Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Departement mors geld om sý mislukkings toe te smeer, terwyl duisende weerloses ly
Leré Nel
Noordwes se LUR vir maatskaplike ontwikkeling het die lewensaar van nege niewinsgewende organisasies (NWO’s) afgesny omdat daar glo “nie fondse beskikbaar is” nie.
Toe hierdie organisasies die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) hof toe gesleep het oor hierdie eensydige besluit, het die DMO nie geskroom om staatsfondse te gebruik om senior regsverteenwoordiging te bekom om die saak te beveg nie.
Die Mahikeng-hooggeregshof het die DMO se besluit tersyde gestel en gelas dat die organisasies wél binne tien dae befonds moet word. Die uitspraak het beklemtoon dat sowat 26 000 mense – meestal kinders tussen 18 maande en 16 jaar oud – deur die befondsingsbesluit geraak is. “Dit is ironies dat die DMO genoeg geld het om sy onskuld te probeer bewys in onnodige hofgedinge, maar nie om organisasies te befonds wat hoofsaaklik kinderbeskermingsdienste lewer en die mees weerloses ondersteun nie,” sê Bianca Smit, koördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.
“Op papier pronk die DMO se webtuiste met ʼn edele doel: om na die land se mees weerloses om te sien. In die praktyk gebruik hulle egter belastingbetalers se geld om hulself te verdedig, eerder as om hul mandaat uit te voer.”
Hendriëtte van Huyssteen, die Demokratiese Alliansie (DA) se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling in Noordwes, meen die probleem is nie so eenvoudig soos ʼn tekort aan geld nie.
“Daar is inderdaad onvoldoende fondse aan die departement van maatskaplike ontwikkeling toegeken deur die uitvoerende gesag in Noordwes. Dit verminder egter nie die behoefte nie,” sê Van Huyssteen.
“Die onus rus op die departement om sy werklike finansiële behoeftes te kommunikeer wanneer hul jaarlikse operasionele planne voorgelê word, om te verseker dat voldoende fondse toegeken word. Die departement het oor die jare heen hierdie plig – en die befondsingsbehoeftes van NWO’s – verwaarloos deur nie die werklike behoeftes in hul jaarlikse operasionele planne te weerspieël nie.
“Die LUR en haar departement kan nie van blaam onthef word nie. Hulle het gedink hulle sal daarmee kan wegkom om NWO’s en die kwesbaarstes in ons gemeenskappe straffeloos te vertrap.
“Die feit dat daar nie fondse vir hierdie NWO’s beskikbaar is nie, is te wyte aan die LUR en haar departement se onvermoë om dit by hul befondsingsbehoeftes in te reken.”
Van Huyssteen sê die hofsaak weerspieël ʼn patroon van wanbesteding, administratiewe wanpraktyke en die “politieke agenda van die dag”, wat dikwels dienslewering ondermyn.
“Hierdie optrede deur die DMO weerspieël die neiging van lede van die regerende party in Noordwes, die ANC, om hulself in ’n uitvoerende rol te vestig wanneer hulle die posisie van ʼn LUR inneem.
“Hulle is eenvoudig uit voeling met die behoeftes van die man op straat en sal tot die uiterste gaan om die ANC se plan van die dag uit te voer. Daar is ook ʼn algehele houding van ‘as jy ʼn probleem het, vat my hof toe,’” meen Van Huyssteen.
Dit is kommerwekkend dat rigtinggewende dokumente soos die Sektor Befondsingsbeleid bloot geïgnoreer word, omdat dit nie by die “plan van die dag” inskakel nie.
Volgens Van Huyssteen is daar reeds sprake vanuit ANC-binnekringe dat die uitspraak moontlik op appèl geneem sal word. So ʼn stap sou onsinnig wees – bloot ʼn vertragingstaktiek. Dit sal boonop bykomende fondse vermors – fondse wat die DMO beweer hulle nie oor beskik nie.
Die hof het bevind dat die departement geen duidelike plan voorgelê het wat uiteensit hoe dienste aan sowat 26 000 kinders en ander kwesbare persone voortgesit sou word indien die NWO’s nie befondsing ontvang nie.
Van Huyssteen waarsku dat die werklike impak veel groter kan wees:
“Die geskatte 26 000 individue wat geraak word, is slegs gebaseer op die applikante in hierdie saak. Hierdie 26 000 individue bestaan uit persone wat maatskaplike dienste benodig en wat direk of indirek ondersteuning van die betrokke NWO’s sal ontvang. Indien ons die net wyer span, sal die getal die hoogte in skiet.”
Van Huyssteen moedig ander NWO’s wie se befondsing ook gesnoei of geweier is aan om dieselfde roete te volg as hierdie applikante, aangesien kommer bestaan dat die DMO sal voortgaan om fondse van ander NWO’s te onttrek wat nie deel van die aansoek was nie, om hierdie nuwe befondsingstekort te verreken.
Smit merk op dat NWO’s elke jaar hul asems ophou wanneer subsidiebetalings nader kom.
“Elke jaar is daar laat betalings – of, soos in sommige gevalle, géén betaling nie. Geen vooraf waarskuwing nie. Geen duidelike rede nie. Geen aanspreeklikheid nie. Tog word daar van hierdie organisasies verwag om stiptelik en volledig aan elke administratiewe en verslagdoeningsvereiste te voldoen. Enige vertraging van hul kant word summier aangespreek. Is dit nie die definisie van dubbele standaarde nie?”
Smit voer aan dat die summiere onttrekking van ʼn subsidie sonder enige waarskuwing verwoestend is. “Dit raak nie net die weerlose mense wat op hierdie dienste staatmaak nie, maar ook die maatskaplike werkers wat daagliks in moeilike omstandighede werk,” verduidelik sy. “Dit is ma’s en pa’s met gesinne om te onderhou – professionele persone wat skielik sonder ʼn inkomste gelaat word en afleggings in die gesig staar, alles as gevolg van roekelose of ondeurdagte finansiële bestuur.”
Wanneer fondse wat vir dienslewering bestem is na arbitrêre regsprosesse herlei word, moet ernstige vrae gevra word oor prioriteite en die staat se werklike verbintenis tot die beskerming van Suid-Afrika se kwesbaarstes.