![sapd-berispe-in-saak-oor-bevordering-van-beseerde-lid](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2025/02/Promo-Facebook-Facebook-link-image-10.jpeg)
Foto Krediet: Solidariteit | (vlnr) Solidariteit se verteenwoordiger, Ronel Stander; lt.kol. Louraine Alfred Sutton; en die litigant wat die saak hanteer het, Etienne Pio.
Gekopieër
SAPD berispe ná beseerde lid pos geweier word
Solidariteit se regspan het namens sy lid by die SAPD opgetree en ag die wen as nog ʼn voorbeeld van hoe lede teen onbillike arbeidspraktyke beskerm word. Hierdie saak is trouens ʼn bewys van Solidariteit se onwrikbare verbintenis tot geregtigheid en billikheid in die werkplek. Lees die saak, en die lid se goeie terugvoer hieronder.
Deur Heléne Mocke
Geregtigheid het geskied vir ʼn jare lange lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat oor die hoof gesien is vir bevordering ten gunste van iemand wat oor geen ervaring in die spesifieke veld beskik het nie.
Solidariteit se regspan het ingetree vir lt.kol. Louraine Alfred Sutton, wat sedert 1994 in diens van die polisie is en vir jare lank as ʼn sub-seksie bevelvoerder opgetree het, totdat die pos vir bevelvoerder geadverteer is.
Sutton het toe aansoek gedoen, maar ʼn ander kandidaat, lt.kol. Tapa, is in die pos aangestel.
Solidariteit het gevolglik ʼn dispuut by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanhangig gemaak. Op 5 Februarie 2025 het kommissaris Annelie Bevan ʼn belangrike uitspraak gelewer waarin bevestig is dat Sutton aan onbillike arbeidspraktyke blootgestel was en dat die aanstellingsproses ernstige gebreke getoon het.
Tapa se aansoekvorm was byvoorbeeld onvolledig ingevul en tydens arbitrasie is opgemerk dat die aanstellingspaneel dit nie behoorlik geëvalueer het nie, as die paneel sy aansoek ordentlik onder oë gehad het sou die paneel onmiddelik sy aansoek uitgooi.
Die paneel het ook versuim om die verlangde dokumentasie na te gaan en Sutton se aansoek is nie regverdig beoordeel nie. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die paneel moontlik van die begin af reeds ʼn spesifieke kandidaat vir die pos in gedagte gehad het.
Nog ʼn kenmerk van die saak is dat Sutton sedert 2008 met ʼn ernstige besering leef wat hy opgedoen het terwyl hy aan diens was. Hy het weens die besering permanente skade aan sy gehoor en aan sy heup opgedoen. Desondanks het hy sy pligte getrou uitgevoer en homself voortdurend professioneel ontwikkel.
Een van die voorkeure wat gedurende die aanstellingsproses aan kandidate gegee word is die van byvoorbeeld gestremdhede. Die aanstellingspaneel het egter nie sy gestremdheid as ʼn faktor vir gelykheidsbevordering oorweeg nie, wat verdere onregmatigheid in die besluitnemingsproses weerspieël.
Die kommissaris het dus bevind die SAPD se optrede was nie net prosedureel nie, maar ook substantief onbillik. Sy het beveel dat Sutton terugwerkend vanaf 1 Januarie 2022 in die hoër rang aangestel moet word met volle vergoeding vir die salaris- en voordeleverskil wat hy sedertdien verbeur het.
Sutton beskryf die saak as ʼn geloofsaak. “ Ek is dankbaar vir Solidariteit wat hierdie pad met my gestap het en wat saam met my op die Here vertrou het. Dit sê geweldig baie as ʼn regspan voor ʼn saak aangehoor word saam met jou oor die saak bid,” sê hy.
“Ek is nou nog trotser om ʼn lid van Solidariteit genoem te word,” sê Sutton.
Solidariteit se regspan verwelkom hierdie regverdige uitspraak en beskou dit as nog ʼn voorbeeld van hoe lede teen onbillike arbeidspraktyke beskerm word. Hierdie saak is trouens ʼn bewys van Solidariteit se onwrikbare verbintenis tot geregtigheid en billikheid in die werkplek.