
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Dankie, Trump, maar ek wil graag bly
President Donald Trump se besluit om vlugtelingstatus aan Afrikaners toe te ken, wek gemengde emosies, maar die skrywer sien haarself nie as ʼn vlugteling nie. Sy kies om in Suid-Afrika te bly en vir haar en haar nageslag se toekoms te veg. Hier lê haar wortels, haar kultuur en haar mense – en sy is bereid om daarvoor te baklei. Lees die blog hier.
Deur Kyla-Ann du Toit
Mense is omtrent in rep en roer op sosiale media ná president Donald Trump se uitvoerende bevel om alle finansiële steun aan Suid-Afrika te beëindig en vlugtelingstatus aan Afrikaners toe te ken. Dat dit so gons op sosiale media is te verstane, want ek dink dit gaan gepaard met ʼn mengelmoes van emosies – onsekerheid, angs, woede …
Maar dit is vir my só vreemd om my kulturele identiteit aan die woord “vlugtelingstatus” gekoppel te hê. Afrikaans, skole, universiteite, gemeenskapsprojekte … die geskiedenis wys dan hoe Afrikaners uit die moeilikste oomblikke tot ʼn suksesvolle nasie gegroei het, en nou word ons as vlugtelinge beskou. Ja, dit is vir my vreemd, want ek koppel eerder woorde soos “suksesvol,” “passievol,” “braaf,” “vegters” en “bouers” aan my kultuurgemeenskap.
Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek verwelkom Trump se besluit en die internasionale druk wat dit op die ANC plaas. Dit is hoog tyd dat die wêreld sien wat agter toe deure hier in Suid-Afrika gebeur. Ek sê “toe deure” want ons “leiers” vermy dit mos maar om oor die werklike toestand van ons land op die internasionale verhoog te praat, en spesifiek oor die ontkenning van die absolute diskriminasie en rassisme teen wit mense as ʼn minderheidsgroep. Grondonteiening, plaasmoorde, rassewette, NGV en Bela –om maar net enkele voorbeelde te noem.
Trump nooi Afrikaners om ʼn heenkome in Amerika te vind – dankie, maar ek sê eerder “nee, dankie.” Die Afrikaner in my wil eerder veg vir my en my nageslag se voortbestaan in Suid-Afrika – nes my voorouers vir my gedoen het.
Solidariteit werk elke dag kliphard daaraan om vir my voortbestaan in my land te veg. Hulle veg vir my taal (Bela-wet); hulle bou skole en universiteite (Akademia, Sol-Tech en Gimnasium Pretoria); hulle veg teen korrupsie en diskriminerende beleide; hulle staan my as jong werkende by op my loopbaanpad deur gratis kursusse en werkfasilitering aan te bied; hulle gaan ook eendag my kinders op skool en as studente bystaan; en hulle bou aan ʼn toekoms vir my én my familie.
Ek weet vir ʼn feit my lewe in die VSA gaan nie dieselfde wees nie. ʼn Gewone dag in Suid-Afrika lyk dan tipies so: Dit is Saterdagmiddag. Die braaivleisvuur word aangesteek – ons braai verkieslik met hout. Die televisie word aangeskakel vir ʼn rugbywedstryd of ʼn Dricus-geveg. Die lekkerste steaken skaaptjoppies wat jy ooit sal eet word met speserye besprinkel en word op die kole gesit om te braai. Die kinders word geroep om te kom eet nadat hulle heeldag in die lekker somerweer geswem het – hulle moet wel eers hul voete was, want hulle het ook touchies op die grasperk gespeel en modderkoekies onder die boom “gebak”. Ek bel gou vir Ouma om op te vang terwyl sy in Struisbaai, die mooiste dorpie aan die suidpunt van Afrika, na die see sit en kyk. Ek lees in die media oor Solidariteit wat nóg ʼn hofstryd teen die regering gewen het en hul regspan wat wéér honderde duisende rande namens ʼn lid gewen het wat weens sy velkleur onbillik afgedank is. Ek ontvang foto’s van my man (hy is ʼn vlieënier) van Tafelberg en later ook van die Drakensberge ná sy dag by die werk. Slegs ʼn doodgewone dag in Suid-Afrika …
Dankie, Trump, maar ek wil graag hier bly. Suid-Afrika is my tuiste. Dit is hier waar ek elke dag hard werk om eendag vir my kinders te kan sorg. Dit is hier waar my familie en vriende woon. Dit is hier waar my voorouers hard baklei het vir waar ek vandag is. Dit is hier waar ek en jy, my mede-Afrikaner, hoort. Ek wil nie opgee nie. Ek wil graag bly en baklei. En jy?