
Foto Krediet: Verskaf: Trusted Advisors
Gekopieër
COFI-wet op pad: Wat moet jy daaroor weet?
Deur Leré Nel
Die Wetsontwerp op Gedrag van Finansiële Instellings (Cofi-wet) is op pad, en dit hou ʼn mate van onsekerheid in vir enigiemand wat by ʼn finansiële instelling werk. Solidariteit se Finansiesnetwerk het met Anton Swanepoel, bekende regskenner op die gebied van wetgewing wat finansiële instellings reguleer, skrywer van die boek, Solving the COFI Puzzle, en lid van die FSCA se COFI-oorgangswerkgroep, gesels oor belangrike aspekte rondom hierdie wetsontwerp.
Waar trek Cofi in die proses?
Volgens Swanepoel is die Cofi-wetsontwerp nog nie aan die parlement voorgelê nie, maar daar word verwag dat dit teen die einde van 2025 voorgelê behoort te word. Indien dit gebeur kan dit vroeg in 2026 gepromulgeer word. As die proses verloop soos die FAIS-wet, kan implementering 18 tot 24 maande ná promulgering verwag word – dus moontlik eers vanaf die tweede helfte van 2027.
Die vertraging is deels te wyte aan die omvang van Cofi – dit kombineer verskeie stukke wetgewing wat tans afsonderlik banke, versekeraars, beleggingsinstellings en finansiële diensverskaffers (FSP’s) reguleer. Ander redes sluit in die impak van Suid-Afrika se plasing op die FATF se gryslys, die 2024-verkiesing, en ʼn tekort aan infrastruktuur en hulpbronne wat nodig gaan wees vir die implementering van die wet.
Hoe verander Cofi die landskap van finansiële praktyke?
COFI is ʼn samesmelting van verskeie stukke wetgewing – soos die FAIS-wet, die Langtermynversekeringswet, die Korttermynversekeringswet, Wet op Beheer van Kollektiewe Beleggingskemas, die Pensioenfondswet en die Bankwet. Die beginsels van goeie besigheidspraktyk, professionele standaarde en kliëntesorg bly in plek, maar Cofi is wyer van toepassing en die benadering is meer beginselgebaseerd as wetgewing wat bestaan uit reëls.
Wat gaan verander:
- • Finansiëlediensteverskaffers sal moet herlisensieer onder Cofi.
- • Sommige definisies en standaarde sal aangepas word.
- • COFI absorbeer bestaande wette (FAIS, versekering, kollektiewe beleggings, ens.) in een gedragskode vir alle finansiële instellings.
Volgens Swanepoel sal ten minste 85% van FAIS se beginsels en ondergeskikte wetgewing wat van toepassing is op finansiëlediensteverskaffers wel oorgedra word. Dus sal instellings wat alreeds FAIS-standaarde nougeset volg, reeds ʼn gesonde fondasie vir die implementering van Cofi hê.
Hoe berei jy jou praktyk voor?
“Een van die slimste maniere om voor te berei, is om jou kliënt-interaksieproses te verfyn”, sê Swanepoel. Hy beklemtoon dat tegnologie ook ’n sleutelrol speel: “Tegnologie is die belangrikste instrument wat vir adviseurs meer tyd en kapasiteit kan skep in hul praktyk.”
Swanepoel verduidelik dat die oplossing daarin lê om bestepraktykbeginsels en nakomingsdokumente met tegnologie te integreer, sodat beide vooraf ingevul en geoutomatiseer kan word.
Wat beteken “proporsionaliteit” onder die Cofi-wetsontwerp?
Cofi bring die beginsel van proporsionaliteit na die voorgrond – kleiner firmas kan nie aan dieselfde regulatoriese vereistes as groot instellings te voldoen nie. Dit is goeie nuus vir kleiner instellings, aangesien dit die voortbestaan van kleiner instellings moontlik maak.
Waaroor is Swanepoel bekommerd?
Volgens Swanepoel gaan klein finansiële praktyke al vir baie jare gebuk onder uitgawes wat beduidend hoër was as die groei in hul besighede. “Uitgawes verhoog buite verhouding en die kapasiteit van mense wat in klein besighede werk is toenemend onder meer druk. Ek verwag dat baie eenpersoonpraktyke opgeraap sal word deur firmas met ʼn goeie kontinuïteitswaardeproposisie. Vir sommige adviseurs sal dit ʼn baie goeie uitkoms wees, maar dit gaan toenemend moeiliker word vir klein besighede wat nie tegnologie optimaal kan benut nie.” Swanepoel waarsku dat Cofi dalk die katalisator gaan wees wat sommige adviseurs tot ʼn punt gaan dryf om die bedryf te verlaat, maar dit hoef nie die geval te wees nie. “Een ding is seker: baie praktisyns gaan oor hul toekoms besin, want vir baie raak die druk net te veel. Dit is tyd vir goeie, nugter strategiese beplanning.”
Wat is die positiewe kant?
“Ek dink dit maak sin dat alle finansiële instellings aan dieselfde gedragskode moet voldoen,” sê Anton. Cofi kan ʼn nuwe, gelyker speelveld skep – een standaard vir alle instellings. Dít is waar ware geleenthede lê: “Instellings wat ʼn gesonde kultuur het, goeie waardes nastreef en hul prosesse slim met tegnologie integreer, gaan groei beleef.”
“Besighede wat nakoming en hul dokumente in hul stelsels kan integreer wat bestepraktykbeginsels ondersteun om sodoende ʼn naatlose ervaring vir kliënte te skep gaan ʼn kompeterende voordeel skep vir hulself in die bedryf en groei.”
Moenie kla nie, beplan.
Swanepoel sluit af met goeie advies:
“Al is dit hoe moeilik, moet finansiële praktisyns waak teen ʼn kla-gesindheid. Vir adviseurs met ʼn groei-ingesteldheid en wat proaktief strategies kan aanpas en voorberei gaan Cofi baie goed wees. FAIS het ʼn gesonde fondasie oor die afgelope 20 jaar geskep dat die aanpassing vir adviespraktyke nie so ingrypend hoef te wees nie.”
Bly ingeskakel by Solidariteit se Finansiesnetwerk om op hoogte te bly van die jongste nuus in jou bedryf, regulatoriese ontwikkelinge, en kundige advies.