Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Denel PMP: Spesialiste en kenners moet ʼn stem hê voordat besluite geneem word
Die proses om ʼn strategiese vennoot vir Denel se Pretoria Metal Pressings (PMP) te vind, kan ʼn keerpunt wees vir dié strategies belangrike onderneming én vir die hoogs geskoolde werknemers wie se kennis en ervaring PMP steeds laat funksioneer.
Solidariteit verwelkom die moontlikheid van geloofwaardige privaat investering in PMP. Ná jare van onsekerheid, finansiële druk en bedryfsprobleme het PMP investering, nuwe tegnologie, kundigheid, marktoegang en, bowenal, ʼn volhoubare bedryfsmodel nodig.
Die regte strategiese vennoot kan help om PMP weer op sy voete te kry.
Maar daar is een bate wat geen nuwe belegger eenvoudig kan koop of vervang nie: die mense wat oor jare die besondere tegniese kennis opgebou het om hierdie hoogs gespesialiseerde onderneming veilig en doeltreffend te laat funksioneer.
Onder hulle is Solidariteit-lede. Hulle is vakmanne, ingenieurs, tegnici en ander spesialiste wat nie bloot nóg werknemers op ʼn betaalstaat is nie. Hulle beskik oor institusionele kennis van PMP se toerusting, prosesse, produkte en veiligheidsvereistes wat oor baie jare opgebou is.
Dit is juis hierdie kennis wat uiters moeilik is om weer op te bou wanneer dit eenmaal verlore is. Hulle is daarom deel van PMP se strategiese vermoë.
Daarom kan Solidariteit se lede by Denel nie bloot toeskouers wees terwyl besluite oor PMP geneem word nie. Dit is immers ook ʼn besluit oor hul eie toekoms.
Ons lede het PMP se moeilike jare help dra. Die kundigheid wat vandag nog by PMP bestaan, het ondanks buitengewoon moeilike omstandighede behoue gebly.
Ons lede en hul kollegas het jare van onsekerheid, bestuursprobleme, bedryfsonderbrekings, veiligheidskwessies en onstabiliteit met betrekking tot salarisse beleef. Talle hoogs geskoolde werknemers het reeds die onderneming verlaat. Die spesialiste wat gebly het, dra gevolglik ʼn al hoe groter deel van die institusionele kennis waarop enige toekomstige herstel van PMP sal berus.
Dit is waarom ʼn toekomstige belegger nie net na PMP se geboue, masjiene, infrastruktuur en markpotensiaal kan kyk nie. Hy moet ook kyk na die mense wat weet hoe om dit alles te laat werk.
Dit is om hierdie rede dat Solidariteit namens ons lede ʼn betekenisvolle stem in hierdie proses eis. Solidariteit het Denel ook reguit hieroor gevra.
In ʼn skrywe aan Denel se direksievoorsitter en uitvoerende hoof het Solidariteit gevra hoeveel belangstelling van potensiële beleggers ontvang is en wanneer Denel met Solidariteit sou vergader oor die proses en die volgende stappe.
Ons uitgangspunt was van meet af eenvoudig: Wanneer ʼn proses die werksekerheid en toekoms van ons lede én die behoud van skaars, strategiese vaardighede kan bepaal, móét hul stemme gehoor word voordat besluite geneem word.
Denel het intussen erken dat Solidariteit ʼn belangrike belangegroep in die toekoms van PMP en sy werknemers is en hom tot konstruktiewe en betekenisvolle gesprekvoering met georganiseerde arbeid verbind.
Ons verwelkom dit. Maar om as ʼn belangegroep erken te word en om werklik ʼn betekenisvolle rol as belangegroep te speel, is nie noodwendig dieselfde ding nie.