loading
avatar
Artikels
11 uur gelede
die-aprilgrap-jan-taks-gaan-sy-tande-in-jou-beursie-inslaan

Foto Krediet: OkayDeer

Die Aprilgrap – Jan Taks gaan sy tande in jou beursie inslaan

Nuwe TAA-boetewysigings kan jou meer as ʼn arm en ʼn been kos

Deur: PG Du Plessis CA(SA), RA(SA)

En daar gebeur dit. Die dag van gekskeer, mombakkies dra en waarop vroulief se sin vir humor skielik ontbreek, het aangebreek: 1 April 2026.

Stilletjies het ʼn nuwe bedeling rakende die administrasie van belasting ook op dié dag in werking getree. En dis hier waar ek jou moet waarsku: maak gerus seker dat die verpligte Regulasie 3-noodhulpkassie na ʼn nommer 7 aangepas word, want hierdie is erg.

Die SAID het deur hierdie nuwe wysigingswetgewing oor belastingadministrasie sy tande geslyp – jou beursie gaan bloei.

So, ná die aanvanklike skok, laat ons uiteensit wat dit vir ondernemings in Suid-Afrika beteken.

1. Die administratiewe boete: R250 tot R16 000 per maand, elke maand

Ondernemings het al gewoond geraak aan administratiewe boetes. Dit was reeds vanselfsprekend. En natuurlik bly die mees basiese slagveld die laat indiening van opgawes.

Of dit nou inkomstebelasting, BTW, LBS of werkgewer-rekonsiliasies (EMP501) is, as die sperdatum verstryk het en jou opgawe nie ingedien is nie, begin die slagting. Geen tweede kanse nie, wat nog te sê van genade.

Die Wet op Belastingadministrasie (No. 28 van 2011) – oftewel die TAA – magtig die SAID om vaste administratiewe boetes vir nienakoming op te lê. Die bedrag word bepaal deur jou belasbare inkomste van die vorige jaar, soos uiteengesit in die boetetabel op ʼn glyskaal. Dit wissel van R250 per maand vir winste van tussen R0 en R250 000, tot R16 000 per maand vir winste tot R50 000 000.

Hierin lê die kern van die saak. Hierdie boetes herhaal maandeliks vir tot 35 maande! Vir die van ons met tieners, ek voel julle pyn – dis langer as die duur van die meeste van hul nuwe romanses op skool! Doen gerus die somme, vir die met ʼn sterk gestel: ʼn klein onderneming met ʼn belasbare inkomste van R1,2 miljoen wat ses maande laat is met die indien van ʼn opgawe, kyk na R12 000 se boetes – sonder dat daar noodwendig ʼn sent se belasting verskuldig was. Dis pynlik!

Maar hoe raak dit jou?

ʼn Praktiese voorbeeld sal dit dalk beter uitlig.

Oom Fanie besit ʼn afleweringsdiens in Johannesburg. Sy belasbare inkomste was verlede jaar R800 000. Sy rekenmeester was in Desember op verlof, en die voorlopige belastingopgawe se sperdatum van 28 Februarie het stilletjies verbygegaan. Oom Fanie het eers in Junie besef die opgawe is nie ingedien nie.

Die gevolg? Vier maande × R1 000 = R4 000 aan boetes, benewens enige rente op uitstaande belasting.

En onthou: die SAID vra nie hoekom jy laat is nie. Die rekenaar penaliseer outomaties.

Vir diegene wat wel al deur hierdie proses was, mag dit minder pynlik voel, want die SAID was voorheen genadig en ʼn mens kon selfs die gedagte koester dat hulle net dalk verstaan waardeur ondernemings gaan – want enigiemand kan mos ʼn fout maak …

2. Die “eerlike fout”-verweer: skielik nie meer so onskuldig nie

Hier is waar die bande nou behoorlik die teerpad tref en waar baie kleinsake-eienaars onkant betrap gaan word.

Voor die wetswysiging kon ʼn belastingbetaler, wanneer die SAID ʼn onderskattingsboete wou oplê, dadelik sê: “Dit was ʼn bona fide onopsetlike fout.” As hulle die verskoning aanvaar het, het die saak daar geëindig – geen boete nie. Vir klein ondernemings was dit dikwels die reddingsboei: jy het ʼn fout op jou opgawe gemaak, jy het nie probeer kul nie, en die fout was onbedoeld. Daarmee is die saak afgehandel.

Die wetswysiging keer nou hierdie volgorde om. Die SAID beoordeel nou eers jou gedrag: het jy redelike sorg toegepas? Was daar redelike gronde vir jou standpunt? Was dit growwe nalatigheid of selfs opsetlike belastingontduiking?

Indien jou gedrag in enige van hierdie kategorieë val, is die “eerlike fout”-verweer eenvoudig so vrugteloos soos ʼn tiener se nuwe verhouding op skool.

Die enigste scenario waar die verweer nog geld, is in gevalle van “wesenlike onderskattings” – waar die verlies vir die SAID die grootste van R1 miljoen of 5% van die korrekte belasting verskuldig oorskry. En selfs dan geld dit slegs nadat die gedragsvraag in jou guns beantwoord is.

Natuurlik berus die “bepaling” van jou gedrag by die SAID – die spreekwoordelike vlieg in die salf. Ons almal weet hoe daardie gesprek sal verloop.

Praktiese voorbeeld: Rina se koffiewinkel

Kom ons kyk weer na ʼn praktiese voorbeeld om te illustreer hoe drakonies die nuwe wetswysigings werklik is.

Rina besit ʼn koffiewinkel en eis haar motor se brandstofkoste as ʼn sake-uitgawe. Sy gebruik wel haar motor om kliënte te besoek, maar gebruik die motor ook vir persoonlike doeleindes. Sy het 80% van die brandstofkoste geëis sonder dat sy ʼn behoorlike logboek gehou het. Die SAID doen ʼn oudit en bevind die eis is oordrewe.

Onder die ou reëls kon Rina aanvoer dat dit ʼn eerlike fout was – sy het te goeder trou ʼn skatting gemaak. Onder die nuwe bepalings sal die SAID eers haar gedrag beoordeel: het sy redelike sorg toegepas?

Sonder ʼn logboek of stawende dokumente is die antwoord waarskynlik nee. Die “eerlike fout”-verweer word nie eers oorweeg nie en die onderskattingsboete – wat kan wissel van 10% tot 200% van die onderskatte belasting, afhangende van die erns van die gedragsafwyking – word opgelê.

3. Die reddingsboei wat nog bestaan: openbaarmaking en belastingopinie

Daar is wel ʼn ligstraal as jy steeds geskok is ná dié nuus en nog nie noodbehandeling moes ondergaan nie. Die wetswysiging bied wel ʼn baie smal paadjie vir belastingbetalers in sulke gevalle, naamlik die openbaarmaking-en-opinie-roete.

Hierdie roete is nie naastenby so bekend soos die Tuinroete nie, maar beslis een om in jou GPS in te sleutel om die sakewêreld te navigeer.

Kortom, as jy ʼn belastingstandpunt inneem wat onseker is (byvoorbeeld ʼn spesifieke aftrekking of ʼn grys area), moet jy twee dinge in plek hê vóór of op die dag waarop die betrokke opgawe ingedien word.

Eerstens, volledige openbaarmaking van die reëling aan die SAID. Tweedens, ʼn skriftelike opinie van ʼn onafhanklike geregistreerde belastingpraktisyn wat bevestig dat die standpunt meer waarskynlik as nie in ʼn hof sal stand hou.

Die sleutelwoord is “vooraf.” As die SAID ses maande later aanklop en jy dan eers ʼn opinie versoek, is dit te laat. Die opinie moes bestaan het toe die opgawe ingedien is.

Vir klein ondernemings wat nie ʼn voltydse belastingadviseur op snelbel (speed dial) het nie, is dit ʼn duur maar noodsaaklike veiligheidsnet. Die koste om ʼn belastingopinie op ʼn grys area te bekom, is ʼn fraksie van wat ʼn onderskattingsboete van 25% tot 200% op die betrokke bedrag sal kos!

En, soos die bekende slagspreuk van laataand-bemarkingstelevisie gelui het: “Maar wag, daar’s meer!” Al verskil is, jy ontvang geen gratis geskenk met jou aankoop nie!

4. Trusts: Tyd loop uit

As jy ʼn trust het (baie kleinsake-eienaars gebruik trusts om bates te beskerm), is daar ʼn spesifieke datum om in rooi in jou dagboek te merk. Vanaf 2 Maart 2026 lê die SAID administratiewe boetes op vir trusts waar beide die 2024- en 2025-inkomstebelastingopgawes uitstaande is.

Vanaf 4 Mei 2026 reik die SAID boete-aanslagkennisgewings (AP34) uit om trusts formeel in kennis te stel van die opgelegde boetes.

Dit geld vir alle trusts wat by die Meester van die Hooggeregshof geregistreer is – of die trust “aktief” of “dormant” is, is irrelevant. As die trust bestaan en geregistreer is, moet dit ʼn opgawe indien.

5. Betalingsopskorting: ʼn nuwe wapen vir die belastingbetaler

Ná die pleisters en Dettol, bied die wetswysigings wel ietwat goeie nuus. Dit bied belastingbetalers ʼn formele meganisme om betalings op te skort terwyl ʼn geskil oor ʼn beraamde aanslag opgelos word.

Dit wil sê, as die SAID ʼn beraamde aanslag uitreik (dikwels wanneer opgawes nie ingedien is nie) en jy meen die bedrag is opgeblaas, kan jy nou aansoek doen om die betaling tydelik op te skort terwyl jy versoek dat die aanslag verminder word. Voorheen kon die SAID jou bankrekening dadelik leegtrek of beslag op bates lê voordat jy enigsins kon bewys die aanslag is verkeerd!

Dit moet egter nie as ʼn luukse beskou word nie. Die SAID behou die diskresie om die opskorting te weier indien die fiskale belang bedreig word. Boonop is die meganisme slegs doeltreffend as jy vinnig en korrek optree. Dit is nie ʼn verskoning om opgawes te ignoreer nie; dit is ʼn noodrem, nie ʼn remskoen nie.

Kyk so daarna: Die SAID het bloed geproe en ongelukkig is jy die hoofgereg. Dit bring ons by die laaste punt – ʼn behoorlike happie om aan te smul.

6. Inspeksie en dienslewering: Die SAID kom aanklop – makliker

Die wetswysiging het ook die SAID se inspeksiebevoegdhede hersien en verduidelik hoe kennisgewings aan maatskappye beteken kan word. Vir klein ondernemings beteken dit dat ʼn SAID-kennisgewing wat na jou geregistreerde adres gestuur word – of jy dit ontvang het of nie – as behoorlik beteken beskou word. As die adres op jou SAID-profiel verouderd is, kan jy dalk ʼn finale aanmaning mis en onbewus wees van boetes, totdat jou bankrekening skielik merkbaar ligter lyk!

Maar voor jy ʼn bloedoortapping benodig, volg hierdie raad.

7. Wat kan ʼn kleinsake-eienaar nou doen?

Die volgende stappe is nie opsioneel nie – dit is noodsaaklik:

1.Maak eerstens seker jou eFiling-profiel (e-posadres, telefoonnommers, fisiese adres en bankbesonderhede) is op datum. Dit neem vyf minute en kan duisende rande se boetes voorkom.

2. Tweedens, dien alle uitstaande opgawes onmiddellik in. Selfs al kan jy nie die belasting betaal nie, verhoed die indiening van die opgawe verdere administratiewe boetes. Die boete herhaal elke maand wat die opgawe uitstaande bly.

3. Derdens, verkry ʼn skriftelike belastingopinie vir enige grys areas voor die volgende opgawe ingedien word. Die koste van die opinie is ʼn belegging, nie ʼn uitgawe nie.

4. Vierdens, outomatiseer sperdatums. Gebruik ʼn digitale kalender, rekeningkundige sagteware of selfs ʼn eenvoudige herinnering op jou foon. As jy slegs op jou geheue staatmaak, gaan jy waarskynlik daarvoor betaal.

5. Laastens, as jy ʼn trust het, bevestig dat alle opgawes tot en met 2025 ingedien is voor die AP34-kennisgewings in Mei 2026 begin uitrol!

Slotsom

Die wetswysigings raak nie net groot korporasies en multinasionale maatskappye nie – ten minste nie uitsluitlik nie. Die impak sal waarskynlik eerste en die egste deur klein ondernemings gevoel word, juis omdat hulle dikwels sonder toegewyde belastingafdelings, interne regsadviseurs of gesofistikeerde nakomingstelsels funksioneer. Die oom met die twee bakkies en die tannie met die gastehuis gaan dit voel.

Die boodskap is nie om bang te wees nie. Die boodskap is om voorbereid te wees. Die SAID het nie nuwe reëls uitgedink nie; hulle het slegs die bestaande reëls verskerp en die ruimte vir verskonings verminder. Die belastingbetaler wat sy administratiewe sake op datum hou, sy opgawes betyds indien en grys areas behoorlik laat dokumenteer, sal rustig kan slaap. Die res gaan waarskynlik om twee-uur in die oggend wakker skrik met ʼn e-pos vanaf die SAID wat hulle sal laat wens dat dit ʼn Aprilgrap is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel