loading
avatar
Artikels
6 maande gelede
bou-sterker-verhoudings-van-binne-af

Foto Krediet: Pexels

Bou sterker verhoudings van binne af

In hierdie artikel gesels die skrywer oor hoe selfkennis die fondament vorm van alle betekenisvolle verhoudings – met jouself, jou werkgewer en jou kollegas. Sy beklemtoon dat egtheid, emosionele intelligensie en ʼn sterk identiteit in Christus verhoudings verdiep en werksukses bevorder. Lees hier meer oor hoe jy verhoudings met jouself, jou werkgewer en jou kollegas kan versterk om met selfvertroue en doelgerigtheid te leef.


Deur Hannie Viljoen

Die pad na betekenisvolle verhoudings begin nie buite ons nie, maar binne ons. As daar een ding is wat dikwels onderskat word in die bou van verhoudings, is dit selfkennis – die vermoë om jouself werklik te ken en te verstaan. Aristoteles het dit reeds besef toe hy gesê het: “Om jouself te ken, is die begin van alle wysheid.” Spreuke 4:23 sluit hierby aan: “Bewaak jou hart meer as enigiets anders, want dit bepaal hoe jy lewe.”

Wanneer jy jouself ken, leef jy nie met ’n masker of agenda nie. Jy probeer nie mense beïndruk of hul goedkeuring wen nie; jy leef eerlik en eg. En dit is juis hierdie egtheid wat vertroue laat groei. Mense soek nie volmaaktheid nie; hulle soek egtheid. Verhoudings floreer wanneer daar eerlikheid en opregtheid is, en dit begin by jouself.

Die wyse waarop jy jouself verstaan, bepaal hoe jy ander hanteer. Selfkennis dien as ’n lens waardeur jy die wêreld en ander sien. Dit kweek empatie, want wanneer jy jou eie emosies en kompleksiteite erken, raak jy minder geneig om ander te oordeel. Jy begin raaksien dat almal iewers swaar dra en almal iewers worstel. Dieper begrip van jouself lei tot groter liefde vir ander.

Jou identiteit in Christus gee jou ’n vaste anker. Wanneer jy jouself in Hom vind, hoef jy nie meer erkenning of goedkeuring van ander te soek nie. Jy raak vry om te gee sonder om iets terug te verwag; om te dien sonder om gesien te wil word. Hierdie sekerheid maak dat jy jouself nie met ander vergelyk nie, en dat jy met doelgerigtheid kan leef. Jou identiteit word die bron van jou invloed en daardie invloed begin by hoe jy in verhouding met ander tree.

’n Gesonde verhouding met jouself gee jou ook die moed om grense te stel. Jy weet wat jy nodig het, wat jy waardeer, en waar jou emosionele drempels lê. Dit beskerm jou teen uitbranding, want jy leer om “nee” te kan sê. Soos iemand eenkeer gesê het: “Grense is nie mure nie; dit is ‘n heining met ’n hek.” Jy besluit wat of wie inkom en wat of wie buite bly. Sulke bewustheid kweek emosionele intelligensie waar jy nie alles persoonlik opneem nie, konflik beter hanteer en jou emosies verwoord sonder om te beskuldig.

Hierdie innerlike groei is nie net belangrik vir persoonlike verhoudings nie. Dit lê ook aan die hart van ’n gesonde werkskultuur. Daniel Goleman, outeur van Emotional Intelligence, wys daarop dat emosionele vaardighede ’n sterker voorspeller van sukses is as tradisionele intelligensie (IK). Emosionele intelligensie (EI) behels selfbewustheid, selfregulering, motivering, empatie en sosiale vaardighede, almal geanker in selfkennis. Hierdie vaardighede skep ruimte vir betekenisvolle samewerking, aanpasbaarheid en veerkragtigheid.

Voltooi Solidariteit se kursus oor emosionele intelligensie om jou vaardighede te verbeter. Solidariteit-lede kan alle kursusse vir voortgesette leer gratis voltooi.

Verhoudings is kompleks en vereis voortdurende groei, aanpassing en begrip. Jy kan egter nie verwag om ander mense goed te verstaan as jy nie jouself verstaan nie. Moenie wag vir ander om jou te definieer nie. Om te weet wie jy is, is nie net ’n persoonlike ontdekking nie; dis ʼn voorwaarde vir elke verhouding waarin jy staan. Selfkennis vorm die anker wat jou in stormwinde vashou, en die lig wat jou pad na ander se harte verlig.

Skakel op 23 April 2025 om 13:00 by die Solidariteit Kantoorpraktisynsnetwerk se Kennis en Klets-sessie in waartydens Hannie Viljoen oor die tema “Verhoudings met myself, my werkgewer en my kollegas” gaan gesels. Ontdek hoe jy gesonde en produktiewe verhoudings met jouself, jou werkgewer en jou kollegas kan bou om met selfvertroue en sukses in jou beroep te skitter!


Hannie Viljoen is die bestuurder van die gemeenskapsjaar by Solidariteit Helpende Hand en is tans besig met haar PhD in Ontwikkelingskommunikasie aan die Noordwes-Universiteit. Met jare se ervaring in opleiding, mentorskap en gemeenskapsontwikkeling is sy passievol daaroor om mense te help om hul volle potensiaal in die werkplek te bereik.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel