loading
avatar
Artikels
11 uur gelede
rekenmeesters-span-saam-vir-n-beter-ekonomie-vir-sa

Foto Krediet: Solidariteit

Rekenmeesters span saam vir ʼn beter ekonomie vir SA

Die Solidariteit Finansiesnetwerk het onlangs rekenmeesters en ander professionele persone in die finansiële bedryf by ʼn spesiale Rekenmeestersontbyt verwelkom.

Dié ontbyt het aan bywoners die geleentheid gegee om te netwerk, saam te kuier en waardevolle gesprekke te voer oor die toekoms van die finansiële beroep en die rol daarvan in Suid-Afrika se ekonomie.

Nicolaas van Wyk, hoofuitvoerende beampte van die Geoktrooieerde Instituut vir Sake-rekenmeesters (CIBA), was die gasspreker tydens die ontbyt. In sy toespraak het hy gefokus op BBP-groei en die belangrike rol wat rekenmeesters en finansiële kundiges in ekonomiese ontwikkeling kan speel. Hy het veral beklemtoon dat rekenmeesters nie bloot met syfers werk nie, maar ook ʼn wesenlike bydrae kan lewer tot ondernemingsgroei, werkskepping en die bou van ʼn sterker ekonomie vir die land.

Vir die Solidariteit Finansiesnetwerk was die geleentheid nóg ʼn stap om finansiële beroepslui bymekaar te bring en ʼn gemeenskap te vestig waar kundigheid, ervaring en praktiese insigte gedeel kan word. Die Solidariteit Finansiesnetwerk wil juis ʼn tuiste skep vir mense in die finansiële bedryf wat saam wil leer, groei en ʼn verskil in hul beroep en gemeenskap wil maak.

Bywoners het die oggend as waardevol en insiggewend beskryf.

“Ek is bly ek het gekom. Dit het my die perspektief van ʼn nie-rekenmeester gegee. Wonderlike insigte wat ʼn mens in die lewe én in jou praktyk kan toepas,” sê Ian Black, een van die bywoners.

Riana Olivier van The Alternative Board het gesê dit was bemoedigend om te sien hoe sterk mense in die finansiële bedryf steeds oor Suid-Afrika se ekonomiese toekoms voel.

“Hierdie ontbyt was ʼn goeie geleentheid om verhoudings te bou met eendersdenkende mense in die bedryf – mense wat ook passievol is oor werkskepping en ekonomiese vooruitgang in die land,” sê sy.

Johan de Klerk sê dit was vir hom lekker om te netwerk en nuwe mense te ontmoet. Volgens hom het die oggend op verskeie vlakke waarde toegevoeg. “Die kos was natuurlik ook uit die boonste rakke!” voeg hy by.

Die Solidariteit Finansiesnetwerk glo dat geleenthede soos hierdie ʼn belangrike rol speel om professionele persone in die finansiële sektor met mekaar te verbind. Deur finansiële kundiges, praktykeienaars, rekenmeesters en ander finansiële beroepslui bymekaar te bring, word ruimte geskep vir gesprekke wat nie net oor die beroep self handel nie, maar ook oor die groter rol wat dié beroep in Suid-Afrika se ekonomiese toekoms kan speel.

Die Solidariteit Finansiesnetwerk bedank elke persoon wat die oggend bygewoon en aan die gesprek deelgeneem het en sien daarna uit om in die toekoms nóg sulke geleenthede aan te bied waar finansiële beroepslui kan netwerk, leer en saam kan bou aan ʼn beter en meer volhoubare finansiële sektor.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel