Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Die Boufonds bou die toekoms vir Afrikaanse opleiding
Daar is heelwat onsekerhede in Suid-Afrika. ʼn Mens hoef nie ver te gaan soek om te besef dat daar ʼn groot vaardigheidstekort in Suid-Afrika is nie. Goeie opleiding is skaars en ʼn tekort aan vaardighede belemmer jou toekoms en werksekerheid – dit is juis die knelpunt wat deur die Solidariteit Boufonds aangepak word.
Solidariteit se opleidingsinstansies het geen bekendstelling nodig nie. In die tydperk wat hierdie puik instansies reeds bestaan en groei, het die Sol-Tech Beroepsopleidingkollege en Akademia ʼn verskil in baie jongmense se lewens gemaak deur opleiding in talle vak- en loopbaanrigtings te bied wat op gehalte-onderrig gebaseer is en wat daarop gemik is om die jongmens van vandag voor te berei vir die werkplek van môre.
Die Boufonds is deur Solidariteit gestig omdat Solidariteit glo dat kennis die beste manier is om sy lede in die nuwe, onsekere ekonomie te beskerm. Die Boufonds het juis ten doel om na die behoeftes van jongmense om te sien, want dié wat wil werk, moet werk!
As ʼn Boufonds-lid ondersteun jy Solidariteit met die bou en uitbreiding van hierdie instansies. Die fondse wat deur die Boufonds ingesamel word, is ʼn vrywillige bydrae van jou keuse. Dit sluit wel nie al die voordele van volle Solidariteit-lidmaatskap in nie, maar dit bied aan jongmense die geleentheid om gehalte-onderrig in Afrikaans te ontvang. #ElkeenHelpEen en jou bydrae bring ʼn jongmens ʼn tree nader daaraan om vry, veilig en voorspoedig te lewe.
Wat het die Boufonds al met lede se bydraes bereik?
- Sol-Tech
Die eerste studente is op 1 Februarie 2021 op Sol-Tech se wêreldklaskampus in Monumentpark, Pretoria, verwelkom. Daar word ook reeds beplan om dié kampus uit te brei en om koshuise vir die studente op te rig. Die bou van die kampus is grootliks deur die bydraes van Solidariteit Boufonds-lede moontlik gemaak.
- Akademia se tussentydse kampus en nuwe koshuis
Akademia-studente draf sedert 2021 nou ook voltyds klas op Akademia se kontakkampus in Gerhardstraat, Centurion.
Splinternuwe koshuisverblyf is vanjaar vir Akademia-studente beskikbaar. Die nuwe perseel staan bekend as koshuis@Leriba (die voormalige en bekende Leriba Lodge) en bied uitstekende verblyf en geriewe wat veilige, oop studenteparkering, toegang tot ʼn gimnasium, swembaddens, braaigeriewe, luukse studentekamers, wifi, ontspanningsareas, ʼn eetsaal en restaurant insluit. Die perseel is slegs 2,5 km vanaf Akademia se Gerhardstraat-kampus in Centurion.
Die verblyf huisves 116 studente in dubbelkamers met aangrensende badkamers.
- Akademia se nuwe kampus
Daar word fluks gevorder met die beplanning van ʼn nuwe Akademia-kampus. Sowat 200 ha grond is in Pretoria aangekoop en argitekte het reeds die eerste konsepuitleg van die kampus voltooi. Die Akademia-projek gaan uiteindelik sowat R1,5 miljard kos.
- Skole
In samewerking met Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) word daar reeds beplan en ontwikkel aan ʼn Afrikaanse privaat skool.
- Bo-Karoo Opleiding
Bo-Karoo Opleiding is op Orania gevestig en fokus op tegniese opleiding en opleiding in tuisversorging. Bo-Karoo Opleiding is onlangs geakkrediteer om ook landboubestuursopleiding aan te bied en het vanjaar die eerste studente in dié rigting verwelkom.
- Studiefondse
Die Solidariteit Boufonds en Solidariteit skenk ongeveer R600 000 per maand aan die Helpende Hand Studietrust om behoeftige Afrikaanse studente se studie deur middel van rentevrye studielenings te befonds.
Hierdie geld word dan elke maand aan drie studiefondse toegedeel, naamlik die Akademia Skenkingsfonds, Sol-Tech Skenkingsfonds en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum Skenkingsfonds.
Jou bydrae maak dit vir jongmense moontlik om ʼn vrye, veilige en voorspoedige toekoms vir hulleself te verseker. As die regering ons nie wil help nie, help ons mekaar – #ElkeenHelpEen.
Ondersteun die Solidariteit Boufonds, klik hier.