loading
Artikels
2 dae gelede
wat-dink-werkgewers-van-skaduwerk-op-n-student-se-cv

Foto Krediet: OkayDeer

Wat dink werkgewers van skaduwerk op ʼn student se CV?

Deur Leré Nel

Wanneer jy jou eerste CV opstel, wonder jy dalk: Hoe kan ek uitstaan tussen honderde ander studente wat almal ook min werkservaring het – of, nog erger, tussen ander jong werkendes wat reeds ʼn paar jaar se ervaring het? Die antwoord is eenvoudiger as wat jy dink – skaduwerk.

Kevin Delport, ʼn werkgewer by Sappas, wat self al baie CV’s moes deurgaan, verduidelik waarom skaduwerk so ʼn groot impak maak.

“Wanneer ons ʼn CV ontvang en sien dat die kandidaat skaduwerkervaring het, skep dit onmiddellik ʼn positiewe indruk. Dit toon inisiatief en ʼn opregte belangstelling in die veld. Dit wys ook dat die kandidaat moeite gedoen het om praktiese blootstelling te kry, wat dikwels beteken dat hulle beter voorbereid is en ʼn meer realistiese begrip van die werksomgewing het,” verduidelik Delport.

Hoewel jou akademiese kwalifikasies belangrik is, meen Delport dat skaduwerk ʼn waardevolle dimensie byvoeg: “Sulke ervaring lei dikwels tot ʼn meer gegronde en beter voorbereide kandidaat wat vinniger kan aanpas en van die begin af ʼn betekenisvolle bydrae kan lewer.”

Selfs kort skaduwerkervarings kan ʼn verskil maak en verklap baie oor jou, vertel Delport. “Deur skaduwerk op hul CV te lys, wys ʼn kandidaat eienskappe soos inisiatief, nuuskierigheid en ʼn bereidwilligheid om te leer. Dit weerspieël ook goeie tydsbestuursvaardighede en ʼn proaktiewe benadering om insig in die bedryf te verkry.”

Vir werkgewers is dit dikwels die deurslaggewende faktor: “Wanneer ʼn kandidaat skaduwerk voltooi het, toon dit dat hulle bereid is om ekstra moeite te doen om hulself te verbeter. Dit onderskei hulle van ander kandidate en vergemaklik ons besluitnemingsproses.”

Delport voeg by dat dit ook baie oor die student se ingesteldheid sê: “Dit toon dat die individu proaktief is, toegewyd is aan persoonlike groei, en werklike ervaring waardeer. Om tyd in te ruim vir skaduwerk weerspieël ʼn sterk werksetiek en ʼn vooruitdenkende ingesteldheid.”

Maar wanneer moet jy aan skaduwerk begin dink? “Ons beveel aan dat dit so vroeg as moontlik gebeur,” se Delport. “Soos studente hul ervaring opbou, kry hulle meer selfvertroue en word hulle blootgestel aan meer werklike scenario’s, wat hulle voorberei vir baie makliker toetrede tot die werkswêreld.”

Laastens deel Delport praktiese raad: “Bou jou profiel op LinkedIn, kry verwysingsbriewe van die maatskappye waarvoor jy skaduwerk gedoen het, en beklemtoon wat jy by elke maatskappy geleer het. Beklemtoon in toekomstige werksonderhoude watter uitdagings jy aan blootgestel is, hoe jy dit oorkom het, en hoe jy geleenthede aangegryp het.”

Skaduwerk is nie net ekstra blootstelling nie – dit is ʼn bate wat jou CV versterk en jou ʼn voorsprong in die werkswêreld gee.

Registreer jou gratis profiel en bly ingeskakel by Solidariteit se Studente-aanbod om te ontdek hoe Solidariteit jou kan help om jou skaduwerkervarings te reël. Bou vandag reeds aan ʼn CV wat uitstaan!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel