Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Die ANC se roekelose pad: ʼn selfgeskepte diplomatieke en ekonomiese krisis
Die ANC se roekelose beleid het Suid-Afrika in ʼn diplomatieke en ekonomiese krisis gedompel. Trump se kritiek spruit uit jare se verkeerde besluite, insluitend swak buitelandse beleid, rassediskriminasie en onteiening sonder vergoeding. Dit het internasionale verhoudings verswak, beleggers afgeskrik en ekonomiese skade berokken. Tog weier die ANC om verantwoordelikheid te aanvaar. Lees meer hier.
Die ANC is histeries oor pres. Donald Trump se uitsprake oor onteiening en diskriminasie in Suid-Afrika. “Dit is die bose AfriForum se skuld,” skree hulle. “Disinformasie!” gil hulle skril. Maar dit is nie so nie. Dit is 100% die ANC se eie skuld. Trump se frustrasie met Suid-Afrika strek veel verder as net grondonteiening – dit is die gevolg van jare se roekelose beleid, wat die land al hoe verder vervreem van sy grootste handelsvennote en internasionale bondgenote.
Die ANC se buitelandse beleid is ʼn geslote boek van politieke dwaasheid. Ramaphosa het selfs vir Trump in ʼn video uitgekryt, terwyl sy regering doelbewus bande met Amerika verswak het. Suid-Afrika kla Israel, ʼn kernbondgenoot van die VSA, by die Internasionale Strafhof aan en vervreem só die magtige Joodse steunwerwingsgroepe in Amerika. Dit is ʼn diplomatieke ramp vir die land.
Op die binnelandse front dryf die ANC ʼn radikale agenda. Hulle sentraliseer al hoe meer mag, dryf ʼn sosialistiese gesondheidsplan en wil moedertaalonderwys vir minderhede afskaal. Hulle diskriminerende rassewette maak dit vir die wêreld se rykste man en Trump-vertroueling, Elon Musk, onmoontlik om in sy geboorteland sake te doen. En terwyl Amerika se vyande Suid-Afrika se “ou vriende” genoem word, word die bande met die VSA al hoe dunner.
Die ANC se roekeloosheid strek verder. Hulle nooi Poetin na die Brics-beraad, ondanks ʼn internasionale lasbrief vir sy inhegtenisneming. Op die eerste herdenking van die oorlog in Oekraïne, neem die Suid-Afrikaanse vloot deel aan gesamentlike militêre oefeninge met China en Rusland. Intussen het militêre samewerking met die VSA feitlik tot ʼn stilstand gekom.
Dan is daar staatskaping – ʼn internasionale skandaal. Regter Zondo se verslae word aan die staat oorhandig, honderde name word genoem, maar niemand word vervolg nie. Die ANC plaas eerder die skuldiges in senior regeringsposte. ʼn Regering wat nie sy eie mense tot verantwoording roep nie, kan nie verwag dat die internasionale gemeenskap hom ernstig moet opneem nie.
Bo alles hang onteiening sonder vergoeding soos ʼn stormwolk oor Suid-Afrika. Die ANC het ʼn duidelike plan om artikel 25 van die Grondwet te wysig. Hoewel hulle in die parlement misluk het, het Ramaphosa die nuwe Onteieningswet onderteken – ʼn wet wat binne die ANC se agenda gevaarlik is. Hulle beweer dit is “onskuldig”, maar in die groter konteks dien dit as ʼn instrument om hul doelwitte te bereik. Privaat eienaarskap en eiendomsreg is die kern van ʼn moderne ekonomie, en onsekerheid daaroor skrik beleggers af. Dit is die ANC se skuld dat beleggers hul kapitaal onttrek en ekonomiese geleenthede vir gewone Suid-Afrikaners verlore gaan.
Met hierdie roekelose binnelandse en buitelandse beleid het die ANC die wêreld se grootste ekonomie en een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote vervreem. Onder Trump se administrasie het dit alles tot ʼn klimaks gekom. Republikeine en Demokrate in die Amerikaanse Kongres het al hoe meer vrae begin vra oor Suid-Afrika se politieke koers. Suid-Afrika se voormalige minister van internasionale betrekkinge het Amerika as “imperialisties” beskryf, terwyl sy vir Iran en Rusland as “ou vriende” geprys het.
Amerika het begin optree. ʼn Wetsontwerp in die VSA het die verhouding met Suid-Afrika onder die vergrootglas geplaas. ʼn Openbare sitting is gehou, maar die Suid-Afrikaanse ambassade het dit byna heeltemal geïgnoreer. Gelukkig het die privaat sektor en burgerlike organisasies soos Solidariteit en AfriForum ingespring om te pleit dat gewone Suid-Afrikaners nie gestraf moet word vir hul regering se foute nie.
En toe kom Trump se woedende uitspraak, en die ANC aanvaar, soos altyd, geen verantwoordelikheid nie. Hulle wys vingers en blameer AfriForum en Solidariteit. Maar die werklikheid is eenvoudig: die besnoeiing van Amerikaanse befondsing wat siek mense raak, die afskrik van beleggers wat arm mense raak, en die dreigende verlies van ʼn handelsooreenkoms soos Agoa wat gewone werkers raak – dit álles is die ANC se skuld.
Solidariteit vergader dié week met verteenwoordigers van die Trump-administrasie in die Withuis om vir die belange van Afrikaners en Suid-Afrika te veg.

Jóú stem is vir ons belangrik. Dit is nóú tyd om ʼn verskil te maak.
Klik hier en word deel van ons drukgroep. Stuur jou stem na die Withuis!