loading
avatar
Artikels
1 week gelede
meer-papierwerk-minder-genade-wat-die-2026-begroting-vir-btw-handelaars-in-tweedehandse-goedere-beteken

Foto Krediet: OkayDeer

Meer papierwerk, minder genade: Wat die 2026-begroting vir BTW-handelaars in tweedehandse goedere beteken

Deur: PG du Plessis CA(SA), RA(SA)

Februarie is tradisioneel die maand van glans en groot aankondigings, en dié jaar was dit geen uitsondering nie. Op 25 Februarie 2026 is die 2026/27-begrotingsrede gelewer, en soos gewoonlik het dit ʼn mengelmoes van goeie nuus, slegte nuus en nuus wat jy eers twee keer moet lees om ten volle te begryp, opgelewer.

Vir baie sake-eienaars in die tweedehandsegoederemark val hierdie onderwerp beslis in laasgenoemde kategorie: dokumentasievereistes vir die eis van BTW op tweedehandse goedere gaan waarskynlik beduidend uitbrei.

Dit is egter nog nie rede om paniekerig te raak nie. Lees eers en dan kan jy daardie noodknoppie met oorgawe druk.

Die basiese beginsel: Hoe werk geagte insetbelasting

Gestel jy koop ʼn tweedehandse trekker by oom Fanie. Oom Fanie is nie BTW-geregistreer nie – hy is net ʼn man met ʼn trekker. Normaalweg sou jy geen BTW-faktuur kry nie en dus nie insetbelasting kon eis nie. Maar die belastingstelsel sê iets anders. Oom Fanie het daardie trekker oorspronklik BTW gekoop. Die belasting is dus reeds een keer betaal. Om dit weer te hef, sou onbillik wees.

Daarom laat artikel 20(8) van die BTW-wet ʼn sogenaamde geagte insetbelastingaftrekking (“notional input tax deduction”) toe. Dit word bereken as 15/115 van die aankoopprys, mits jy ʼn ondertekende VAT264-verklaringsvorm van die verkoper het.

In eenvoudige terme: koop die item, kry die vorm, eis die insetbelasting.

Maar dit is juis hier waar dinge begin skeefloop.

Die probleem: Bedrog en misbruik

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het egter vasgestel dat hierdie stelsel nie altyd so netjies gebruik word nie. In baie gevalle word dit misbruik deur vervalste dokumentasie. Die skema is nie altyd ingewikkeld nie – dit verg net genoeg skaamteloosheid om ʼn fiktiewe aankoop op papier soos ʼn werklike een te laat lyk.

Die skade is veral groot in die uitvoermark. ʼn Tipiese bedrogskema werk soos volg:

  • • ʼn handelaar “koop” tweedehandse goedere (soms slegs op papier) van ʼn privaat persoon;
  • • eis geagte insetbelasting;
  • • voer die goedere uit teen ʼn nulkoers; en
  • • eis óf ʼn terugbetaling by die BTW-terugbetalingsadministrateur (“VRA”) óf eis die insetbelasting en nulkoers-voordeel gelyktydig.

Die gevolg? SAID betaal soms vir transaksies wat nooit gebeur het nie, of betaal in effek twee keer vir dieselfde transaksie.

Dit het die fiskus genoop om strenger beheermaatreëls te oorweeg.

Die voorgestelde oplossing: Meer dokumentasie

Die 2026-begrotingsrede stel voor dat die dokumentasievereistes ingevolge artikel 20(8)van die BTW-wet uitgebrei word. Dit beteken dat die VAT264-vorm nie meer voldoende sal wees nie, en handelaars ook aan die vereistes van artikel 21 van die Wet op Tweedehandse Goedere (“die TG-wet”) en sy regulasies moet voldoen.

Hierdie vereistes sluit onder meer in: die volledige verkoperbesonderhede en identiteitsnommer; ʼn gewaarmerkte afskrif van die identiteitsdokument; ʼn gedetailleerde beskrywing van die goedere (bv. VIN-, IMEI-, of serienommers); die transaksiedatum; die koopprys; en rekordhouding vir minstens vyf jaar.

Dit is reeds die vereiste vir tweedehandse handelaars ingevolge die TG-wet. Die groot verandering is dat jy dit nou ook nodig gaan hê om jou BTW-eis te ondersteun, wat beteken dat die twee wetgewende stelsels nouer geïntegreer word.

ʼn Verdere punt is dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gereeld die TG-wette toepas op onder andere skrootwerfhandelaars, maar dit is nog onduidelik presies hoe en of die SAPD en die SAID betrokke gaan wees met die uitvoer van hierdie wysigings.

Nog ʼn verrassing: Faktuurvereistes

Nog ʼn voorgestelde wysiging is dat belastingfakture voortaan meer besonderhede moet bevat wanneer tweedehandse goedere weer verkoop word. Die faktuur sal moontlik moet aandui wat die oorspronklike aankoopprys was en die geagte insetbelasting wat geëis is.

In praktyk: as jy ʼn motor vir R100 000 van ʼn privaat persoon koop, en R13 043 geagte insetbelasting eis, en daarna die motor vir R160 000 verkoop, moet jou faktuur aan die koper wys dat jy R13 043 geagte insetbelasting geëis het.

Dit kan beteken dat ʼn handelaar se winsmarge indirek aan die koper bekend gemaak word – iets wat reeds kommer onder regskundiges wek.

Regskundiges het reeds gewaarsku dat dit ernstige vrae oor handelsgeheime en marge-openbaarmaking wek. Dit blyk dat hierdie vereiste hoofsaaklik op uitvoertransaksies, waar die VRA ʼn terugbetaling verwerk, gerig is, maar die finale wetgewing sal meer duidelikheid moet bied. Kommentaar van die bedryf sal waarskynlik sterk op hierdie punt fokus.

Wanneer tree dit in werking?

Op hierdie stadium is dit slegs ʼn voorstel. Die begrotingsrede het die beleidsrigting aangekondig, maar dit moet nog deur die formele wetgewingsproses gaan. Konsepwysigingswetsontwerp op Belastingwette (“Draft Taxation Laws Amendment Bill”) sal later in 2026 vir openbare kommentaar gepubliseer word, waarna die finale wet deur die Parlement goedgekeur moet word.

Daar is dus nog tyd om voor te berei, maar nie om dit te ignoreer nie.

Wat kan jy nou reeds doen?

Om risiko te bestuur, is dit sinvol om reeds nou aanpassings te begin maak:

1. Hersien jou aankoopprosesse

Versamel reeds nou volledige verkoperinligting by elke transaksie.

2. Doen stelselkontrole

Maak seker jou boekhoustelsel kan bykomende data hanteer.

3. Lei personeel op

Personeel moet weet watter dokumentasie vereis word.

4. Hou rekords vir vyf jaar

Dit is reeds ʼn wetlike vereiste.

5. Raadpleeg jou belastingadviseur

Voorkoming is beter (en goedkoper) as regstelling.

Ten Slotte: Meer papierwerk, minder verskonings

Hierdie voorgestelde veranderinge is nie op eerlike handelaars gemik nie, maar op die bekamping van bedrog. Tog val die las van nakoming dikwels op dié wat reeds die reëls volg. Die goeie nuus: As jy reeds aan die Wet op Tweedehandse Goedere voldoen, is jy halfpad daar. Die slegte nuus: As jy nie aan die vereistes voldoen nie, kan jy jouself in ʼn ernstige risiko-posisie bevind. SAID se boodskap is duidelik: Die era van minimale dokumentasie is verby.

Tweedehandse handel bly belangrik en wettig, maar die administrasie moet nou die toets deurstaan. Moenie dat swak rekordhouding die rede wees waarom SAID by jou deur kom aanklop nie.

Hierdie artikel dien slegs as algemene inligting en vervang nie professionele belastingadvies nie. Raadpleeg ʼn geregistreerde belastingadviseur vir advies wat op jou spesifieke omstandighede van toepassing is. Die voorstelle in hierdie artikel is op hierdie stadium van die begrotingsrede nog nie die finale wetgewing nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel