Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
3 uur gelede
continental-staak-produksie-in-die-oos-kaap-byna-1-000-poste-op-die-spel

Fotokrediet: Pexels

Continental staak produksie in die Oos-Kaap; byna 1 000 poste op die spel

Die bandevervaardiger, Continental, het vandag sy produksiebedrywighede in die Oos-Kaap skielik gestaak.
Solidariteit is diep bekommerd oor die moontlikheid dat produksie nie hervat gaan word nie. Byna 1 000 poste is op die spel en talle Solidariteit-lede word geraak.

Volgens die artikel 189-kennisgewing is vandag, 20 November, die laaste effektiewe werkdag vir die meeste werknemers in die vervaardigingsafdeling. ʼn Klein groepie sal wel aanbly om met die afskaling van bedrywighede te help.

Die kennisgewing maak voorsiening vir voortgesette betaling gedurende die konsultasietydperk tot 20 Januarie 2027, onderhewig aan die aanleg se jaarlikse sluiting en die betalingsreëlings vir werknemers wat maandeliks of per uur betaal word. Permanente sluiting lyk egter hoogs waarskynlik selfs al moet daar nog daaroor gekonsulteer word.

“Die probleem is dat die onsekerheid vir ons lede onmiddellik is. Hulle het vandag hul laaste skof gewerk sonder dat hulle weet of hulle ooit weer by die aanleg sal werk.

“Ná die sluiting van Goodyear se aanleg in Kariega verlede jaar is dit ʼn gevoelige slag vir die Oos-Kaap se motor- en bandebedryf en vir ʼn streek wat reeds met hoë werkloosheid te kampe het,” sê Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit.

Continental voer aan dat die aanleg se produksievermoë ondanks verskeie pogings om ʼn ommekeer in die bedryf te bewerkstellig, jare lank onderbenut is. Die maatskappy wys op toenemende prysdruk weens goedkoop ingevoerde bande, hoë energiekoste, onbetroubare logistiek, gebrekkige infrastruktuur en moeiliker uitvoertoestande.

Die voorgestelde sluiting volg op dié van Goodyear en, vroeër, Bridgestone se aanleg in die Oos-Kaap. Venter sê waarskuwings aan die regering is nie ernstig opgeneem nie, en uitdagings is nie met die nodige dringendheid hanteer nie.

“Die bedryf het reeds vroeër vanjaar gewaarsku oor die onwettige en onvoldoende gereguleerde invoer van bande, goedkoop bande uit China en die stygende koste verbonde aan plaaslike vervaardiging.

“Intussen ding ons fabrieke met vervaardigers mee wat in hul eie lande voordeel trek uit betroubare infrastruktuur, aansporings van hul regerings en laer kapitaalkoste.

“Ons het te lank gesloer om dié probleme in Suid-Afrika aan te pak. Die Oos-Kaap kan nie bekostig om nóg ʼn bandefabriek te verloor voordat opgetree word nie,” sê Venter.

Solidariteit sal tydens die artikel 189A-konsultasie daarop aandring dat Continental alle uitvoerbare alternatiewe vir die sluiting ondersoek en soveel moontlik poste behou.

Solidariteit doen ook ʼn beroep op die regering om in samewerking met die bedryf en vakbonde teen die onwettige invoer van bande op te tree, en om die infrastruktuur- en beleidsprobleme wat plaaslike
vervaardiging onder druk plaas, te takel.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel