Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
BTW, deregistrasies en jou agtersak: Informasie wat jou sak kan ruk – of behoorlik kan vul
Deur: PG du Plessis CA(SA), RA(SA)
Die 2026-begrotingsrede sal waarskynlik nog lank onthou word. Op 25 Februarie 2026 het gesprekke, kuberforums en selfs alledaagse kuierplekke behoorlik gegons oor die aankondiging dat die BTW-registrasiedrempel tot R2,3 miljoen verhoog is.
Dit is dus geen verrassing dat talle rekenmeesters binne dae gekontak is met versoeke vir deregistrasie nie.
Dit is verstaanbaar, veral gegewe die administratiewe las wat BTW en ander wetgewing op kleinsakeondernemings plaas. En wee jou as jy laat is met ʼn indiening of betaling!
Die begroting is nie die wet nie
Om die kompleksiteit verder te beklemtoon, is dit belangrik om te onthou dat die begroting nie die wet is nie. Dit is bloot ʼn voorstel of aanduiding van die minister van finansies, en in die breër sin die kabinet, se voorneme. Dit was byvoorbeeld die geval in 2025, toe verskeie politieke partye die bevoegdheid van die minister suksesvol in die howe betwis het. Dit het weereens bevestig: Die begroting is slegs ʼn voorstel wat eers wet word wanneer dit deur die Parlement aanvaar en deur die president onderteken is.
Die duiwel lê inderdaad in die detail.
BTW-deregistrasie kos geld – wees versigtig
Wanneer jy dus oorweeg om te deregistreer, kan dit jou duur te staan kom. Die rede is eenvoudig: die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) eis sy pond vleis. Ingevolge die BTW-wet word deregistrasie hanteer asof al die ondernemingsbates op die datum van deregistrasie verkoop is.
Met ander woorde: SAID aanvaar dat alle bates wat nog in die onderneming is – soos eiendom, voertuie en voorraad – geag verkoop te wees, en BTW is daarop betaalbaar.
Die probleem? Hierdie bates is nie werklik verkoop nie, wat beteken dat daar geen kontantvloei is om die BTW te dek nie. Jou kontantvloei kan dus ernstig onder druk kom.
Nog ʼn belangrike aspek is insetbelasting wat moontlik nie geëis is nie. In sekere gevalle kan insetbelasting tot vyf jaar terug geëis word – mits daar aan spesifieke voorwaardes voldoen word. Indien dit nie betyds geëis is nie, kan die wet jou verhinder om nou te eis.
Outomatiese registrasie: SAID hou jou dop
Met die toenemende gebruik van kunsmatige intelligensie (KI), ontvang al meer ondernemings kennisgewings van SAID dat hulle outomaties vir BTW geregistreer is. Vir baie is dit ʼn groot skok. SAID het toegang tot data van derdepartye, insluitend banke, wat beteken dat hulle ʼn goeie oorsig het van wat in jou onderneming aangaan.
Outomatiese registrasie kan ernstige gevolge hê. BTW kan nie noodwendig teruggevorder word op reeds uitgereikte fakture nie, wat beteken jy moet dit uit jou eie sak betaal. Dit stel jou bloot aan boetes, rente en ʼn beduidende kontantvloeigaping.
Die slotsom
Die verhoogde BTW-registrasiedrempel is beslis goeie nuus vir kleinsakeondernemings. Tog moet besluite oor deregistrasie met die grootste omsigtigheid, deeglike beplanning en kundige advies geneem word.
Al is dit soms maklik om jou rekenmeester te verwyt, is dit dalk nou die tyd om eerder saam met hulle te werk. BTW is nie net ʼn verpligting nie – dit is geld wat jou onderneming namens die staat invorder.
Moenie dat onkunde oor BTW die rede wees waarom SAID in jou agtersak krap nie.