loading
Artikels
9 maande gelede
die-belangrikheid-van-werk-lewe-balans-vir-jong-beroepsmense

Foto Krediet: OkayDeer

Die belangrikheid van werk-lewe-balans vir jong beroepsmense

Deur Nico Strydom

Dit kan baie opwindend wees om as jong mens met jou professionele loopbaan te begin, maar dit kan ook net so maklik gebeur dat jy jou werk voor alles anders in jou lewe stel.

ʼn Werk-lewe-balans is uiters belangrik vir jong professionele persone. Om net op jou werk te fokus, kan ʼn negatiewe invloed op ander gedeeltes van jou lewe hê, soos jou gesondheid, jou verhoudings en jou sosiale lewe. Dit kan ook uitbranding veroorsaak. Indien jy jouself vir die eerste keer in ʼn beroep bevind, lees meer hier oor wat dit vir jou as jong werkende beteken.

Daar is talle redes waarom iemand langer en harder werk. Dit sluit onder meer in ʼn veeleisende bestuurder, druk van kollegas of familie en vriende, finansiële redes en ʼn begeerte om jouself te bewys en om suksesvol in jou loopbaan te wees. Dit is egter belangrik om reeds vroeg in jou loopbaan ʼn goeie werk-lewe-balans te handhaaf anders kan dit maklik vir die res van jou loopbaan ʼn probleem wees.

Navorsing het bevind dat ʼn gesonde werk-lewe-balans uiteindelik ook produktiwiteit verhoog, afwesigheid verminder, geestesgesondheid positief beïnvloed en beter verhoudings tot gevolg het.

Die eerste stap om ʼn beter werk-lewe-balans te handhaaf, is om introspeksie te doen en die redes te identifiseer waarom jy dit doen, hoe dit jou laat voel en wat die gevolge daarvan is. Dit is belangrik om grense te stel deur te leer om nee te sê. Hoewel almal nou en dan oortyd moet werk, moet dit egter nie elke dag en elke naweek die norm wees nie. Grense stel behels ook om nie 24 uur per dag beskikbaar te wees of om in die aand na werk die heeltyd jou e-posse na te gaan nie.

Nog maniere om ʼn beter werk-lewe-balans te handhaaf is om jou etenspouse te neem. Dit beteken nie om dit by jou lessenaar te sit en afwurg nie, maar om die 30 na ʼn uur toe te gebruik om behoorlik te eet. Jy kan ook die tyd gebruik om jou gedagtes te orden, die res van jou dag te beplan of om net niks te doen nie en weer energie bymekaar te kry vir die res van die dag.

Kommunikasie met jou bestuurder kan ook help verseker dat daar nie te veel hooi op jou vurk is nie. Jou bestuurder weet dalk heel moontlik nie dat jou werklading te groot is nie. Indien daar ʼn oop kommunikasiekanaal is, kan daar gesels word oor spertye, verdeling van werklading en prioritisering.

Dit is dalk makliker gesê as gedaan om jou werk by die werk te los. Vind dus maniere om te ontspan en stres te verminder wanneer jy nie by die werk is nie. Skep jou gratis profiel op Solidariteit en raak vandag nog deel van ʼn Beroepsnetwerk waar jy jouself kan wees in ʼn netwerk wat jou sal verstaan.

 

 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel