
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die A-Z van belasting
Deur Ané Janse van Rensburg
Kry jou finansiële omstandighede jou soms onder? Voel dit oorweldigend om die vele verantwoordelikhede van die volwasse lewe baas te raak? Jy het 99 probleme, maar belasting hoef nie een daarvan te wees nie!
Solidariteit wil konsepte soos belasting vir jou vereenvoudig en dit saam met jou aanpak.
Wat is belasting?
Persoonlike inkomstebelasting is die belasting wat jy aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) betaal op die inkomste wat jy verdien. Dit sluit jou salaris, bonusse en enige ander inkomste in. Jy moet jaarliks jou inkomste by die SAID verklaar en verseker dat jy die korrekte bedrag belasting betaal.
Belastingkoerse in Suid-Afrika wissel volgens jou inkomste. Die SAID publiseer jaarliks belastingtabelle wat die persentasie belasting aandui wat jy op grond van jou jaarlikse inkomste moet betaal. Hier is ʼn voorbeeld van die belastingkoerse vir die 2024/’25-belastingjaar:
- – Inkomste tot R237 100 = 18%
- – Inkomste tussen R237 101 en R370 500 = 26%
- – Inkomste tussen R370 501 en R512 800 = 31%
- – Inkomste tussen R512 801 en R673 000 = 36%
- – Inkomste tussen R673 001 en R857 900 = 39%
- – Inkomste tussen R857 901 en R1 817 000 = 41%
- – Inkomste bo R1 817 000 = 45%
Dit is belangrik om jou inkomste akkuraat te verklaar sodat jy die korrekte belasting betaal.
Hoe betaal ek my belasting?
- 1. Registreer by die SAID: Jy moet by die SAID registreer om ʼn belastingnommer te ontvang. Dit kan jy op die SAID se eFiling-platform doen of deur ʼn SAID-tak te besoek.
- 2. Belastingopgawes: Aan die einde van elke belastingjaar (wat op 28 Februarie eindig) moet jy ʼn belastingopgawe indien. Dit doen jy op die SAID se eFiling-platform waar jy jou inkomste en uitgawes verklaar.
- 3. Bepaling van belastingverpligtinge: Die SAID sal jou opgawe hersien en bepaal hoeveel belasting jy skuld of aan jou terugbetaalbaar is. Jy ontvang ʼn aanslag wat jou belastingverpligtinge aandui.
- 4. Betaling van belasting: Indien jy belasting skuld, kan jy die betaling deur middel van die volgende maak:
- 4.1. eFiling: Gebruik die eFiling-platform om die bedrag oor te dra.
- 4.2. Bankoorplasings: Maak gebruik van ʼn direkte bankoorplasing na die SAID se bankrekening.
- 4.3. Betalingsvoorwaardes: Maak seker dat jou betaling voor die sperdatum gemaak word om boetes en rente te vermy.
- 5. Die SAID se mobiele toepassing (applikasie): Gebruik die app vir maklike en vinnige betalings.
Belastingvoordele en -aftrekkings
Jy kan ook sekere belastingvoordele en -aftrekkings eis, wat jou belasbare inkomste kan verminder:
- – Mediese uitgawes: Bepaalde mediese uitgawes kan van jou belasbare inkomste afgetrek word.
- – Pensioen- en voorsorgfondse: Jou bydraes tot hierdie fondse kan van jou belasbare inkomste afgetrek word.
- – Skenkings: Bydraes aan sekere organisasies sonder winsoogmerk, soos Solidariteit Helpende Hand, kan van jou belasbare inkomste afgetrek word.
Belangrike wenke
- – Hou rekord: Hou rekord van al jou inkomste en uitgawes. Dit sal die voltooiing van jou belastingopgawe vergemaklik.
- – Gebruik tegnologie: Maak gebruik van die SAID se eFiling-platform en mobiele toepassing om jou belastingaangeleenthede te bestuur.
- – Moenie bang wees om vir hulp te vra nie: As jy oor enige aspek van jou belasting onseker is, oorweeg dit om ʼn belastingkonsultant te raadpleeg of selfs om met iemand te gesels wat meer as jy weet.
Jou finansies kan soms soos ʼn berg lyk. Dit verg egter net bereidwilligheid om te leer en ʼn wil om te verstaan, dan kan jy jou finansies baasraak! Solidariteit wil jou hand vat en hierdie berg saam met jou aandurf.
Raak jou belasting lag-lag baas deur Solidariteit se belastinggids af te laai.
Skep jou gratis profiel op Solidariteit en navigeer na die “Studeerkamer” wat jy op die kieslys sal vind. Op die Studeerkamer sal jy ʼn skatkis van bronne kry wat jou in jou lewe en werk sal ondersteun.