loading
Artikels
8 uur gelede
rassewette-moet-weg

Foto Krediet: OkayDeer

Rassewette moet weg!

Rassewette moet weg!

Resolusie van die Solidariteit Hoofraad

11 Februarie 2025

Ons hartlike dank word teenoor al die Solidariteit-lede en -ondersteuners betuig. Suid-Afrika gaan nie dieselfde wees ná president Trump se uitvoerende bevel nie.

Pres. Donald Trump het met sy uitvoerende bevel die ANC behoorlik geruk. Hulle was nog altyd in watte toegedraai. Hul mal rassebeleide het hulle in mooi woorde soos gelykheid, billikheid en inklusiwiteit verpak. Met een bevel het president Trump die watte afgeruk. Hy is reg – rassewette is sleg. Hy het die ANC ontbloot en ontwrig, maar dit is ons wat verder moet veg en bou. En Solidariteit gaan dit doen. Op ʼn nog groter skaal as vantevore. Ons eis is eenvoudig: rassewette moet weg!

Opsomming:

Die Solidariteit Hoofraad het besluit om ʼn omvattende veldtog teen Suid-Afrika se rassebedeling te begin. Dit volg ná pres. Donald Trump se uitvoerende bevel wat die aandag vestig op Suid-Afrika se diskriminerende rassewette. Solidariteit verwelkom pres. Trump se fokus op hierdie kwessie en eis dat die Suid-Afrikaanse regering voor die G20-beraad moet aandui hoe en wanneer rassewette beëindig gaan word. Solidariteit versoek ook dat minister Parks Tau se nuwe rasfonds gestop word.

As deel van Solidariteit se aksieplanne sluit ons die volgende in:

  • • ʼn Versoek aan pres. Trump om voort te gaan met druk totdat rassewette verwyder is
  • • Skakeling met G20-lande
  • • Regsaksies teen verskeie rasseprogramme van die regering

Die Solidariteit Hoofraad se standpunt:

Die Solidariteit Hoofraad is die hoogste gesagsliggaam van Solidariteit tussen kongresse. Dit bestaan uit verkose lede van verskeie bedrywe en verteenwoordig mense wat daagliks met die regering se radikale rasbenadering gekonfronteer word.

Ons neem met dank kennis van die uitvoerende bevel wat deur pres. Trump uitgereik is. Alhoewel die bevel ʼn breër fokus het, verwelkom ons spesifiek die aandag aan diskriminerende rassewetgewing.

Suid-Afrika is tans die mees rasgereguleerde land ter wêreld, met ongeveer 120 rassewette. Solidariteit het ʼn geskiedenis van strydvoering teen hierdie wette en het reeds alle interne roetes gevolg, insluitend regsaksies tot in die Konstitusionele Hof. Ons het reeds groot sake gewen soos die een in die Konstitusionele Hof namens Korrektiewe Dienste-werknemers en teen rassekwotas vir likwidateurs. Ons het die SAPD se rasplan in die arbeidshof ongeldig laat verklaar, talle individuele sake gewen en verskeie sake oor vals klagtes oor rassisme soos die een van die Schweizer-juffrou Elana Barkhuizen. Ons het ook daarin geslaag om die regering se rasfonds tydens Covid-19 ongeldig verklaar te kry. Ons het ook internasionale forums soos die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) benut en daar sukses behaal. ʼn Formele skikking is met die regering bereik wat al in talle hofsake gebruik is. Nietemin hou die ANC steeds vol met hierdie rassebeleid.

Die ANC moenie geskok wees as hul binnelandse rassebeleid met internasionale druk en veroordeling beantwoord word nie. Hulle is verkeerd.

Buiten aggressiewe rasprogramme in die werkplek is rassediskriminasie wydverspreid:

  • • Kinders word op grond van ras vir sportspanne gekies, en ras-skeidsregters monitor of daar aan kwotas voldoen word.
  • • Daar is rasvereistes aan studiefondse en universiteitskeurings verbonde.
  • • Selfs werklose jong mense word op grond van ras vir regeringsprogramme gekeur.

ʼn Onreg wat genormaliseer word, is ʼn selfs groter onreg. Ons mag nie hierdie abnormaliteit versluier met mooi woorde soos “gelykheid,” “billikheid” en “diversiteit” nie. Beleide moet op hul uitkomste beoordeel word; nie op hul bedoelings nie.

Die mislukking van rassewette

Ná 30 jaar het dit duidelik geword dat rassewette nie swart werkloosheid verminder het nie:

  • • In 2008 was swart werkloosheid 27%; teen 2024 het dit tot 36% gestyg ondanks (of selfs as gevolg van) verskerpte rassewetgewing.
  • • Die totale aantal werklose mense in Suid-Afrika het van 4 miljoen tot 8 miljoen verdubbel.

Hierdie rassebeleide het nie werksgeleenthede of ekonomiese groei bevorder nie, maar eerder koste verhoog en groei belemmer. Suid-Afrikaanse werkers – waarvan 90% swart en 10% wit is – betaal uiteindelik die prys, terwyl ʼn klein swart elite daaruit voordeel trek.

ʼn Onlangse Solidariteit-verslag toon dat Eskom se aankoopkoste sowat 30% hoër is as gevolg van swart bemagtigingspremies. Alle Suid-Afrikaners dra uiteindelik hierdie ekonomiese las. Die Solidariteit Navorsingsinstituut gaan later vanjaar ’n verslag bekend stel oor hoe swart bemagtiging ons ekonomie beperk en werkloosheid verhoog – vir alle burgers, ongeag ras.

Internasionale norme en ooreenkomste

Internasionale norme is duidelik: rasprogramme wat in die ekonomie inmeng, moet tydelik wees. Dit word so bepaal in:

  • • Die Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie
  • • Die Internasionale Arbeidsorganisasie se Konvensie 111.

Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering het in ʼn historiese ooreenkoms onder toesig van die IAO saamgestem dat rasprogramme tydelik moet wees.

Ten spyte hiervan kondig minister Parks Tau aan dat swart bemagtigingsregulasies strenger gemaak gaan word en dat ʼn rasfonds van R100 miljard deur ekstra belasting op die privaat sektor gevestig gaan word.

Binnekort is daar openbaredeelnamesittings oor strenger sektorale rassevereistes, waarmee die regering tot in elke werkplek wil ingryp en bepaal hoe die personeelstruktuur moet lyk. Dit is onaanvaarbaar vir buitelandse beleggers en sal vernietigend wees vir groei en werkskepping.

Internasionale druk en die G20-beraad

Die standpunt van die VSA dwing Suid-Afrika om sy rassebeleid te heroorweeg. Die regering kan nie langer sy aggressiewe rassewetgewing agter edele bedoelings wegsteek nie – internasionale druk het die naakte rassediskriminasie ontbloot en dit is onverdedigbaar.

Suid-Afrika het tot dusver minagting getoon vir internasionale vereistes oor rassewetgewing. Hierdie houding jaag beleggers weg en ontmoedig nuwe beleggings.

Die G20-beraad, wat binnekort in Johannesburg onder Suid-Afrika se voorsitterskap aangebied word, vestig die wêreld se aandag op ons land. Dit bied ongekende beleggingsgeleenthede, maar internasionale beleggers gaan ʼn verstikkende rassebeleid sien.

Die prys wat gewone burgers en werkers vir die ANC se rasbedeling betaal, is doodeenvoudig te hoog. Suid-Afrika moet dringend beleggingsvriendelik raak, en die verwydering van rassewette is ʼn reusestap in daardie rigting.

Solidariteit se eis: Raswette moet weg.

In die lig van bogenoemde eis Solidariteit:

  • • Dat die regering voor die G20-beraad aankondig hoe en wanneer Suid-Afrika se rassewette beëindig gaan word;
  • • Dat die beplande rasfonds van minister Parks Tau gestop word;
  • • Dat die beplande nuwe sektorale rassereëls nie deurgevoer word nie.

Solidariteit se aksieplan:

  • • Druk op die regering van nasionale eenheid om Suid-Afrika se rassebedeling te verander. Ons is bereid om te praat, maar die geskiedenis maak ons skepties;
  • • Voortgesette internasionale druk om Suid-Afrika te dwing om werklik nierassig te wees;
  • • Skakeling met die G20-lande om Suid-Afrika se rassebeleid op die agenda te plaas;
  • • ʼn Versoek aan die Internasionale Arbeidsorganisasie om ʼn spesiale rapporteur na Suid-Afrika te stuur en/of bemiddeling met die regering te begin;
  • • ʼn Openbare veldtog teen die nuwe rasfonds om die absurditeit daarvan uit te wys;.
  • • Regsaksie indien die regering met die rasfonds voortgaan – Solidariteit het reeds sukses met sulke regsoptrede behaal;
  • • ʼn Veldtog teen die nuwe sektorale rassereëls, deelname aan openbaredeelnamesittings en regsaksies indien dit voortgaan.

Ons sal nie ophou om druk plaaslik en internasionaal uit te oefen nie. Ná 30 jaar van ekonomiese stagnasie verdien Suid-Afrikaanse werkers wesenlike, volhoubare groei. Rassewette belemmer dit direk en verarm almal in ons land.

Ons doen ʼn beroep op elke lid en ondersteuner om saam op te staan teen rasmalheid. Ons mag dit nooit as normaal aanvaar nie. Dankie aan almal, julle ondersteuning oor soveel jare word opreg waardeer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel