Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
President Ramaphosa mis geleentheid om SA se onverbonde buitelandse beleid te herbevestig
President Ramaphosa het tydens sy jaarlikse Staatsrede ʼn belangrike geleentheid misgeloop om Suid-Afrika se historiese buitelandse beleid van onverbondenheid te herbevestig.
Die Suid-Afrikaanse regering se onlangse groot buitelandse beleidsmislukkings het ernstige vrae laat ontstaan oor die land se beweerde onverbonde status. Suid-Afrika se noue bande met lande soos Iran, Rusland, China, Venezuela en Kuba – wat almal vyandiggesind is teenoor Westerse lande en in besonder die VSA – skep toenemend probleme vir die land en kan in 2026 tot politieke en selfs ekonomiese isolasie lei.
President Ramaphosa het tot aan die einde van sy toespraak gewag om oor Suid-Afrika se buitelandse beleid te praat. Hoewel daar breedvoerig verwys is na Suid-Afrika se posisie in Afrika en die land se verbintenis tot basiese internasionale beginsels, is die olifant in die vertrek – naamlik Suid-Afrika se gespanne verhouding met die VSA – grootliks vermy.
Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare en internasionale skakeling by Solidariteit, is dit noodsaaklik dat president Ramaphosa Suid-Afrika se buitelandse beleid duidelik moet verduidelik en ʼn samehangende benadering tot die land se rol in internasionale betrekkinge moet aankondig. “Ongelukkig het president Ramaphosa vroeg in sy toespraak ʼn onnodige aanval op die Amerikaanse regering geloods, wat hy weer aan die einde herhaal het. Sy slotsom oor Suid-Afrika se buitelandse beleid was grootliks beperk tot ʼn fokus op die G20-beraad, verhoudinge in Afrika en Suid-Afrika se solidariteit met ou bondgenote soos die Palestyne en Kuba. Ramaphosa kon meer doeltreffend na ál Suid-Afrika se bondgenote uitgereik het. Terwyl byna elke element van regeringsbeleid tydens die SONA aangespreek is, is daar heeltemal te min oor problematiese buitelandse beleide en internasionale betrekkinge gesê.”
Volgens Kleynhans het Solidariteit president Ramaphosa juis versoek om in vanjaar se Staatsrede te verduidelik hoe Suid-Afrika van voorneme is om sy onverbonde status te herbevestig. “Suid-Afrika se buitelandse beleid het nie die land se ekonomiese belange die afgelope tyd gedien nie – dit het dit eerder teengewerk. Ons het gehoop dat ʼn sterk en noodsaaklike boodskap aan die buiteland gestuur sou word dat Suid-Afrika nie in globale konflikte of magstryde ingetrek sal word nie, maar dat die land, as ʼn onverbonde staat, gesonde betrekkinge met soveel moontlik lande sal handhaaf, met die oog op die bevordering van stabiele betrekkinge wat tot wedersydse handel en beleggings kan lei. Dit het egter nie gebeur nie, en daarom was die SONA ʼn verspeelde geleentheid.”