![dirk-vra-en-julle-deel-die-ses-standpunte-oor-trump](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Featured-Image.jpg)
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Dirk vra, en julle deel dié ses standpunte oor Trump
Pres. Donald Trump, die magtigste man ter wêreld, teken ʼn uitvoerende bevel en noem Afrikaners herhaaldelik by die naam. Dit was merkwaardig. Die magtigste man ter wêreld sien dit raak dat ons geboelie word. Iemand sien ons raak! Dirk Hermann nooi volgers uit om hul opinie te lug en hier is sy gevolgtrekking:
Ek kon agterkom daar is iets wat onder ons mense vibreer – ʼn diepe dankbaarheid vir die erkenning. Ek het ook sommer lekker gevoel
Ek wou meer weet oor ons mense se gevoelens en het julle, my FB-vriende, gevra hoe julle gevoel het toe julle die eerste keer van die bevel gehoor het.
Meer as 400 mense het in ʼn japtrap geantwoord. Ek het die antwoorde volgens temas ingedeel.
Mense is oorweldigend positief, en hier is wat julle gesê het:
Tema 1: Dankbaarheid en hoop
Baie mense is dankbaar dat Trump die situasie in Suid-Afrika erken en as ʼn invloedryke leier optree. Dit kan selfs beskryf word as ʼn diep, intense dankbaarheid. Dit bring ʼn hernude gevoel van hoop vir regverdigheid, verandering en ʼn beter toekoms.
“Baie dankbaar dat daar iemand is wat wakker geword het en begin sien wat hier aangaan!”
“Dankbaar! So vreeslik dankbaar dat President Trump hom bemoei met SA.”
Tema 2: Onsekerheid en vrees vir gevolge
Daar is ʼn besef dat Trump se betrokkenheid moontlik ernstige gevolge kan hê. Mense is bekommerd oor hoe die Suid-Afrikaanse regering en internasionale gemeenskap sal reageer, en hoe dit hul lewe direk kan beïnvloed.
“Versigtig opgewonde. Ek besef dat ʼn mens dalk opgewonde kan wees omdat die onregverdigheid raakgesien word, maar terselfdertyd vrees ek hoe dit ons, ‘onskuldige mense,’ gaan raak.”
Tema 3: Regverdigheidsgevoel en frustrasie oor onreg
Daar is sterk gevoelens van onregverdigheid teenoor Afrikaners, veral oor grondbesit, plaasmoorde, SEB en diskriminasie. Baie voel dat hul bydrae tot die land nie erken word nie en dat hulle doelbewus onderdruk word. Die wêreld moet dit weet.
“Die wêreld moet weet! Dit is totaal onaanvaarbaar dat ons in ons eie land, wat ons gebou het, só behandel moet word.”
Tema 4: Godsdiens en gebed as kragbron
Verskeie mense sien hierdie gebeure as ʼn antwoord op hul gebede en glo dat God in beheer is. Hulle beskou Trump se optrede as moontlik ʼn goddelike ingryping en plaas hul hoop op gebed en geloof.
“Ons bid nie verniet nie. God bly in beheer, ons moet net GLO.”
Tema 5: Stryd vir selfstandigheid, identiteit en erkenning
Daar is ʼn duidelike begeerte vir selfbeskikking, onafhanklikheid en erkenning van Afrikaners se identiteit. Baie voel dat die idee van ʼn “reënboognasie” misluk het.
“Omdat dit die eerste keer sedert 1994 is dat ʼn prominente wêreldleier die Afrikaner se bestaan amptelik erken en respekteer, gee dit hoop.”
“Die reënboognasie het misluk.”
Tema 6: Verskeurdheid oor emigrasie en die toekoms
Alhoewel sommige Trump se hand van vriendskap en moontlike emigrasiegeleenthede verwelkom, wil baie mense eerder in Suid-Afrika bly en hier veg vir ʼn toekoms. Daar is ʼn interne stryd tussen die begeerte om weg te kom onder die ANC en die hoop om ʼn beter toekoms in hul eie land te bou.
“Lekker, maar ek wil eerder in my land bly. Dankbaar, want daar is uitkoms, maar ek wil eerder weer in ʼn land bly waar ek vry kan wees met my eie gewoontes en waardes.”
Dankie vir almal se insette. Dit help my ook om te verstaan.
Dr. Dirk Hermann
Bestuurshoof van Solidariteit