Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Denel is ʼn etiese leierskapsmislukking by a strategiese verdedigingsbate: Solidariteit
Solidariteit het ernstige kommer uitgespreek ná mediaberigte deur Rapport en City Press wat verwys na ʼn vertroulike forensiese verslag wat na bewering hernieude korrupsie en wanadministrasie by Denel SOC Ltd blootlê.
Hoewel die onlangse gebeure rondom die byna nie-betaling van salarisse by Denel PMP en Denel Dynamics uiters ontstellend is, beklemtoon Solidariteit dat hierdie saak veel verder strek as bloot ʼn betaalstaat risiko.
Derek Mans, Solidariteit se koördineerder vir verdediging en lugvaart, sê dit is nou duidelik dat dit ʼn sistemiese mislukking van etiese leierskap en bestuur by ʼn strategiese staatsonderneming in die verdedigingsbedryf is.
“Denel bestaan om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te ondersteun in die uitvoering van sy grondwetlike mandaat om die soewereiniteit en veiligheid van die Republiek te beskerm. Om hierdie rede moet die optrede van Denel se uitvoerende bestuur bo verdenking wees.
“Bewerings van gekoördineerde wangedrag, indien bewys, verteenwoordig nie net ʼn verraad teenoor werknemers en belastingbetalers nie, maar ook ʼn direkte bedreiging vir institusionele geloofwaardigheid en die nasionale belang,” sê Mans.
Hierdie berigte is veral kommerwekkend in die lig van Denel se onstuimige onlangse verlede, wat reeds deeglik gedokumenteer is.
Die jongste verwikkelinge volg ook op jare se versekering aan die parlement dat Denel besig was om te stabiliseer ná staatskaping, bestuursineenstorting en herhaalde omkeerstrategieë. Beduidende openbare fondse is aan hierdie proses bestee, insluitend onlangse ondersteuning aan Denel PMP.
Mans sê werknemers staar steeds onsekerheid, reputasieskade en operasionele onstabiliteit in die gesig.
“Solidariteit is van mening dat Denel nie langer toegelaat kan word om sonder beslissende gevolgbestuur te funksioneer nie. Bewerings van ʼn klein groepie wat as ʼn kliek binne die maatskappy optree, tref die kern van fidusiêre verantwoordelikheid en openbare vertroue, sê hy.
Solidariteit het die Denel-raad formeel versoek om:
- die Groep- uitvoerende hoof, Groep- fniansiële hoof en enige ander betrokke amptenare onmiddellik op voorsorgskorsing te plaas;
- volle samewerking met wetstoepassingsagentskappe te verseker; en
- beslissend op te tree om etiese bestuur en institusionele geloofwaardigheid te herstel.
Mans beskryf hierdie as ʼn bepalende oomblik vir die nuwe Raad.
“Etiese leierskap is nie opsioneel nie, en enige verdere vertraging sal die krisis net verdiep. Werknemers en belastingbetalers het reeds ʼn te hoë prys betaal.
“Solidariteit sal die verwikkelinge noukeurig monitor en sal nie huiwer om die saak deur regs-, parlementêre en openbare kanale te eskaleer nie, indien beslissende optrede nie volg nie.”