
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Daar is hulp vir middelafhanklikheid
Deur Nico Strydom
Middelafhanklikheid en -misbruik kan enigiemand tref, ongeag klas, ras, geslag, kultuur of opvoeding, en dit kan vernietigende en selfs noodlottige gevolge hê.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanra) se Dwelmbewustheidsweek vind vanjaar van 24 tot 30 Junie plaas.
Volgens Celeste du Preez, uitvoerende hoof van Sanra se Castle Carey-rehabilitasiekliniek in Pretoria, het ongeveer 15% van Suid Afrikaners ʼn afhanklikheidsprobleem. Dit sluit in afhanklikheid of misbruik van alkohol, dwelms of medikasie. Tot 5% van sterftes is weens alkohol- of dwelmmisbruik.
“Middelafhanklikheid gaan oor baie meer as bloot afhanklikheid en kan daartoe lei dat gesinne en families verwoes word. Ernstige nagevolge sluit in gesinsgeweld, dobbelverslawing, seksverslawing asook tegnologieverslawing. In die huidige samelewing gryp baie mense na ʼn kruk en vir sommige is afhanklikheid ongelukkig die uiteinde.”
Navorsing het bevind dat een persoon se middelafhanklikheid ʼn invloed op tot 120 ander persone kan hê, aldus Du Preez. “Die realiteit is dat niemand kies om afhanklik te raak nie en dat afhanklikheid nie diskrimineer nie. Dan is daar ook die stigma wat aan afhanklikheid verbonde is – as iemand eenmaal afhanklik was, hang dié etiket vir altyd om sy of haar nek.”
Afhanklikheid kan verreikende gevolge hê. Dit sluit onder meer psigiatriese gevolge in soos depressie, angs, psigose en paranoia. “Dan is daar ook die finansiële, emosionele en fisieke skade. Indien die liggaam tot so ʼn mate skade gely het, is dit soms te laat om die wysers van die horlosie terug te draai.”
Dit is volgens Du Preez dus belangrik om onmiddellik tot optrede oor te gaan indien middelafhanklikheid vermoed word.
“Sanra Pretoria doen ʼn volledige assessering deur ʼn multiprofessionele span en maak dan aanbevelings. Soms is mense regtig in ʼn diep gat en dit is belangrik dat iemand hulle moet help. Dit is ook belangrik om nie te lank daarmee te draai nie aangesien daar beslis skade kan kom, en baie ander persone in die proses benadeel word. Mense kan ook in ontkenning wees en om hulle te dwing tot erkenning kan ook meer skade berokken as wat dit goed doen.”
Du Preez wys daarop dat afhanklikheid wel oorkom kan word en dat daar hoop is. “Daar is baie mense wat deur omstandighede en ook deur eie keuse in ʼn sekere rigting gedwing isword. Maar deur ingryping en die hulp van ʼn multiprofessionele span is daar beslis hoop en lig aan die einde van die tonnel.”
Klik hier vir kontakbesonderhede vir Sanca se landwye takke.
Solidariteit se beroepsnetwerke in die mediese beroepe – die Aptekersnetwerk, Doktersnetwerk en Verpleegnetwerk – het ten doel om dié beroepe te bevorder en te beskerm en om die gemeenskap te herinner aan die belangrike rol wat hierdie professionele lui speel.
By Solidariteit se netwerke kan professionele persone in die mediese professies ʼn tuiste vind en vorm hulle die ruggraat van die gemeenskap se gesondheid, ja selfs die gemeenskap se geestesgesondheid.