![ons-boodskap-is-eenvoudig-rassewette-moet-weg](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Dirk-Rassewette.png)
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Ons boodskap is eenvoudig: Rassewette moet weg!
In 1998 is Suid-Afrika se raswet in die werkplek aanvaar. Ek onthou nog hoe ek en ʼn paar lede die minister se kantoor beset het. Ons is rassiste wat teen die nuwe bedeling veg, genoem. Ons het egter die Wet gelees en gesien wat dit beteken. Eskom was op die voorpunt van rassetransformasie. Ons eerste groot rassaak, wat ons gewen het, was in April 2000 namens ʼn Eskom-werknemer Sarita van Coller. Vandaar het ons aanhou veg – die Renate Barnard en Korrektiewe Dienste-sake. Die nietigverklaring van die SAPD-rasplan. In 2018 wen ons ʼn saak in die Konstitusionele Hof namens likwidateurs oor rassekwotas. Ons het klagtes teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies ingedien. Twee jaar gelede het ons ʼn groot deurbraak gemaak en ʼn skikking met die regering onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie bereik. Ná dit het ons vier sake teen die SAPD gewen waarin dié skikking ʼn groot rol gespeel het. Dan was daar sake soos die Schweizer-juffrou Elana Barkhuizen en nog talle oor vals klagtes van rassisme. Vir baie mense het ons ʼn verskil gemaak, maar die rasmal regering hou net aan. Hulle is teen die internasionale norme van rasseprogramme. Dis ʼn epiese stryd en ons sal nie ophou veg nie.
Toe gebeur iets onverwags. President Donald Trump teken ʼn uitvoerende bevel en wys spesifiek op Suid-Afrika se diskriminerende rasbedeling.
Vir lank het Suid-Afrika sy rasseprogramme verpak in mooi woorde soos gelykheid, billikheid en diversiteit.
Trump ruk daardie politiek-korrekte verpakking af en sê dit is sleg. Hy is 100% in die kol. Niks daaraan is vals nie. Die raskeiser is kaal. Skielik skyn die lig op die keiser sonder klere. Ek is opreg dankbaar daaroor.
Die jare van die regte ding doen teen rasonreg het nou nuwe momentum. Suid-Afrika se rasseprogram staan skielik uit soos ʼn seer oog.
Solidariteit gaan nou sy weerstand teen hierdie rasmalheid verskerp. Die wêreld moet dit hoor.
Die G20-beraad is om die draai. Alle internasionale oë is op Suid-Afrika.
Ons boodskap is eenvoudig: Rassewette moet weg!
Ons gaan nie ophou veg nie.
Volg ons in die volgende maande. Ons beplan groot dinge.
Dr. Dirk Hermann
Bestuurshoof van Solidariteit