![departement-van-onderwys-meng-onregmatig-in-by-pretoria-high-school-for-girls](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2024/08/Promo-Facebook-Facebook-link-image-19.jpeg)
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Departement van Onderwys meng onregmatig in by Pretoria High School for Girls
Deur Heléne Mocke
Solidariteit waarsku dat die onlangse gebeure by die Pretoria High School for Girls al meer na politieke inmenging lyk en dat die gevaarligte al hoe rooier flikker.
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, het in ʼn videogesprek met Maroela Media sy kommer uitgespreek oor die optrede van die Gautengse Onderwysdepartement in die hantering van ʼn omstrede rassevoorval by Pretoria High School for Girls. Volgens Van der Bijl oorskry die departement sy magte deur bykomende ondersoeke na bewerings oor rassisme te begin, al het die skool se beheerliggaam reeds ʼn ondersoek gedoen en afgehandel.
Van der Bijl het sy standpunt verduidelik en gesê hoewel die onderwysdepartement altyd ʼn rolspeler sal wees, gaan hulle bykomende ondersoek in hierdie saak té ver en oorskry hulle hul magte. “Ons moet dit sien vir wat dit is – ʼn spul politiekery met ons kinders se toekoms,” sê hy.
Hy het verder verduidelik die skool se beheerliggaam hét op ʼn regmatige wyse opgetree en die ondersoek ís behoorlik afgehandel. Van der Bijl meen die onderwysdepartement se bykomende ondersoek is ʼn poging van Panyaza Lesufi en sy trawante om rassisme aan ʼn alledaagse gebeurtenis te koppel.
“Die kwansuise mikro-aggressie wat plaasvind, is ook ʼn gevaarlike term om te gebruik,” het Van der Bijl gewaarsku.
“As alledaagse gebeure as rassistiese mikro-aggressie bestempel word, kan dit lei tot ʼn situasie waar owerhede die ‘rassekaart’ te eniger tyd en op elke plek kan speel. Dit het die potensiaal om ʼn gevaarlike neiging te word wat uiteindelik skadelik vir die toekoms van kinders kan wees.”
Solidariteit se kommer spruit uit die oortuiging dat politieke agendas die ware doelwitte van onderwys en die bevordering van ʼn veilige en regverdige skoolomgewing kan ondermyn. Van der Bijl meen die noodsaaklikheid van oordeelkundigheid en balans in die hantering van sensitiewe kwessies soos rassisme is daarom uiters belangrik.
Die idee is ook om die werklike behoeftes van die kinders en die gemeenskap te prioritiseer.