Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Nuwe jaar, nuwe jy: Ontwikkel jou loopbaanstrategie en verbeter jou professionele beeld
Deur Annélize Rood, koördineerder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling
Die begin van ʼn nuwe jaar bring altyd ʼn gevoel van varsheid en nuwe moontlikhede. Dit is ʼn natuurlike tyd vir selfrefleksie. Aan die begin van die jaar kan jy herbesin – hetsy jy werk soek, ʼn geleentheid wil benut om ervaring op te doen, jou loopbaan wil laat groei, of bloot produktief wil bly en ʼn inkomste wil verdien. Die nuwe jaar bied vir almal ʼn vars begin en die kans om jou strategie en professionele beeld te versterk.
By Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling glo ons dat elke nuwe jaar ʼn geleentheid is om jou loopbaanpad doelbewus te ontwikkel en met nuwe energie aan te pak. En onthou: jy is nie alleen nie! Ons span stap saam met jou op hierdie reis en bied praktiese ondersteuning.
Waarom “nuwe jaar, nuwe jy”?
Hierdie tema sluit aan by die behoefte van elke persoon aan ʼn vars begin. Dit gaan nie net oor voornemens nie, maar oor praktiese stappe wat jou loopbaan kan transformeer. Wanneer jy jou strategie vernuwe, bou jy selfvertroue en vergroot jy jou kanse om die regte geleenthede te vind.
Hoe stel jy jou loopbaan-aksieplan vir 2026 op?
1. Loopbaanbeplanning
Loopbaanbeplanning beteken jy kies ʼn pad en stel duidelike stappe op om daar te kom.
Gebruik die SMART-model:
- • Spesifiek – Stel ʼn duidelike doelwit. Voorbeeld: “Ek wil ʼn administratiewe pos in die onderwyssektor kry.”
- • Meetbaar – Jy moet kan sien of jy vorder. Voorbeeld: “Ek gaan elke week minstens vyf aansoeke uitstuur.”
- • Bereikbaar – Jou doelwit moet realisties wees. Voorbeeld: “Ek gaan ʼn kortkursus voltooi om my kans op sukses te verhoog.”
- • Relevant – Kies ʼn doelwit wat jou loopbaan help. Voorbeeld: “Ek wil ʼn pos kry wat my rekenaarvaardighede benut.”
- • Tydgebonde – Gee jouself ʼn sperdatum. Voorbeeld: “Teen Junie 2026 wil ek ʼn voltydse pos hê.”
Praktiese wenke:
- • Skep ʼn aksieplan met korttermyndoelwitte (bv. voltooi ʼn kursus, hersien jou CV) en langtermyndoelwitte (bv. bevordering of nuwe sektor).
- • Hersien jou plan elke kwartaal om seker te maak jy bly op koers.
- • Soek ʼn mentor in jou veld wat jou kan lei en raad gee.
2. Netwerkbou
Netwerkbou is die proses om verhoudings te bou en te onderhou wat jou loopbaan kan ondersteun.
Wat beteken dit? Dit gaan nie net oor wie jy ken nie, maar oor wie jou ken en jou waarde raaksien.
Praktiese wenke:
- • Sluit aan by beroepsnetwerke op Solidariteit.
- • Gebruik platforms soos LinkedIn, Facebook en WhatsApp-groepe wat gekoppel is met Solidariteit waar geleenthede gedeel word.
- • Skep ʼn eenvoudige netwerkkaart: teken ʼn sirkel met jou naam in die middel en lys jou kontakte rondom dit. Merk waar jy nuwe verbindings kan bou.
- • Deel jou kennis en belangstelling – netwerkbou gaan ook oor ondersteuning en samewerking.
Mentorskappe:
ʼn Mentor kan jou bekendstel aan ander mense in jou veld. Jy kan later self ʼn mentor word en jou ervaring met ander deel. By Solidariteit bied ons ʼn platform waar jy ʼn mentorskap kan kry of self een kan wees.
3. Selfontwikkeling
Selfontwikkeling beteken jy belê in jou eie groei en vaardighede.
Praktiese wenke:
- • Identifiseer vaardighede wat jy wil verbeter – dit kan tegniese vaardighede wees (bv. Excel, digitale bemarking) of sagte vaardighede soos kommunikasie en leierskap.
- • Maak gebruik van Solidariteit se kursusse vir voortgesette leer om jou CV sterker te maak. Stel ʼn leerplan op: bv. “Ek gaan elke kwartaal een kursus voltooi wat my loopbaanwaarde verhoog.”
- • Werk aan jou selfvertroue en onderhoudvaardighede deur oefening en mentorskap.
Solidariteit se rol
Solidariteit bied ʼn wye reeks ondersteuning wat jou kan help om loopbaansukses te bereik:
- • Praktiese hulpmiddels soos ʼn CV- en onderhoud-gids wat jou help om jou professionele beeld te slyp.
- • Webinare en netwerkgeleenthede waar kundige sprekers oor relevante onderwerpe gesels wat jou kan help om jou loopbaan te bou.
- • Netwerkplatforms soos ons LinkedIn, Facebook en WhatsApp-groepe waar ons gereeld poste deel wat beskikbaar is, artikels publiseer wat relevant is, en waar jy kan netwerk met ander werksoekers en professionele mense.
- • Gemeenskapsondersteuning – jy kry nie net inligting nie, maar ook ’n gemeenskap wat saam met jou die pad stap.
By Solidariteit glo ons: jou loopbaan is nie ’n solo-reis nie, dit is ’n pad wat jy saam met ander kan stap, met ons span wat jou ondersteun elke tree van die pad.
Slotgedagte
“Nuwe jaar, nuwe jy” is meer as ’n slagspreuk, Dit is ’n uitnodiging om jou loopbaan met ’n vars perspektief te benader. Of jy nou werk soek, ’n geleentheid wil benut, of net produktief wil bly, daar is altyd ’n pad vorentoe. Deur jou aksieplan op te stel, jou netwerk te versterk en jou vaardighede te ontwikkel, bou jy ’n professionele beeld wat jou in 2026 en verder sal dra.