loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
damelin-studente-raadop-na-herregistrasie

Foto Krediet: Facebook | Damelin College 2025-2026

Damelin-studente raadop ná herregistrasie

Leré Nel

Meer as ʼn jaar nadat Educor se instellings, insluitend die hoëronderwysinstelling Damelin, weer voorwaardelik deur die Raad op Hoër Onderwys (RHO) geregistreer is, sukkel talle studente steeds om hul studies te voltooi, bewys van hul kwalifikasies te kry, of selfs hul dosente te kontak.

Volgens ʼn artikel deur Maroela Media het sommige studente sedert 2024 geen terugvoer oor hul eksamens of opdragte ontvang nie, terwyl die aanlyn portaal waardeur opdragte en resultate gedeel word, ook onaktief is. Talle studente het al tienduisende rande betaal, maar het steeds geen bewys van ʼn kwalifikasie nie – jare se studies met niks om daarvoor te wys nie.

Volgens die RHO is Educor se instellings – insluitend Damelin, Lyceum College, City Varsity en ICESA City Campus – slegs voorwaardelik goedgekeur nadat hul finansiële state vir drie opeenvolgende jare ontbreek het. Die instellings moes as voorwaarde vir hul voorlopige goedkeuring onder meer maandeliks aan die departement verslag doen en kwartaalliks finansiële verslae indien. Daar is egter steeds geen bevestiging dat daar aan hierdie voorwaardes voldoen is nie.

Verskeie studente het intussen hul ontevredenheid op sosiale media uitgespreek oor die gebrek aan kommunikasie van die universiteite. Sommige studente wag al sedert 2017 vir bevestiging van kwalifikasies wat hulle glo reeds verwerf het.

Die Raad op Hoër Onderwys het bevestig dat ʼn ondersoek na Damelin se onderrigvoorsiening afgehandel is en dat aanbevelings in November oorweeg sal word.

Megan Meyer, organiseerder van die Studente-aanbod by Solidariteit, sê die situasie dien as ʼn ernstige waarskuwing vir huidige en voornemende studente:

“Die afgelope paar jaar se situasie by Damelin is ontstellend om te sien. Dit dien ongelukkig as ʼn waarskuwing aan studente wat hul studies ernstig opneem om vooraf navorsing te doen oor die instelling.

“Wanneer ʼn instelling nie sy verpligtinge kan nakom nie, raak dit nie net jou studies nie, maar ook jou finansies en toekomsdrome. Mense – oud en jonk – offer reeds baie op om te studeer, net om vasgevang te word by ʼn instelling met swak administratiewe en bestuursvermoë.”

Meyer moedig studente aan om navorsing te doen nie net oor ʼn instelling se reputasie nie, maar ook oor akkreditasie, finansiële stabiliteit en hoe lank dit al in die hoëronderwysbedryf is.

“Studente verdien instellings wat hulle met eerlikheid, deursigtigheid en respek behandel – en Suid-Afrika, spesifiek die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, behoort sterker meganismes in plek te hê om ons land se studente teen sulke teleurstellings te beskerm.”

Vir enige ondersteuning of navrae oor jou studies, besoek Solidariteit se Studente-aanbod. Hier vind jy #JouStem, bemeester jy #JouStudie en raak jy voorbereid vir #JouWerk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel