
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die dag toe jy uitgevind het jy moet jou eie belasting doen
Deur Kyla-Ann du Toit
Stel jou voor: Jy begin met jou eerste werk, sien die bedrag wat vir belasting afgetrek is op jou salarisstrokie en dink: Dankie tog! My belasting is nou gedoen. Tot jy van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) (ja, dit is die Afrikaanse naam vir SARS) se belastingseisoen hoor – en jy besef dat jy eintlik sélf jou belastingopgawe moet indien …
Om hierdie groot klip vir jou uit die pad te help rol, het Solidariteit met Nikki Kennedy, ʼn rekenmeester en dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, gesels. Hierdie praktiese gids is saamgestel op grond van haar kundige raad – spesiaal vir jong werkendes wat nog nie vertroud is met die wêreld van belasting nie.
1. Jou werk trek belasting af, maar …
Indien ʼn werkgewer jou as werknemer vir jou “diens” vergoed, is dit die werkgewer se verantwoordelikheid om jou belasting in die vorm van werknemersbelasting (bekend as LBS) maandeliks af te trek en dit aan die SAID oor te betaal. Maar – en dit is ʼn groot maar – dit beteken nie dat jou belastingopgawe outomaties ingedien is nie. Jy is steeds verantwoordelik daarvoor om dit self op eFiling te doen of na te gaan.
2. Kry jou belastingnommer
Om belasting namens jou aan die SAID te betaal, benodig jou werkgewer jou persoonlike belastingnommer – dit koppel die belasting direk aan jou naam en belastingprofiel. As jy nog nie vir belasting geregistreer is nie, moet jy dit so gou as moontlik doen. Besoek www.sars.gov.za en volg die stappe onder “How do I register for tax?”. Daar is ook kort video’s op SARS TV op YouTube beskikbaar wat die proses eenvoudig verduidelik.
Jou werkgewer het jou persoonlike belastingnommer nodig om:
- 1. werknemersbelasting aan die regte individu te koppel
- 2. die IRP5-belastingsertifikaat korrek op te stel (Ons verduidelik binnekort hierdie begrip.)
- 3. die nodige inligting aan die SAID te verskaf sodat dit met jou persoonlike belastingprofiel ooreenstem.
As jy nog nie ʼn belastingnommer het nie, kan jou werkgewer jou soms help om te registreer, maar dit bly steeds jou verantwoordelikheid om te verseker dat jy wel geregistreer is.
3. Wat het jy nodig om jou belastingopgawe in te dien?
Jy benodig die volgende:
- • Jou belastingnommer: Jou unieke SAID-nommer wat jy nodig het om ʼn belastingopgawe in te dien.
- • Jou IRP5-sertifikaat: ʼn Opsomming van jou jaarlikse inkomste en die belasting wat deur jou werkgewer aan die SAID betaal is.
- • Jou mediesefondssertifikaat: Bewys van mediesefondsbydraes wat jou belasting kan verminder.
- • Bewyse van ander inkomste: Dokumentasie van enige ekstra inkomste, soos vryskutwerk of rente.
- • Bewyse van aftrekkings: Sertifikate van bydraes tot, onder meer, pensioen- of beleggingsfondse wat jou belasting kan verminder.
Wenk: Skep ʼn digitale lêer op jou rekenaar of in jou wolkberging waar jy elke jaar jou belastingdokumente kan stoor. Jy sal jouself met die volgende belastingseisoen hiervoor bedank!
4. Moet jy belasting indien?
As jou jaarlikse inkomste meer as R95 750 is, moet jy waarskynlik ʼn belastingopgawe indien. Indien jy bykomende inkomste verdien (byvoorbeeld uit ʼn “side hustle”), is dit jou verantwoordelikheid om dit te verklaar. Selfs al is geen belasting van daardie inkomste afgetrek nie, vereis die SAID steeds dat jy dit verklaar. Die doel is nie altyd om jou (meer) belasting te laat betaal nie – soms beteken dit dat jy in aanmerking kom om geld terug te kry!
5. Wat is ʼn IRP5?
ʼn IRP5 is ʼn belastingsertifikaat wat deur ʼn werkgewer opgestel en uitgereik word. Dit wys jou inkomste, aftrekkings en die belasting wat namens jou aan die SAID betaal is.
6. Jou belasting; jou verantwoordelikheid!
Volgens Nikki is die grootste fout om nie ag te slaan op jou verantwoordelikhede as belastingpligtige nie. Al trek jou werkgewer belasting af en dien jou IRP5 by die SAID in, bly dit jóú plig om te verseker dat alle inligting korrek en volledig is. Jy moet self op eFiling aanmeld, jou inligting nagaan en jou opgawe indien, of bevestig dat dit korrek ingedien is. Onthou, as daar ʼn fout is, kyk die SAID na jóú – nie na jou werkgewer nie.
7. Wanneer moet jy hulp kry?
As jy onseker is of jy inkomste het wat nie op jou IRP5 verskyn nie, is dit slim om ʼn geregistreerde belastingpraktisyn te raadpleeg. Só ʼn persoon is opgelei en wettig gemagtig om belastingadvies te gee en sal jou help om foute of boetes te vermy. Maak egter seker dat die persoon wel by ʼn erkende liggaam soos SAIPA, SAICA of SAIT geregistreer is.
Solidariteit is hier vir jou – van eerste salaris tot aftrede
Jong werkende, moenie dat hierdie molshoop soos ʼn berg voel nie. Solidariteit staan gereed om jou op jou loopbaanpad by te staan – stap vir stap!
Danksy jou gratis Solidariteit-profiel kry jy toegang tot praktiese hulpmiddels, insluitend ʼn aanlyn belastingkursus wat spesiaal vir jong werkendes ontwikkel is. Klik hier om die kursus te voltooi. Ons het ook ʼn nuttige belastinggids saamgestel om jou te help om jou eerste belastingopgawe te voltooi. Laai dit hier af.
Maak gebruik van hierdie hulpbronne. Jy verdien dit om jou loopbaanpad met selfvertroue en sukses te stap! Klik hier om jou profiel te skep.