Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
SA speel met vuur: Diplomatieke misstappe met VSA raak elke burger
Deur Nico Strydom
Suid-Afrika se diplomatieke verhouding met die VSA is besig om vinnig te verswak, en die kommerwekkendste daarvan is dat dit nie bloot die gevolg is van eksterne druk of geopolitieke spanning nie – maar van ʼn regering wat blykbaar doelbewus volhard in optrede wat die verhouding verder versuur.
Terwyl Suid-Afrika se ekonomie broos bly, beleggersvertroue sukkel om te herstel en gewone huishoudings reeds onder enorme druk verkeer, word die land se internasionale posisie toenemend ondermyn deur ʼn reeks diplomatieke misstappe wat een van Suid-Afrika se grootste handelsvennote vervreem. Hierdie optrede het werklike gevolge vir werksgeleenthede, ekonomiese groei en die welstand van burgers.
Die diplomatieke verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA is die afgelope paar maande op die spits gedryf as gevolg van verskeie misstappe deur die Suid-Afrikaanse regering.
Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het die saakgelastigde van die Israelse ambassade in Pretoria einde verlede maand persona non grata verklaar en hom 72 uur gegee om die land te verlaat. Israel het gereageer deur Suid-Afrika se senior diplomatieke verteenwoordiger ook persona non grata te verklaar en hom beveel om Israel binne 72 uur te verlaat.
Dié ontwikkeling word internasionaal as uiters konfronterend beskou en kan Suid-Afrika se diplomatieke isolasie verdiep. Israel het gewaarsku dat hierdie optrede ernstige gevolge vir bilaterale betrekkinge kan inhou.
Hierdie eskalerende diplomatieke houding kom op ʼn kritieke tydstip. President Donald Trump het die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa) met ʼn jaar verleng en Suid-Afrika is tans nog by die ooreenkoms ingesluit. Jamieson Greer, Amerika se handelsverteenwoordiger, het lande egter gemaan om aan Agoa se streng vereistes vir toelating te voldoen. Sodanige toelatingsvereistes behels dat lande ʼn markgebaseerde ekonomie, die oppergesag van die reg, politieke pluralisme en die reg op ʼn behoorlike proses moet vestig – of voortdurende vordering moet maak om dit te vestig.
Daarbenewens moet lande hindernisse vir Amerikaanse handel en belegging uitskakel, en beleide instel om armoede te verminder, korrupsie te bestry en menseregte te beskerm. Suid-Afrika sal dus moet verseker dat hy aan hierdie voorwaardes voldoen indien hy steeds deel van die Agoa-ooreenkoms wil wees.
Die tragiese ironie is dat die gevolge van hierdie diplomatieke selfvernietiging nie die politieke elite sal tref nie, maar gewone Suid-Afrikaners: werkers in uitvoerbedrywe, boere wat toegang tot markte benodig, entrepreneurs wat afhanklik is van internasionale kapitaal, en huishoudings wat reeds sukkel met hoë lewenskoste.
Buitelandse beleid behoort ʼn instrument van ekonomiese vooruitgang en stabiliteit te wees – nie ʼn speelbal vir ideologiese agendas en interne partypolitiek nie. Suid-Afrika kan eenvoudig nie bekostig om sy verhouding met een van sy belangrikste handelsvennote verder te beskadig nie.
Die vraag is dus nie meer of die regering besig is om diplomatieke skade aan te rig nie, maar hoe lank gewone Suid-Afrikaners nog die prys gaan betaal vir ʼn beleid van konfrontasie, onverantwoordelikheid en selfopgelegde isolasie.
Ander onlangse diplomatieke misstappe sluit onder meer in die omstrede vlootoefening waaraan Iran deelgeneem het en wat tot groot kritiek van die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika gelei het. Dit stuur ʼn duidelike boodskap aan Westerse bondgenote dat Suid-Afrika bereid is om met regimes saam te werk wat onder verdenking is en dat daar geen gronde is vir Suid-Afrika se beweerde neutraliteit nie.
Terselfdertyd het uitlatings deur ʼn verteenwoordiger van Dirco oor kernwapens verdere skade aangerig. In ʼn wêreld waar veiligheid en kernbedreigings nie ligtelik opgeneem word nie, is sulke kommentaar nie net roekeloos nie – dit bevestig die beeld van ʼn regering wat diplomatieke verantwoordelikheid nie met die nodige sorg benader nie.
Die ANC, wat beheer oor buitelandse beleid uitoefen binne die regering van nasionale eenheid, het boonop planne aangekondig vir ʼn massa-optog na Constitutional Hill op Menseregtedag om sy misnoeë met die Trump-administrasie te kenne te gee. Hierdie soort politieke aktivisme sal Suid-Afrika se internasionale posisie waarskynlik verder verswak.