loading
avatar
Artikels
15 uur gelede
solidariteit-behaal-oorwinning-namens-polisiekaptein-van-kimberley

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit behaal oorwinning namens polisiekaptein van Kimberley

Deur Robin-Lee Maré

ʼn Polisiekaptein van Kimberley wie se aansoek om bevordering sonder regverdiging oor die hoof gesien is, is ná ingryping van Solidariteit tóg vir die onbillike oorsig vergoed.

Solidariteit het namens die lid, kapt. Michelle Norman, ʼn dispuut teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verklaar nadat sy aansoek gedoen het vir bevordering na die rang van luitenant-kolonel by die Galeshewe Misdaadinligtingsbestuur- en ontledingsentrum (CIMAC).

Haar aansoek is egter nie oorweeg nie en Norman, wat aan die Noord-Kaapse provinsiale mensehulpbronkantore van die SAPD verbonde is, is dus ʼn regverdige geleentheid geweier om vir die bevordering mee te ding.

Die saak is gevolglik deur Solidariteit na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Ten spyte van haar ervaring en geskiktheid vir die pos, het die SAPD besluit om Norman nie as kandidaat te oorweeg nie.

Ná aanhoor van die saak, het kommissaris David Pietersen bevind die SAPD was skuldig aan onbillike arbeidspraktyk. As regstelling is drie maande se vergoeding aan Norman toegeken.

Volgens Adéle Botha, regsbeampte by Solidariteit, beklemtoon hierdie uitkoms ʼn kernbeginsel in die arbeidsreg.

“Werkgewers moet met omsigtigheid, billikheid en deursigtigheid optree wanneer gekwalifiseerde en ervare werknemers aansoek doen vir bevorderingsgeleenthede. Werknemers word in hierdie verband beskerm deur die Wet op Arbeidsverhoudinge, sowel as deur die Grondwet van Suid-Afrika, wat elkeen die reg tot billike arbeidspraktyke waarborg,” verduidelik Botha.

Botha voeg by dat billike arbeidspraktyke nie bloot ʼn tegniese vereiste is nie, maar ʼn noodsaaklike grondslag vir ʼn gesonde werksomgewing.

“Billike arbeidspraktyke is noodsaaklik vir die handhawing van ʼn regverdige werksomgewing. Dit is ook ʼn fundamentele steunpilaar van ʼn gesonde werknemersmoraal, wat deurslaggewend is vir die sukses van enige organisasie.”

Solidariteit bly ten alle tye daartoe verbind om werkgewers aanspreeklik te hou wanneer werknemers se regte geskend word. Die vakbond sal voortgaan om te verseker elke lid se reg tot billike arbeidspraktyke word beskerm en afgedwing.

Hierdie saak dien as ʼn duidelike herinnering: Bevorderingsprosesse moet regverdig, deursigtig en in ooreenstemming met die wet wees. Geen werknemer behoort sonder billike en regmatige oorweging uitgesluit te word nie.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel