Foto Krediet: Getty Images
Gekopieër
Vele beloftes en min duidelikheid oor onderwys in die Staatsrede
Deur Robin-Lee Maré
President Cyril Ramaphosa het in sy Staatsrede van 2026 weer sterk klem op onderwys as die sleutel tot Suid-Afrika se toekoms gelê.
Die fokus val veral op vroeëkinderontwikkeling (VKO), verpligte Graad R en verbeterde geletterdheid. Hoewel die doelwitte op papier indrukwekkend klink, meen Solidariteit dat die werklike toets in die uitvoering en befondsing van hierdie planne lê.
Vroeëkinderontwikkeling en verpligte Graad R
Ramaphosa het aangekondig dat toegang tot vroeëkinderontwikkeling uitgebrei sal word deur die Bana Pele-massaregistrasie van VKO-fasiliteite, asook deur verhoogde subsidies vir VKO-leerders. Hy het ook beklemtoon dat die verpligting van Graad R alle kinders ʼn beter begin in hul skoolloopbaan sal bied.
Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), verwelkom die beginsel van vroeë ontwikkeling, maar waarsku dat daar ernstige praktiese knelpunte bestaan.
“Duidelikheid oor befondsing vir Graad R is noodsaaklik. Onderwysposte word verminder en algemene subsidies word afgeskaal. Hoewel verpligte Graad R ontwikkelingsvoordele inhou, skep dit beduidende finansiële uitdagings en plaas dit verdere druk op skole,” sê Prinsloo.
Sy voeg by dat meer subsidies positief sal wees, maar dat die fokus op VKO en registrasies reeds in verlede jaar se Staatsrede aangekondig is – met min sigbare vordering op grondvlak. Volgens haar behoort subsidies oor die hele onderwysstelsel verhoog te word om basiese onderwys volhoubaar te ondersteun.
‘Tweetalige’ moedertaalonderrig onder die loep
Die president het ook verwys na moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys as deel van die strategie om leeruitkomste te verbeter.
Prinsloo is egter duidelik: sogenaamde “tweetalige” moedertaalonderrig is nie die oplossing nie.
“Moedertaalonderrig is uiters belangrik, veral waar begrip en basiese ontwikkeling ter sprake is en nuwe konsepte vasgelê moet word. Kinders moenie te vroeg gedwing word om in meer as een taal te leer nie, maar eerder stelselmatig aan addisionele tale blootgestel word.”
Volgens haar kan ʼn te vroeë skuif na meertalige onderrig juis bydra tot swakker prestasie in kernvakke. “Ons wil hoër deelname in vakke soos Wiskunde en Wetenskap sien – nie die verdere afnames wat tans in hierdie vakke voorkom nie.”
Woorde of werklikheid?
Die Staatsrede van 2026 skets ʼn ambisieuse visie vir onderwys en vaardigheidsontwikkeling. Tog bly die kernvraag hoe hierdie planne deur voldoende befondsing, doeltreffende bestuur en meetbare implementering ondersteun gaan word.
Solidariteit sal voortgaan om onderwysbeleid noukeurig te monitor en te verseker dat beleidsbesluite nie bloot politieke aankondigings bly nie, maar werklike verbetering in klaskamers regoor Suid-Afrika bring. Uiteindelik gaan dit nie oor retoriek nie – dit gaan oor ons kinders se toekoms.