
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Die Bela-wet: ʼn Bedreiging vir onderwys en taal – jong werkendes, staan op!
Deur Robin-Lee Maré
Die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (die Bela-wet) is van die mees omstrede onderwyswetgewing in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis. Dit bedreig nie net moedertaalonderrig nie, maar ook die basiese regte van ouers en gemeenskappe om te besluit oor hul kinders se onderwys. As jong werkendes en toekomstige ouers kán ons nie stilbly terwyl ons kinders se toekoms op die spel is nie. Die tyd om op te staan en betrokke te raak, is nóú – ons het ʼn verantwoordelikheid om die stryd te voer vir gehalte-onderwys in Afrikaans.
Maar wat presies is die Bela-wet? Eenvoudig gestel, die Bela-wet skryf verskeie veranderinge voor wat skole se bestuur raak. Dit sluit in dat beheerliggame minder seggenskap sal hê oor toelatings- en taalbeleide, en dat die provinsiale onderwysdepartement meer mag sal hê om besluite hieroor op skole af te dwing. Verder maak die wet voorsiening vir verpligte graad R-onderrig, en daar word vereis dat skole kennis moet gee voordat nuwe infrastruktuur gebou of aanpassings aan bestaande fasiliteite gemaak kan word.
Die bepalings van die Bela-wet bevat veranderings wat jong mense se toegang tot gehalte-onderwys kan beïnvloed. Dit is kommerwekkend, want ons weet dat ʼn sterk opvoedkundige basis deurslaggewend is vir ʼn suksesvolle loopbaan.
Met die bepaling dat graad R-onderrig verpligtend word, kom die stelsel voor groot uitdagings te staan, soos die gebrek aan hulpbronne en opgeleide onderwysers. Ons as jong werkendes moet bekommerd wees oor hoe die swak implementering hiervan die grondslag van ons kinders se leer en ontwikkeling kan benadeel. Kwaliteit-onderrig in vroeë onderwys is noodsaaklik vir toekomstige sukses.
Die wet raak ons taalregte direk. Die beperkings wat op skole se taalbeleid geplaas word, kan Afrikaanse onderwys ernstig ondermyn. As jong Afrikaanse professionele persone is dit belangrik om te veg vir die behoud van moedertaalonderrig, omdat dit nie net ons kulturele identiteit bevorder nie, maar ook aan ons kinders die beste kans op sukses gee. As moedertaalonderrig afgeskaal word, raak dit die kwaliteit van onderwys direk, wat toekomstige loopbaangeleenthede kan beperk.
By baie ouers of voornemende ouers veroorsaak die Bela-wet groot onsekerheid oor die toekoms van Afrikaanse onderwys. Jong werkende, selfs al is ouerskap vir jou ver in die toekoms, raak hierdie wet jou en die toekoms van jou kinders direk. Ons wil verseker dat ons kinders die geleentheid kry om onderrig van hoë gehalte in hul moedertaal te ontvang, maar hierdie wet maak dit onseker.
Die Bela-wet het die deure oopgemaak vir ʼn nuwe golf van burgerlike aktivisme onder jong werkendes. Dit is ʼn geleentheid vir ons om betrokke te raak, om ons stemme te laat hoor en om te veg vir onderwys wat ons kulturele identiteit beskerm en ons toekoms alhier verseker.
Ons generasie moet hulself deeglik vergewis van die implikasies van die Bela-wet, aangesien dit nie net die onderwysstelsel raak nie; ons werksekerheid, ekonomiese groei en ons lewenskwaliteit word ook regstreeks geraak. Hierdie wet het die potensiaal om die toekoms van jong werkendes en ons kinders, trouens, die hele samelewing, te beïnvloed. As jong professionele persone is dit ons plig om op te staan vir ons taal, ons kultuur, en die kwaliteit van onderwys wat ons vir toekomstige generasies wil waarborg.
Jy het nóú die kans om ʼn positiewe impak te maak.
Neem op 5 November 2024 deel aan Solidariteit se massaprotes om jou teenkanting teen die Bela-wet uit te spreek. Kom en maak ʼn verskil in die toekoms van ons land se onderwysstelsel en die lewens van ons kinders. Laat ons saamstaan en daadwerklik betrokke raak om ons gemeenskap en ons kultuur te beskerm.
Klik hier om vir die massaprotes te registreer.