loading
avatar
Blogs
14 uur gelede
juffrou-jy-hoort-hier

Foto Krediet: OkayDeer

Juffrou, jy hoort hier!

(En jy ook, Meneer!)


Deur Johnell Prinsloo

Om ses ure per dag voor ʼn klas te staan en daarna op die sportveld rond te hardloop of in ʼn saal rond te draf, sit nie in enige een se broek nie. Dit verg ʼn besonderse balans tussen geduld, uithouvermoë en ʼn amper bonatuurlike liefde vir dit wat jy doen.

Ek onthou dat mense destyds na onderwys as ʼn halfdagpos verwys het. Jy is mos net tot 14:00 by die skool, waarna jy die res van die middag net rondom die huis besig is om wasgoed te was en jou eie kinders met hul huiswerk te help. Êrens werk jy ook ʼn middagslapie in en vanaand smul jou gesin aan ʼn ete wat Gordon Ramsay jaloers sou maak – nie omdat jy noodwendig die rande in die sak het vir eksotiese disse nie, maar omdat jy mos die tyd het om wonderwerke op te dis.

Jy is inderdaad in ʼn sektor van wonderwerke en dit het selfs meer te doen met die benutting van jou tyd as wat die publiek, en veral ouers, besef.

Terwyl die geskarrel om betyds vir skool te wees ʼn universele uitdaging is, laai jy nie bloot jou bloedjie af op pad na ʼn bestemming waar die volgende koppie koffie uitnodigend op jou wag nie. Nee, die oomblik wanneer jy die skoolhek binnery, is jy op jou pos – paraat en gefokus.

Die volgende stap is om in een stuk by die personeelkamer uit te kom, sonder om jou dood te dra of nóg drie keer kar toe te loop vir nog ʼn lêer of stel boeke wat jy later die dag nodig sal hê. Soms kan jy darem ʼn kind of twee nader hark om die drawerk te doen.

Die personeelkamer bied sy eie uitdagings – om gou-gou iets hier te reël en iets daar vas te maak, om jou beker iewers op te spoor en jou eie persoonlike “regte koffie” in jou poshokkie te gaan haal, omdat jy effe sukkel met die poeier in die glashouertjie by die urn. Gelukkig is dit nie vanmôre jou beurt om te open nie.

Ná al die formaliteite, die nuwe lys van take en ander besprekingspunte, is dit klas toe. Nou begin die regte werk.

Dit is die oomblik wanneer jy jou hart, siel en wese uitstort. Met soveel passie deel jy jou kennis; streef jy daarna dat elke gesiggie ophelder; kontroleer jy huiswerk; maak jy seker elkeen is op datum; en wy jy elke moontlike oomblik aan die ontsluiting van elke jong verstand voor jou en die stimulasie daarvan sodat dieselfde kennis en vaardighede hul eie kan word.

Jy wil elke leerder toerus vir die toekoms, jy wil elkeen in staat stel om tot hul volle potensiaal te ontwikkel en hulle die selfvertroue gee om die toekoms – en elke geleentheid wat daarmee saamgaan – met beide hande aan te gryp.

Juffrou, Meneer, hierdie soort toewyding kan ons nie in boeke of op universiteit aanleer nie. Dit is nie iets wat vanselfsprekend gebeur of wat saam met ʼn graad of sertifikaat oorhandig word nie. Dit word binne jou gebore, wakker gemaak deur die regte blootstelling en geloof, en resoneer uiteindelik as jou roeping. En elke ouer en elke kind – selfs al is hulle nie bewus daarvan nie – is diep dankbaar daarvoor.

Ek dink nie onderwysers besef hoe waardevol hulle is nie, nie net vanweë die onmisbare bydrae wat hulle in die lewens van kinders en hul toekoms lewer nie. Onderwysers is die steunpilare van ons gemeenskap, die bewaarders van kultuur en die instaatstellers van ons toekoms.

Skole is reeds die afgelope paar dekades die kern van die Afrikaanse samelewing. Dit is die grootste bymekaarkomplek waar gemeenskaplike waardes in stand gehou word en met sorg en empatie aan elke volgende geslag oorgedra word.

Sonder onderwysers is skole net geboue en sonder hul ywer en passie is daar geen hartklop, geen bewaring en geen toekoms nie.

Vir enige onderwyser wat voel die admin is te veel (ek stem saam, dit is), of die program dalk te veeleisend, of wat bloot bevraagteken of alles die moeite werd is, wil ek die volgende sê: Jy lewer ʼn bydrae groter as wat jy self ooit sal besef. Jy is deel van ons kulturele behoud en voortbestaan. Jou plek is uitgekies en jy maak elke dag ʼn verskil. Jy is ʼn onmiskenbare deel van ons samelewing en ons is trots om jou as ons eie te kan hê.

Dankie vir jou diens. Moenie daaraan twyfel nie, jy hoort hier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel