
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die Bela-wysigingswet gaan jou kind se toekoms kelder
Deur Maryna Eksteen
Kom ons wees sommer uit die staanspoor eerlik – die staat is onbevoeg. Die staat kan nie sy rol as ondersteuner vervul nie; die druk is eenvoudig net te veel. Om vir handboeke en onderwysposte voorsiening te maak, is ʼn swaar las op die staat se skouers. Dit verg moeite en aandag om die infrastruktuur van skole in stand te hou. Die enigste logiese oplossing sal wees om die septer te swaai en eerder die skole wat werk te kaap. Dit is vir die staat net té ongemaklik om in die bed wat hulle self gemaak het te slaap, maar “danksy” die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (algemeen bekend as die Bela-wysigingswetsontwerp) gaan die druk op die staat aansienlik verminder.
Die agtergrond
Die Suid-Afrikaanse Skolewet het in 1996 in werking getree met die doel om skole wat aan die staat behoort aan die gemeenskap te oorhandig. Die oorspronklike doel van ʼn beheerliggaam was om ouers in ʼn vertrouensposisie teenoor die skool te plaas. Die Bela-wysigingswetsontwerp het vir die eerste keer in 2017 die hoofopskrifte gehaal en Solidariteit het uit die staanspoor die bose voorstel teengestaan. Klik hier om meer te lees oor Solidariteit se insette en sy betrokkenheid by die omstrede Bela-wysigingswetsontwerp.
Skole was destyds, met die inwerkingtreding van die Grondwet van 1996, gedesentraliseer en staatskole het openbare skole geword met die beheer oor skole wat vanaf die staat na skole se beheerliggame afgewentel is. Staatskole het dus openbare skole geword wat deur die gemeenskap (die ouers van leerders in ʼn skool) saam met die skoolhoof en die Departement van Onderwys bestuur is. Elke entiteit het dus ʼn rol om te vertolk om die vooruitgang van skole te kan verseker.
Die beheerliggaam
Geen skool kan sonder ʼn beheerliggaam funksioneer nie aangesien dit instaan vir die operasionele take wat verrig moet word. Dié take sluit die skool se beleide en finansiële bestuur in. Die hoof en personeel pas die operasionele take toe soos deur die beheerliggaam besluit. Die akademiese leiding berus by beide die skoolhoof en die skoolbestuur.
By skole waar die beheerliggaam (ouers) betrokke is, word geleenthede vir gehalte-onderrig en -afrigting van leerders geskep. Die skole floree,r terwyl skole met onbetrokke ouers drasties agteruitgaan.
Die staat
Die staat se rol is om in ʼn ondersteunende hoedanigheid op te tree. Dit is hier waar die staat veronderstel is om in te tree om te verseker dat infrastruktuur beskikbaar is en dat dit onderhou word. Die staat se taak is om voorsiening te maak vir hulpbronne soos water, leermateriaal en voldoende opgeleide onderwysers.
Die harde werklikheid is egter dat die staat nie sy eie mandaat kon onderhou nie. Nuwe skole is nie gebou nie. Daar is ʼn tekort aan handboeke en die opleiding van onderwysers het ʼn bysaak geword. Skole vou onder die afwesigheid van beheerliggame en skole sluit omdat ouers nie langer kan toekyk hoe hul kinders in die skole agteruitgaan nie.
Volgens Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder en navorser by Solidariteit, is die skole wat baie goed presteer nie te danke aan die staat nie, maar eerder ten spyte van die staat.
Sentralisme kaap ons vryheid
Soos met alles in Suid-Afrika is dit onmoontlik vir die staat om te aanvaar dat gemeenskappe sonder die staat se insette goed kan vaar en kan presteer. Dit is makliker om eerder die skole wat werk (danksy die rol van beheerliggame) te kaap as om die gemors wat die staat self veroorsaak het, reg te stel. Die staat se oplossing is om skole met behulp van die Bela-wysigingswetsontwerp te sentraliseer. Die Bela-wysigingswetsontwerp gaan egter alle regte wat ouers het, van hulle wegneem en die beheerliggaam sal ingeperk word sodat die staat die septer kan swaai.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, moet die staat meer en meer mag en hulpbronne sentraliseer om sy groot agenda te kan uitvoer. “Dit vereis dat die staat al hoe meer in die vryhede van sy burgers, die ekonomie, die reg en die media moet inmeng. Daardeur word die demokrasie en politieke mag juis die werktuig om die burgers se vryheid te ondermyn en lei die proses algaande tot groter verontregting en later oorheersing,” meen hy.
Die Bela-wysigingswet ontneem leerders van gehalte-onderrig
Die Bela-wysigingswetsontwerp is onlangs deur die parlementêre portefeuljekomitee aanvaar en min stappe bly oor voordat die bose wet deur die president onderteken kan word.
Indien mnr. Ramaphosa besluit om die wysigingswet te bekragtig, sal provinsiale onderwysdepartementshoofde seggenskap oor skole se taal- en toelatingsbeleid verkry en beheerliggame se hande sal afgekap word en hulle sal eenvoudig nie meer die skool se eie beleid kan implementeer nie.
Die wysigingswet ontstel ouers en laat hulle verward. Daar is onsekerheid oor of skole nog gaan funksioneer soos dit tans die geval is en baie ouers wil nie hul kinders in staatskole plaas nie. Dit is in elk geval strydig met wat die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 ten doel gehad het om te bereik.
Volgens Jean-Marè Malan het sy gekies om haar kind in ʼn spesifieke skool te sit omdat die skool van haar keuse ʼn sekere kultuur en waardestelsel handhaaf. Malan sê dat as hierdie wetgewing deurgevoer word, sy haar kind na ʼn privaat skool sal skuif waar die staat geen mag oor haar kind se onderrig het nie. ʼn Ander ouer wat anoniem wil bly, is bekommerd dat die gewysigde Bela-wet die gemeenskap uit die skool gaan laat verdwyn. Die probleem hiermee is dat onderwysers ook daaronder gaan ly indien die gemeenskap wegval.
Hoe kan ʼn staat oor ons kinders se toekoms heers as hy nie eers ʼn skool in stand kan hou nie? Solidariteit wil graag hoor wat jou gevoel as ouer oor die Bela-wet is. Klik hier om ons opname te voltooi. Elke ouer se stem moet gehoor word!
As die staat ons uitskop, skop gemeenskap in. #RaakTuis by Solidariteit om te veg vir ʼn beter toekoms vir jou en jou nageslag.