hulle kan funksioneer nie.” Dit beteken hulle bou dalk ’n goeie inkomste, maar nie ’n onderneming met waarde wat verkoopbaar is nie. En dit is waar sake-afrigting (“business coaching”) inkom.
Wat behels sake-afrigting?
By Fergusmor word entrepreneurs nie net gehelp om hulle winste te laat groei nie, maar hulle word opgelei om hul onderneming só te struktureer dat dit onafhanklik van die eienaar kan werk. Fergus beskryf sy benadering as “besigheidsargitektuur” — om die onderneming te herontwerp sodat dit sonder die eienaar kan funksioneer en aanhou groei.
“Ons doel is om entrepreneurs te help om hulle onderneming se waarde vyf keer oor vyf jaar, of tien keer oor tien jaar, te vermeerder,” sê hy. “Ons werk aan al die veranderlikes wat die waarde van ʼn onderneming beïnvloed, insluitend hoe dit bestuur word, die besigheidsmodel, en vele meer.”
Fergus wys daarop dat min entrepreneurs regtig verstaan watter faktore hulle onderneming se waarde bepaal. Selfs finansiële professionele mense word meestal net opgelei om winsprojeksies te doen, maar nie hoe om die uiteindelike waarde van die maatskappy te bepaal of beïnvloed nie. Fergusmor se benadering vul daardie gaping.
Die “freedom point”
’n Sleutelbegrip waarmee Fergus werk, is jou onderneming se “freedom point”. “Elke eienaar moet weet by watter punt hulle genoeg opgebou het om finansieel onafhanklik (of vry) te wees,” verduidelik hy. “Jou onderneming se waarde moet uiteindelik, na 10, 20 of 30 jaar, die grootste deel van jou boedel vorm.”
Met ander woorde, jy kan nie net vertrou dat jy eendag jou onderneming sal kan verkoop, aftree en gemaklik kan leef nie. Jy moet seker maak jou besigheid het regtig verkoopbare waarde. Fergusmor help jou beplan en bestuur jou syfers van dag een af, sodat jy daardie vryheid kan bereik wanneer jy wil.
Wie kan baat by sakeafrigting?
Fergus sê dat sakeafrigting ideaal is vir ondernemings wat al minstens drie jaar bestaan en waar die eienaar gereed is om verantwoordbaar gehou te word vir sekere doelwitte wat hy of sy wil bereik. Hierdie entrepreneurs is dikwels vasgevang daarin om elke dag ín eerder as áán hulle onderneming te werk, en verloor só die groter prentjie.
“Ons werk met mense wat eksponensiële groei wil bereik,” verduidelik hy, “en wat werklik ’n plan soek om die waarde van hulle onderneming vyf tot tien keer te verhoog.”
Groei en befondsing
Een van die groot struikelblokke vir groei is natuurlik kapitaal, en banke is nie altyd bereid om lenings toe te staan nie. Fergusmor het dus ’n unieke proses, genaamd Acceleration, geskep om toegang tot befondsing te reël vir ondernemings met groot groei-potensiaal. Só word entrepreneurs in staat gestel om die spronge te maak wat hulle andersins dalk nie sou kon nie.
Fergusmor werk ook hand aan hand met finansiële adviseurs. Terwyl jou finansiële adviseur jou help met beleggings, pensioen en boedelbeplanning, sorg Fergusmor dat jou onderneming as batestruktuur reg ingestel is om uiteindelike finansiële onafhanklikheid vir jou te bewerkstellig.
Begin vandag nog om jou waarde te bou
Fergus doen ʼn beroep op lede van die Solidariteit Finansiesnetwerk en sake-eienaars om te onthou: wins is belangrik, maar waarde is noodsaaklik. ’n Onderneming wat nie sonder jou kan oorleef nie, is in werklikheid geen belegging nie.
As jy dus ernstig is oor jou toekoms, jou onderneming en jou vryheid, oorweeg dit om met Fergusmor kontak te maak. Soos Fergus sê:
“Jy kan nie wag tot die dag wat jy wil verkoop om waarde te begin bou nie. Jy moet van dag een af daarmee begin.”
Indien jy as lid van die Solidariteit Finansiesnetwerk graag meer oor sakeafrigting of die groei van jou onderneming wil weet, kontak gerus die netwerk by finnetwerk@solidariteit.co.za — ons help jou graag om die eerste stap tot sukses te neem.
Bly ingeskakel by die Solidariteit Finansiesnetwerk vir nog interessante inligting oor jou beroep.