loading
Artikels
1 jaar gelede
dekbrief-onderskei-jouself-so-van-ander-kandidate

Foto Krediet: OkayDeer

Dekbrief: Onderskei jouself só van ander kandidate!

Deur Karen Waldeck

Jy het dit reggekry! Jy het die perfekte CV opgestel, jou LinkedIn-profiel baai in al sy glorie, en jy is reg om die arbeidsmark te betree. Maar wag ʼn bietjie … Daar is nog een ding wat jou kan help om bo die massa ander kandidate uit te staan – jou dekbrief! Ja, dit is reg, daardie bladsy wat spreek van jou persoonlikheid en jou van die res te onderskei. Hier volg ʼn paar slim wenke om jou dekbrief woema te gee en jou te help om jou droomwerk los te slaan. Skep vandag nog jou dekbrief en doen aansoek vir werk in een klik op Solidariteit se werkportaal.

Jou dekbrief moenie net ʼn herhaling van jou CV wees nie.

Die dekbrief is jou kans om dieper in te gaan op wie jy as mens is en waarom jy perfek is vir die pos waarvoor jy aansoek doen. Dit moenie net ʼn opsomming van jou CV wees nie; vertel ʼn storie wat jou unieke vaardighede, ervaring en passie beklemtoon. As jy byvoorbeeld ʼn voorliefde vir data-analise het, deel ʼn kort voorbeeld met die leser van hoe jy ʼn uitdagende probleem deur middel van statistiese analise opgelos het en hoe jy só jou passie daarvoor ontdek het.

Hou dit kort en kragtig.

Onthou, diegene wat jou dekbrief lees, is waarskynlik besige mense. Maak dit maklik vir hulle deur duidelik en tersaaklik te wees. Hou jou dekbrief kort en kragtig – nie langer as een bladsy nie. Sê wat jy moet sê sonder om ʼn hele roman te skryf. Wees spesifiek oor waarom jy die perfekte passing vir die pos is en hoekom jy graag vir daardie spesifieke werkgewer wil werk.

Bewerkstellig ʼn persoonlike verband.

Deur ʼn bietjie van jou persoonlikheid te laat deurskemer, kan wonders doen om jou dekbrief te laat uitstaan. In plaas daarvan dat jy ʼn algemene brief stuur, probeer om ʼn bietjie meer oor die organisasie uit te vind en om iewers ʼn persoonlike verband te trek. Miskien het jy iets in gemeen met die persoon aan wie jy die brief rig, soos ʼn gedeelde belangstelling in bergklim, of ʼn voorliefde vir koffie. Moenie bang wees om ʼn bietjie kreatief te wees nie!

Toon jou kennis van die organisasie.

Niks bewys jou erns met jou aansoek meer as om om jou huiswerk oor die organisasie te doen nie. Bestee tyd daaraan om meer uit te vind oor die organisasie se missie, waardes en prestasies, en gebruik dan hierdie inligting om jou dekbrief te versterk. Bewys aan die potensiële werkgewer dat jy weet waaroor hulle gaan en dat jy ʼn waardevolle bydraer tot hul span wil wees.

Bewys dit met voorbeelde.

Laaste, maar nie die minste nie, ondersteun jou stellings deur konkrete voorbeelde te gee. As jy sê jy is ʼn goeie spanspeler, gee ʼn voorbeeld van hoe jy ʼn spanprojek suksesvol bestuur het. As jy jou probleemoplossingsvaardighede wil beklemtoon, verwys na jou ervaring met ʼn spesifieke uitdaging en hoe jy dit oorkom het. Bewyse is kragtig, en dit maak dat jou aansoek meer is as net leë woorde is.

Jou dekbrief is jou kans om jouself te laat uitstaan en jou van die res te onderskei. Maak dit interessant, maak dit persoonlik, en maak dit ʼn weerspieëling van wie jy as ʼn persoon en ‘n werknemer is. As jy dit regkry, kan dit die verskil maak tussen ʼn “nee” en ʼn “ja” om jou droomwerk te kry. Skryf dus jou dekbrief met selfvertroue en gaan kry daardie droomwerk!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel