loading
avatar
Artikels
7 uur gelede
waarom-word-net-afrikaans-as-sauk-speelbal-gebruik

Foto Krediet: Verskaf

Waarom word net Afrikaans as SAUK-speelbal gebruik?

Deur Kyla-Ann du Toit

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se besluit om die Afrikaanse TV-nuus na ʼn later tydgleuf, en selfs na ʼn ander kanaal, te skuif, het destyds groot ontevredenheid ontlok. Gewilde Afrikaanse programme is terselfdertyd beëindig, sonder volhoubare vervanging met nuwe Afrikaanse reekse om dié leemte te vul. Sommige kykers het noodgedwonge hul kykgewoontes aangepas, terwyl ander eenvoudig na alternatiewe kanale, soos e.tv en kykNET verskuif het.

Die staatsbeheerde uitsaaikorporasie se onlangse aankondiging dat die Afrikaanse TV-nuus weer sewe dae per week om 18:30 op SABC 2 uitgesaai sal word, is as ʼn oorwegend positiewe skuif vir Afrikaanssprekende kykers verwelkom.

Ná bykans twee jaar van wisselende uitsaaitye, kanaalskuiwe en die afskaal van gewilde Afrikaanse programme, erken die openbare uitsaaier nou dat sekere besluite verkeerd was.

Terselfdertyd het die SAUK ʼn nuwe Afrikaanse telenovelle, Paradys, bekendgestel, met die belofte van ʼn daaglikse kykblok van ʼn uur. Volgens die SAUK vorm hierdie stap deel van ʼn poging om stabiliteit te herstel en kykers terug te lok. Hulle erken ook dat besluite om die nuus te skuif, nie voldoende marknavorsing in ag geneem het nie.

Dit is mos maar nie altyd so maklik om jou trots te sluk nie.

Volgens die SAUK is SABC 2 nou weer die “tuiste van Afrikaans”. Die vraag is egter of dit nie dalk ʼn geval van te min, te laat is nie?

“Gebeur dit op ander tale se kanale ook, of is dit net Afrikaanse kanale?”

“Wie kyk of luister nog enige iets op SABC? Lankal die betalers weggejaag …”

“Julle kruip gat by die Afrikaanssprekendes om geld te kry, want dit is hulle wat getrou lisensies betaal het.”

“Hulle is nie regtig jammer nie. Hulle is net bekommerd oor die geld wat hulle verloor het, en nog gaan verloor.”

Dít is slegs enkele van die kommentare op platforms soos Maroela Media en Netwerk24 ná die SAUK se ommeswaai en die terugskuif van die Afrikaanse TV-nuusbulletin na sy oorspronklike tydgleuf.

Volgens Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, is hierdie terugskuif van die nuus ʼn belangrike stap in die regte rigting. Sy meen dat dit bevestig dat daar steeds ʼn duidelike behoefte is aan konsekwente, betroubare Afrikaanse inhoud op openbare televisie.

“Herhaalde veranderinge het egter kykersvertroue geskaad,” sê sy. “As taaldiversiteit werklik ondersteun wil word, moet dit op ʼn stabiele, goed beplande en navorsingsgebaseerde manier geskied.”

Die impak van hierdie onsekerheid strek verder as net kykers. Wanneer Afrikaanse programme gekanselleer of rondgeskuif word, raak dit natuurlik ook akteurs, joernaliste, redakteurs, tegniese spanne en bemarkers direk. Projekte word gestaak, inkomste raak onseker en jong werkendes in dié bedryf verloor broodnodige geleenthede om ervaring op te doen.

Ferreira wys daarop dat ʼn vaste nuus- en vermaakskedule nie net kykers gerusstel nie, maar ook stabiliteit vir die bedryf skep. Dit ondersteun langtermynbeplanning, bevorder advertensie-inkomste en skep netwerkgeleenthede vir klein ondernemings en vryskutwerkers. In ʼn reeds kompeterende media-omgewing kan inkonsekwentheid jou duur te staan kom.

Die groter vraag bly egter of die huidige ommeswaai werklik ʼn koersverandering aandui, en of dit bloot ʼn reaksie op dalende kykersgetalle en finansiële druk is. Afrikaanssprekendes is lojaal, maar nie onvoorwaardelik lojaal nie. Vertroue wat eenmaal geskend is, word nie oornag herstel nie.

Is die SAUK se nuwe, “hoopvolle” siening oor die waarde van Afrikaanse TV-programme iets wat gaan bly? Miskien het hulle uiteindelik besef dat Afrikaanse kykers se ondersteuning – en hul beursies – nie ligtelik op die spel geplaas kan word nie, selfs te midde van druk vir “transformasie” op ons skerms.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel