loading
avatar
Blogs
1 week gelede
die-hartklop-van-die-skool-corrie-du-toit-n-ware-kantoorkampioen

Foto Krediet: OkayDeer

Die hartklop van die skool: Corrie du Toit – ʼn ware kantoorkampioen

Deur Mari Ferreira

Wanneer jy by ʼn skool instap, is die eerste glimlag wat jou groet dikwels nie dié van die skoolhoof of onderwyser nie, maar dié van die kantoorpraktisyn. Die stille krag agter die toonbank, die stem aan die ander kant van die telefoon, en die hart wat die skool laat klop.

Van die ontvangsdame wat pleisters plak en trane afvee, tot die “finansies-tannie” wat kwitansies met liefde uitskryf – elke kantoorpraktisyn dra by tot die warmte, orde en menslikheid wat ʼn skool soos ʼn tweede huis laat voel.

As netwerkorganiseerder van Solidariteit se Kantoorpraktisynsnetwerk het ek die voorreg om regoor Suid-Afrika by skole te kuier en dié ongelooflike vroue, en soms manne, te ontmoet wat met soveel passie hul werk doen. Elkeen het ʼn storie, en elke storie is die moeite werd om vertel te word.

Een van hierdie stories is dié van Corrie du Toit van Laerskool Totius, een van Solidariteit se toptien-kantoorkampioene van 2025.

ʼn Vrou met ʼn hart vir mense

Wanneer jy met Corrie gesels, voel dit asof die wêreld net ʼn bietjie sagter word. Sy straal kalmte en warmte uit, en kinders soek spontaan ʼn drukkie by haar voordat die skoolklok lui.

“Elke drukkie van ʼn kind is vir my spesiaal,” vertel sy met ʼn glimlag. “Ek sien hulle groei deur die jare, nie net in punte nie, maar as mense.”

Selfs in die skoolvakansies loer sy na haar e-posse, net om seker te maak alles is op datum. Haar toewyding kom uit ʼn diep sin van verantwoordelikheid, lojaliteit en ʼn opregte liefde vir haar gemeenskap.

Die skoolhoof se woorde

Volgens mnr. Erasmus, hoof van Laerskool Totius, is Corrie nie net ʼn hulp in die kantoor nie, maar ʼn spilpunt vir die hele skoolgemeenskap.

“Sy is vir my ʼn geweldige hulp in die kantoor en maak my werk baie makliker. Vir die gemeenskap is sy die eerste persoon wat hulle kontak. Sy ken almal, en almal ken haar. Vir die leerders is sy die ma by die skool wat na hul klagtes luister en eerste bystand bied, en hulle ewe vriendelik terug stuur klas toe as hulle onnodig in die siekekamer wil kom kuier.”

Hy beskryf haar as vriendelik, bekwaam, bereidwillig en effektief. “Sy is uiters betroubaar, neem leiding, en het ʼn merkbare positiewe invloed op ons skoolkultuur,” voeg hy by.

ʼn Leuse om volgens te leef

As Corrie ʼn leuse het wat haar lewe beskryf, is dit: “Kom ons kyk of ons dit beter kan maak.”

Dit is presies wat sy doen – in elke taak, elke projek, en elke ontmoeting. Of dit nou die versiering van die personeelkamer is, die reëlings tref vir ʼn funksie, of die insameling van borge vir ʼn speelterrein vir die graad RR’s is, Corrie doen dit met ywer en liefde.

Haar kollegas beskryf haar as iemand wat nie wag om gevra te word nie. Sy sien raak, tree op, en gee altyd haar beste.

Die kuns van omgee

Wat min mense weet, is dat Corrie ook besonder kreatief en kunssinnig is. Sy ontwerp en versier met oorgawe, maar haar grootste geskenk lê in haar vermoë om mense te laat voel dat hulle gesien, gehoor en waardeer word.

Sy glo dat ʼn uitmuntende kantoorpraktisyn iemand is wat met liefde, respek en ʼn oop hart werk.

“Moenie moed opgee nie,” sê sy sag. “Selfs al kom jy laaste in die wedloop, het jy steeds gewen.”

Die waarde van kantoorpraktisyns in skole

Kantoorpraktisyns soos Corrie is die ongesiene helde van ons onderwysstelsel. Hulle hou die administrasie aan die gang, ondersteun onderwysers, vertroos kinders, en bou brûe tussen ouers en die skool.

By Solidariteit glo ons dat hulle nie net ondersteuningspersoneel is nie, maar die hartklop van elke skool. Daarom is ons trots om deur die Kantoorkampioen-kompetisie en die Kantoorpraktisynsnetwerk hierdie buitengewone mense te kan vier.

Want sonder hulle sou geen skool ten volle kon funksioneer nie.

ʼn Kampioen in elke sin van die woord

Corrie du Toit is nie net ʼn kantoorkampioen nie, sy is ʼn inspirasie. Haar sagtheid, empatie en deursettingsvermoë herinner ons daaraan dat ware uitnemendheid dikwels stil en nederig leef.

By Laerskool Totius sê hulle dit met trots: “Corrie is enig in haar soort, en Totius is dankbaar en gelukkig om haar as deel van ons span te hê.”

En ons, by Solidariteit, sê dit ook: “Dankie, Corrie, en dankie aan elke kantoorpraktisyn wat met toewyding, liefde en geloof ʼn verskil maak, elke dag, in elke skool.”

Lees gerus my ander blogplasings oor kantoorpraktisyns in skole:

https://aanlyn.solidariteit.co.za/groep/sien/artikel/toe-se-hy-ons-ontvangsdame-het-bedank

https://aanlyn.solidariteit.co.za/groep/sien/artikel/generasies-van-kantoorpraktisyns-die-stil-krag-agter-elke-suksesverhaal

Corrie was een van die toptienfinaliste van Solidariteit se Kantoorkampioen-kompetisie vir 2025.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel