loading
Artikels
2 dae gelede
btw-besluit-is-bakgat-maar-krisis-veel-groter-as-dit

Foto Krediet: Verskaf

BTW-besluit is bakgat, maar krisis veel groter as dít….

 Suid-Afrika gaan in 2025 deur ’n ongekende begrotingskrisis, met die jongste wending ’n besluit om nie ’n beplande BTW-verhoging van 0,5% deur te voer nie. Lees meer hier.


Deur Pieter Jordaan

Om die mediumtermyntekort van nagenoeg R75 miljard wat dit skep, te takel, gaan in die komende dae natuurlik as die hoofonderwerp hanteer word.

Tóg is hierdie somme wat gemaak gaan word, net ’n tydelike salf (of gif), en sonder ernstige denkskuiwe oor die Suid-Afrikaanse ekonomie sal daar geen ware genesing kom nie.

Suid-Afrika het ’n ernstige groeiprobleem. Sonder vooruitsigte van ’n ekonomie wat groei en wat dan deur ’n groeiende aantal werkende belastingbetalers aangevuur word, is nog krisisse onafwendbaar.

Die groter deel van ons bevolking maak op toelae staat en die belastingbasis krimp.

Selfs dan sal ’n baie ernstige kwaal aangespreek moet word: spandabelrigheid.

Theuns du Buisson van die Solidariteit Navorsinginstituut (SNI) het al gereeld beklemtoon hoe die antwoord daarin lê dat die regering drasties en dringend verklein moet word om sodoende uitgawes te beperk.

Hierdie snoeiskêr moet verkieslik nóú, wanneer die begroting nogmaals herbedink word, te voorskyn kom.

“Daar is hopeloos te veel staatsamptenare wat hoë poste teen enorme koste vir die belastingbetaler beklee, maar geen werklike bydrae tot die verbetering van die land maak nie.

“R75 miljard sal soos kleingeld lyk as die regering hier begin besnoei, en ʼn goeie voorstel sou wees om byvoorbeeld met die name in die Zondo-verslag te begin,” sê Du Buisson.

Staatsdepartemente bars uit hul nate met amptenare wat min doen, terwyl diegene wat waarde toevoeg, se getalle krimp. Die getalle van onderwysers en dokters steek sleg af by die getal amptenare wat teen ’n groot koste deur die departemente van onderwys en gesondheid gefinansier word.

Ander noodsaaklike voorstelle wat die SNI voorheen uitgelig het en wat nou weer relevant word, is hoe persoonlike inkomstebelastingkerwe aangepas behoort word.

Mense onderskat die impak wat dié belastingkerwe op hulle inkomste gaan hê.

Die SNI het dit as ʼn goeie kompromie beskou om laer inkomstekerwe ten volle vir inflasie aan te pas, en die hoër kerwe gedeeltelik.

Verder behoort dit ook voor die hand liggend te wees dat ideologiese projekte wat ons ekonomie gaan verlam, soos die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), onmiddellik geskrap moet word.

Die koste van planne om graad R by alle laerskole in te fasseer, word ook op bykans R40 miljard geskat, en ’n meer stelselmatige toevoeging van graad R kan oorweeg word.

’n Omvangryke aanpassing sou natuurlik wees om die verlammende juk van swart ekonomiese bemagtiging af te skud. Maar as ’n begin sou die skrap van planne vir ’n transformasiefonds van R100 miljard goed wees vir Suid-Afrika, en sleg vir die kaders.

Die skep van nuwe welvaart is ’n voorvereiste vir dinge om te gebeur, en ekonomiese groei is die antwoord op bykans elke probleem wat Suid-Afrika kniehalter.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel