Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Die Departement van Onderwys se kurrikulum van middelmatigheid
Leré Nel
Cherry-picking.
Dit is wat die Departement van Basiese Onderwys glo voormalige model C-skole doen wanneer hulle leerders aanvaar op grond van “akademiese prestasie, sport, leierskap, musiek of ander agtergrondinligting.”
Met ander woorde, meriete.
Volgens die DBO word die bogenoemde kriteria deur sommige skole as ʼn “hidden selection system” gebruik om leerders weg te wys of om meer verkieslike leerders te aanvaar – en só teen swart en werkersklas-leerders te diskrimineer.
Wat my eerste opgeval het toe ek ʼn berig daaroor lees, was die feit dat die departement geen tasbare bewyse kon lewer dat diskriminasie wel die doel is nie. ʼn Veel meer waarskynlike (en logiese) rede vir vorige model C-skole om onderhoude met leerders te voer en merietegebaseerde kriteria toe te pas, is om ʼn kultuur van uitnemendheid te handhaaf wat reeds gevestig is, en om te verseker dat leerders wat uitnemende skole bywoon, ook gemotiveerd is om na uitnemendheid te streef.
Die “voormalige model C-skole” waarna die DBO verwys, is openbare skole wat in vele opsigte soos privaat skole funksioneer. Hierdie skole ontvang ondersteuning, finansieel en andersins, van skoolbeheerliggame, ouers wat getrou skoolfondse betaal en die breër skoolgemeenskap. Dit is danksy al hierdie ondersteuning, benewens die (uiters beperkte) fondse wat die staat aan hierdie skole beskikbaar stel, dat hulle bekend is vir hoë akademiese standaarde, goeie fasiliteite en uitnemendheid in sport- en kultuuraktiwiteite … terwyl die res van die openbare skole verval.
As ouers se ondersteuning en skoolfondse die hoofelement is wat hierdie skole van ander staatskole onderskei wat baie swakker presteer, is dit tog nie verregaande om seker te maak dat ouers skoolfondse kan betaal nie?
Maar ek laat dit daar.
Die tweede kwessie, wat my eintlik nóg meer bekommer, is die feit dat die DBO se voorstel minderbevoorregte leerders van die één stuk gereedskap sal beroof wat hulle sou kon gebruik om bo hul omstandighede uit te styg: meriete.
As akademiese prestasie, leierskaprolle en deelname aan sport- en kultuuraktiwiteite uit skole se aansoekprosesse gelaat word, wat sal die gevolg wees? Enigiemand kan toegelaat word: bevoorreg of minderbevoorreg, ryk of arm, swart of wit. Daar is géén kriteria nie. En die DBO wil dit sommer van jongs af vir kinders leer – dat meriete nie saakmaak nie.
Die ironie is dat talent, hardwerkendheid en intelligensie juis die dinge is wat ʼn leerder wat nie baie geleenthede gehad het nie, sou kon gebruik om toelating tot topskole te kry – en so hulself uit hul omstandighede op te hef. Jy benodig immers nie ryk ouers om hardwerkend en skrander te wees nie!
Maar in plaas daarvan om minderbevoorregte leerders toe te laat om hulself te help, wil die DBO eerder almal help – selfs dié wat nie hulp benodig nie. Die doel is edel, maar die middele is teenproduktief.
Ek verstaan die DBO se redenasie. Dit is altyd makliker om af te breek as om iets op te bou.
As ons die “speelveld gelyk wil maak” is dit makliker om eerder die uitnemende skole tot middelmatigheid te reduseer as wat dit is om swak, sukkelende openbare skole op te bou.
Maar as ons uiteindelik die regte probleem aanspreek, sal dit nie nodig wees vir gewysigde kriteria vir toelating tot goeie skole nie.
Daar sal meer goeie skole wees om van te kies.