![die-anc-het-weer-histeries-op-trump-se-bevel-gereageer](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Promo-Facebook-Facebook-link-image-8.jpeg)
Foto Krediet: Reint Dykema
Gekopieër
Die ANC het wéér histeries op Trump se bevel gereageer
Die onlangse reaksie teenoor pres. Trump se uitvoerende bevel het omtrent uiteenlopende gevoelens by Suid-Afrikaners uitgelok. Solidariteit verwelkom die internasionale druk, maar streef na ‘n toekoms in ons eie land. Lees dr. Dirk Hermann se boodskap hieronder. Deel dit wyd – die waarheid moet uit.
Deur dr. Dirk Hermann
Hier is die feite.
1. Die ANC se jarelange roekelose binnelandse en buitelandse beleid het Amerika van ons vervreem en nou word die Solidariteit Beweging daarvoor blameer.
2. Die Solidariteit Beweging, insluitend Solidariteit en AfriForum, het oor die jare heen buitelandse skakeling gedoen en die waarheid meegedeel. Daar was geen waninligting gedeel nie.
3. Ons het alle interne roetes gevolg, insluitend hofsake wat tot in die Konstitusionele Hof gehoor is. Ons het ook internasionale forums soos die Internasionale Arbeidsorganisasie benut en sukses behaal. Tog het die ANC net voortgegaan.
4. Dit is ʼn belediging vir Amerika se intelligensiediens en diplomatieke korps om te beweer dat ʼn burgerlike organisasie die wêreld se grootste ekonomie mislei het. Dis onsin.
5. Die ANC se histeriese reaksie bevestig eerder die totale ineenstorting van die regering se diplomatieke vermoë.
6. President Trump se uitvoerende bevel plaas die wêreld se soeklig op die ANC se mislukkings en ideologiese foutlyne, maar die ANC luister steeds nie en blameer net.
7. Ons verwelkom president Trump se besluit en is dankbaar dat die wêreld se aandag nou op die ANC en sy diskriminasie, spesifiek teen Afrikaners, gevestig is.
8. Rassediskriminasie het ʼn norm geword en dis ʼn onreg. En ʼn onreg wat genormaliseer word, is ʼn selfs groter onreg.
9. Die ANC het rassediskriminasie toegedraai in ʼn dekmantel van mooi woorde soos “gelykheid”, “billikheid” en “diversiteit”. President Trump het die dekmantel afgeruk en gewys dat dit onregverdig is.
10. Afrikaners voel soos bannelinge in hul eie land. President Trump gee erkenning hieraan. Die ANC het nie net die VSA vervreem nie, maar ook Afrikaners. Rassediskriminasie oor die jare heen is een rede, maar die ANC se voortdurende onbevoegdheid en onlangse skandalige optrede oor Bela is verdere voorbeelde.
11. Hoewel president Trump erkenning gee aan Afrikaners deur vlugtelingstatus, is dit net vir enkeles ʼn oplossing. Afrikaners as ʼn gemeenskap moet op groot skaal opstaan om ons te bevry van vlugtelingstatus aan die suidpunt van Afrika.
12. Ons doen ʼn beroep op president Trump en sy administrasie om die druk op Suid-Afrika te handhaaf terwyl ons teen roekelose beleidsrigtings, soos die ANC se rasmalheid, veg.
13. Solidariteit gaan in die komende dae ʼn massavergadering met sy lede hou om ʼn mandaat te verkry vir ʼn omvattende veldtog om alle Suid-Afrikaners te bevry van die las van ras. Diegene wat die prys betaal, is almal behalwe ʼn klein groepie swart elite.
14. Hierdie veldtog sal plaaslike druk en regsaksie insluit, asook verdere buitelandse druk en grootskaalse bouwerk om ons jong mense toe te rus met die beste kennis en vaardighede.
15. Intussen sal die Solidariteit Beweging, insluitend Solidariteit en AfriForum, voortgaan met buitelandse skakeling, soos tot dusver gedoen. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, vertrek hierdie maand nog na Amerika vir skakeling met die Withuis en ander belangrike rolspelers.