Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Staatsrede: Voorneme oor SEB, korrupsie en dienslewering is betekenisloos sonder optrede
Sonder bewyse van daadwerklike optrede, kan Solidariteit nie anders as om president Cyril Ramaphosa se groot regeringsvoorneme, soos vermeld tydens sy tiende Staatsrede, as net nóg leë verkiesingsbeloftes te beskou nie.
In sy toespraak het die president planne vir ʼn “beter Suid-Afrika” aangekondig, wat selfs die hersiening van swart ekonomiese bemagtigingswetgewing (SEB) insluit. Dié hersiening blyk egter daarop gemik te wees om SEB te “herbelyn en versterk”, eerder as om die beleid wesenlik te heroorweeg of af te skaf.
Sonder om die rampspoedige gevolge van die SEB-beleid vir die Suid-Afrikaanse ekonomie te erken, dien enige sogenaamde hersiening geen werklike doel nie. Terselfdertyd ontbreek daar steeds konkrete ingrypingsplanne vir die krisisse in talle bedrywe, waar grootskaalse afleggings werkers en gemeenskappe met hul hande in hul hare laat.
Volgens Pieter Jordaan, bestuurder van nuus en publisiteit by Solidariteit, sal Suid-Afrikaners ook moeilik oortuig word deur president Ramaphosa se spogpraatjies oor die regering se aandeel in die herlewing van passasierspoorvervoer, die verbetering van paaie en damme, asook die oprigting van sonplase.
“Oor die president se groot beloftes van ingryping op verskeie vlakke, sal wantrouende Suid-Afrikaners waarskynlik koppe skud en vra: ‘Waarom nóú eers?’” sê Jordaan.
Hierdie voornemens sluit onder meer in: verbeterde teenkorrupsie-optrede; meer verantwoordelike munisipale bestuur sonder politieke inmenging; verhoogde beleggings in infrastruktuur; drastiese ingryping in veral waterinfrastruktuur om die waterkrisis te hanteer; én skielike planne om staatshospitale en -klinieke te laat herleef.
In die onderwyssektor, verduidelik Jordaan, bly befondsing tans die grootste struikelblok. Dit moet eers aangespreek word om te verseker dat vorige Staatsrede-planne, soos die verpligte instelling van graad R, nie bloot lugkastele bly nie.
“Met die plaaslike verkiesing om die draai, tesame met die regering se swak reputasie op byna elke vlak, staan Solidariteit en talle Suid-Afrikaners tereg skepties oor hierdie beloftes,” sê Jordaan.
Volgens hom kan realistiese planne, soos die ondersteuning van kleinsakeondernemings deur die afskaffing van onnodige regulasies, wesenlike ekonomiese waarde toevoeg.
“Daarteenoor skep ambisieuse projekte, soos die voorgestelde sneltrein van Johannesburg na Musina, verdere twyfel oor die erns en uitvoerbaarheid van baie van die president se ander beloftes. Terselfdertyd boesem president Ramaphosa se aankondiging van nóg duur inisiatiewe min vertroue in. Dit sluit onder meer die hervorming van die strafregstelsel, die beoogde stigting van ʼn nuwe nasionale waterhulpbronagentskap, asook die oprigting van ʼn staatseiendomsmaatskappy in,” sê Jordaan.
Jordaan meen Suid-Afrikaners glo nie meer in die ANC-geleide regering se nuwe “voertuie” vir verandering, of sy herhaalde beloftes nie. “Dit is selfs so nadat president Ramaphosa uiteindelik erken het dat munisipaliteite lamgelê word deur ʼn kultuur van patronaatskap, eerder as tegniese kundigheid en meriete.”
Hy sluit af dat dieselfde probleem ook op nasionale vlak geld. President Ramaphosa se verwysing na die ANC se 30 jaar regeringservaring as grondslag van verbetering op plaaslike regeringsvlak, wek eerder kommer as vertroue by gemeenskappe regoor Suid-Afrika – gemeenskappe wie se vertroue in die regering tans op ʼn laagtepunt is.