loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
city-press-aanspreeklik-vir-waninligting-oor-solidariteit

Foto Krediet: Pexels

City Press, soos News24 en kie, aanspreeklik vir waninligting oor Solidariteit

Deur Robin-Lee Maré

’n Onlangse uitspraak van die persombudsman het bevestig dat die bewerings teen Solidariteit in City Press ongeldig was.

Hierdie is een van talle uitsprake in 2025 alleen waarin veral Engelstalige media-organisasies gedwing is om vir Solidariteit om verskoning te vra.

Hierdie City Press-artikel, wat ook op News24 se nuusplatform verskyn het, het Solidariteit beskuldig van die verspreiding van waninligting ná die vertoning van die banier “Welcome to the most race-regulated country in the world” op die M1 en spesifiek die feitelike inkorrekte stelling gemaak dat Solidariteit ʼn “wit volksmoord” verkondig. Die persombudsman het egter ten gunste van Solidariteit beslis, wat beteken dat die bewerings teen hulle ongegrond was.

Tog word Solidariteit steeds as skuldige voorgestel in media-artikels en kommentare deur ander mediahuise en -kommentators wat dieselfde vals narratief voortsit.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, word Solidariteit en AfriForum al vir ʼn geruime tyd beskuldig van die verspreiding van vals inligting in die VSA.

“Dit is eenvoudig nie waar nie. Die enigste vals inligting wat versprei is, is dié oor Solidariteit en AfriForum. Ons publiseer nie vals inligting nie,” sê hy.

Volgens Pieter Jordaan, bestuurder van nuus en publisiteit by Solidariteit, beklemtoon hierdie saak hoe vals inligting steeds deur sommige media en kommentators gebruik word om Solidariteit in ’n negatiewe lig te stel.

“Fred Khumalo van City Press is een so ’n voorbeeld. Dis hy wat in ’n rubriek valslik beweer het hoe Solidariteit ’n ontmoeting met president Trump gehad het waar volksmoord-bewerings gemaak is wat internasionale gevolge sou gehad het. Hierdie gebeure het nooit plaasgevind nie en die bewerings is dus vals,” sê hy.

Jordaan verduidelik dat die vals narratief oor waninligting steeds voortleef omdat sekere kommentators in die media dit aanhou verkondig.

City Press se kommentators gebruik waninligting om ander van waninligting te beskuldig. Hulle is geregtig tot hul opinie en kan op eie risiko keuses maak om agendas te dryf, maar die perskode maak dit duidelik dat feite nie só vrylik verdraai mag word nie,” sê hy.

Jordaan voeg by dat sulke benaderings enige oorblywende geloofwaardigheid van die hoofstroommedia ondermyn, veral aangesien verskeie media-organisasies, veral Engelse publikasies, reeds verskonings teenoor Solidariteit en AfriForum moes publiseer vir soortgelyke valse bewerings.

Verder verwelkom Jordaan enige uitspraak wat sulke vals beskuldigings veroordeel.

“Hierdie uitspraak dien as ’n herinnering dat die media verantwoordelikheid dra teenoor feite en dat Solidariteit voluit by die waarheid staan, ten einde die beeld van die organisasie te beskerm,” sluit hy af.

Hierdie lys van verskonings waar nuusblaaie nie by die feite gehou het nie, het in 2025 ongelukkig aanhou uitbrei.

Die skuldiges sluit ook in News24, Daily Maverick, Sunday Times, Mail & Guardian, Sunday World en Newzroom Afrika in.

Dit is ʼn klad op hierdie nuusorganisasies se naam.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel