
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Daar is geen ‘moets’ in gemeenskapsdiens nie!
Deur Tanja Oosthuizen
Tanya Oosthuizen is tans ’n gemeenskapsdiensdokter (CSMO) by die Ceres Hospitaal in die Wes-Kaap. Sy het in 2016 gematrikuleer aan Hoërskool Monument in Krugersdorp, Gauteng, waarna sy ses jaar lank medies studeer het aan die Universiteit van Pretoria. Daarna het sy haar internskap voltooi by die Kimberley Hospitaal in die Noord-Kaap.
Tanya beskou die mediese beroep as ’n roeping – ’n roeping wat sy met toewyding uitleef. Sy glo dat ware volheid in die beroep lê in selfopoffering en diensbaarheid: om jou eie kruis neer te lê en Christus se kruis op te neem.
Jy het vir die internskap- en gemeenskapsdiensprogram (ICSP) geregistreer. Jy wag nog om geverifieer te word. Jy wag in afwagting op die openingsdatum. Jy vra elke persoon wat al voor jou aansoek gedoen het hoe om aansoek te doen, met die hoop dat jy op een of ander manier die stelsel kan flous. Jy wil beheer neem van jou plasing en jy glo steeds dat jy kan!
In jou gedagtes glo jy die leuen dat gemeenskapsdiens jou loopbaan gaan verander; dat hierdie een jaar die res van jou loopbaan gaan bepaal. Ek wil jou herinner dat daar ongelukkig geen gelykmaker in geneeskunde is nie. Ons het almal aan verskillende universiteite studeer, ons het almal ons internskap by verskillende hospitale voltooi, en gemeenskapsdiens is geen uitsondering nie. Die meerderheid van ons word by distrikshospitale geplaas met beperkte hulpbronne en selfs minder leiding. Jy word in die diep kant ingegooi en jy sal óf verdrink óf baie vinnig leer swem!
Die stelsel sal jou uiteindelik plaas. Jy het min tot geen sê daaroor nie. Die enigste ding waaroor jy wel ʼn sê het, is jou ingesteldheid en jou houding. Hierdie een jaar gaan nie jou loopbaan verander nie, maar dit gaan beslis jou lewe verander!
Voor ek self gemeenskapsdiens gedoen het, het ek nie gedink dat dit nodig is nie. Ek het gedink dit is onregverdig dat ons dit moet doen. Nou, agt maande later, besef ek dit is waardevol en ja, dit is beslis nodig. Tot op hierdie punt is jy net vertel wat om te doen, en jy was net ʼn slaaf vir jou senior mediese beamptes. Jy het al die nie-so-lekker take gedoen en net bevele uitgevoer. Nou, vir die eerste keer, is jy in beheer en jy kry die geleentheid om alles rakende jou pasiënt te besluit. Dit is baie lonend, maar mens word ook diep nederig. Jy moenie jouself bo ander verhef en dink jy gaan nie foute maak nie. Dit gaan nie oor óf jy ʼn fout maak nie, maar wanneer!
Tydens gemeenskapsdiens gaan jy oorweldig en onvoorbereid voel. Jy gaan onbekwaam voel en soms selfs geskok wees oor hoe dinge werk en wat van jou verwag word. Daar gaan dae wees wat jy wil tou opgooi, en ander dae wat jy die stelsel wil beveg en probeer verander. Dit is ʼn mallemeule van emosies, maar dit is ook heerlik en lewensveranderend.
Ek wil jou aanmoedig om alles in te neem. Doen daardie keisersneë, dien narkose toe, intubeer pasiënte, doen kleiner prosedures, en verbeter chroniese sorg. Gee jou alles, benut elke geleentheid en maak dit tel. Jy weet nie wanneer jy ooit weer hierdie kans gaan kry nie!
My raad aan jou: Volg al die ICSP se reëls. Sluit aan by sosiale kompakte as jy voel jy moet en jy kwalifiseer. Ruil plasings uit as jy kan en iemand gewillig is. Maar bowenal: Aanvaar jou lot en maak die beste daarvan. ʼn Jaar vlieg vinnig verby. En dan, uiteindelik, is jy vry om te doen wat jy wil! Dit sal óf wonderlik wees, of nie – afhangend van wat jy met die geleentheid doen. Verander jou ingesteldheid en dit sal vir jou ʼn onvergeetlike ervaring wees!