loading
avatar
Artikels
3 dae gelede
lees-jou-klas-die-belangrikste-vaardigheid-wat-geen-handboek-jou-leer-nie

Foto Krediet: Verskaf

Lees jou klas – die belangrikste vaardigheid wat geen handboek jou leer nie

Deur Tiaan Schoeman, netwerkorganiseerder van die Solidariteit Onderwysernetwerk

Na my mening is een van die belangrikste vaardighede wat ʼn onderwyser kan hê om hul klas te kan “lees”.

Ons spandeer baie tyd aan lesbeplanning, assesserings en administrasie, maar soms vergeet ons dat die leerders reg voor ons vir ons wys of die les werk of nie.

Jy kan gewoonlik binne ʼn paar minute sien wanneer ʼn klas saam met jou beweeg. Hulle kyk op, neem deel, antwoord vrae en volg die gesprek. Maar jy kan net so vinnig sien wanneer hulle aandag begin afdwaal. Die venster word skielik baie interessant, die potlode begin draai en die geselsies begin.

Dis normaal. Kinders kan nie vir ʼn hele periode lank net sit en luister nie.

Een ding wat ek geleer het toe ek in die onderwys was, is dat jy nie altyd moet aanhou praat wanneer jy sien die klas verloor fokus nie. Soms moet jy die ratte verander.

As ek gesien het hulle aandag begin dwaal, het ek dikwels ʼn kort video gewys, ʼn storie vertel of die werk op ʼn ander manier verduidelik. Partykeer was dit net genoeg om hulle aandag weer te kry.

Ons moet ook onthou dat hierdie generasie baie anders grootword as wat ons grootgeword het. Vandag se kinders spandeer ure per dag op skerms. Hulle kyk video’s, speel speletjies en kry heeltyd nuwe inligting. Dit beteken nie ons moet die klas in ʼn vermaaklikheidsprogram verander nie, maar dit beteken wel dat ons soms visuele hulpmiddels moet gebruik om hulle aandag te hou.

Dis ook waar hulpmiddels, soos Wolkskool, baie handig kan wees. Daar is uitstekende video’s en hulpbronne beskikbaar wat ʼn les net daardie ekstra bietjie lewe kan gee wanneer jy sien die klas begin belangstelling verloor.

Nog iets wat vir my baie goed gewerk het, was om nuuskierigheid te skep. Selfs die verveligste werk kan interessant raak as jy die regte vraag vra. In plaas daarvan om sommer net die werk te begin verduidelik, kan jy vra: “Wie dink hulle weet hoekom dit gebeur?”; “Wat dink julle gaan gebeur as ons dit probeer?”; “Hoekom dink julle het mense hierdie ontdek?”

Kinders hou daarvan om antwoorde te soek. As jy hulle eers nuuskierig kry, doen jy klaar die helfte van die werk.

ʼn Ander strategie wat vir my groot sukses gebring het, was my Vrydag-kompetisie.

Elke Vrydag het ek ʼn baie kort toets gegee oor die werk wat ons deur die week behandel het. Dit was nie iets groots of stresvol nie. Ek het gewoonlik ʼn paar lekkers gehad vir die leerders wat volpunte gekry het.

Maar die belangrikste was nie die lekkers nie. Ek het hulle prestasies gevier, hul geluk gewens, hul name genoem en gewys dat harde werk raakgesien word.

Na ʼn paar weke het ek begin sien hoe die klas verander. Meer leerders het aandag gegee, meer vrae is gevra en meer werk is voltooi.

Hulle het geweet Vrydag kom, en hulle het geweet hul moet deur die week bybly.

Ek glo nie daar is een metode wat vir elke klas werk nie. Elke groep kinders is anders. Maar ek glo ons moet altyd bereid wees om die klas te “lees” en jou metodes aan te pas.

Soms werk ʼn video. Soms werk ʼn grappie. Soms werk ʼn kompetisie. En soms werk dit om bloot op te hou praat en vir die leerders ʼn vraag te vra.

Die geheim lê daarin om jou leerders te ken, want wanneer kinders nuuskierig is, bly hulle betrokke. En wanneer hulle betrokke is, gebeur die leerwerk amper vanself.


Tiaan het ná universiteit vir vyf jaar in Xi’an, China, skoolgehou. Hy het tydens Covid-19 teruggekom Suid-Afrika toe waarna hy by Barberton Laerskool begin skoolgee het. Hy is sedert 2024 deel van die Solidariteit-span.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel