
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Die droom van die Regsnetwerk- en Finansiesnetwerk-studiefondse
Deur Leré Nel
Elke suksesvolle loopbaan begin met ʼn kans – ʼn kans om te studeer, om te groei, om by ʼn beroep in te skakel. Maar wat gebeur as talentvolle jong mense nie die finansiële middele het om daardie kans aan te gryp nie?
Dít is die doel van die Solidariteit Regsnetwerk- en Finansiesnetwerk-studiefondse – om te verseker dat geld nooit die rede is waarom ʼn student se droom doodloop nie.
“Ons kan nie toelaat dat finansiële uitdagings in die pad staan van studente wat hul drome najaag nie,” sê Tanja Kitching, fondsbestuurder van die Helpende Hand Studietrust, wat hierdie twee fondse administreer. Sy verduidelik dat die studiefondse aansluit by die visie van Solidariteit se Regs- en Finansiesnetwerke om die belange van dié beroepe gesamentlik te bevorder en om jong mense ʼn kans te gee om ʼn loopbaan in hierdie rigtings na te jaag. “Die langtermynverskil wat ons hierdeur wil maak, is dat studente uiteindelik hul roeping deur hul studies sal vind en weer terugploeg in hul eie gemeenskappe,” sê sy.
Waarom juis hierdie studierigtings?
Volgens Kitching is hierdie fondse spesifiek gestig vir regs- en finansiestudente omdat hierdie rigtings uitstekende loopbaanvooruitsigte bied en baie ruimte vir impak skep:
“Regstudies open deure na verskeie beroepe – van prokureurs en advokate tot regslui in die regering, die korporatiewe sektor, menseregte-organisasies en selfs joernalistiek of politiek. Dit is ʼn veelsydige graad wat kritiese denke en probleemoplossing bevorder.” Dieselfde geld vir finansiële rigtings, sê sy: “Studies in ʼn finansiële rigting bied toegang tot ʼn wye reeks beroepe in rekeningkunde, belegging, bankwese, versekeringsdienste, belastingadvies en selfs regeringsrolle in fiskale beleid.”
Die behoefte is groot – en groei steeds
Die Helpende Hand Studietrust ontvang gemiddeld 180 aansoeke per jaar van regs- en finansiestudente wat afhanklik is van finansiële hulp om te kan studeer. Tans is die gewildste studierigtings BCom Ondernemingsbestuur, LLB en BCom Bestuursrekeningkunde.
Slegs studente wat by Akademia studeer en wat lede van Solidariteit Jongwerkendes is, kwalifiseer om aansoek te doen. Die ondersteuning word verleen in die vorm van rentevrye studielenings waarvoor studente jaarliks moet aansoek doen. Die fondse word gebruik om die student se klasgelde te betaal.
“Rentevrye studielenings is ʼn baie volhoubare manier om hierdie studiefondse te bestuur, aangesien die terugbetaling van die studente weer in die relevante studiefondse geallokeer word,” verduidelik Tanja. “Só help elke afgestudeerde student se terugbetaling weer ʼn nuwe student om te kan studeer.”
Waarom die gholfdag?
Een van die doeltreffendste maniere om hierdie fondse aan die gang te hou, is deur inisiatiewe soos die Regsnetwerk- en Finansiesnetwerk-gholfdag wat op 23 September 2025 plaasvind.
“Die Studietrust is ʼn bewys van wat moontlik is wanneer ʼn gemeenskap saamstaan. Dít is slegs moontlik danksy die vrygewigheid van individue, ondernemings en ondersteuners wat in die volgende geslag belê, deur hulle donasies en skenkings,” sê Tanja.
Jou deelname of borgskap by die gholfdag maak dus ʼn tasbare verskil – nie net vir ʼn individu nie, maar vir ʼn hele gemeenskap.
“Die sukses en impak van hierdie studiefondse word gemeet aan die 98%-terugbetalingskoers van die rentevrye studielenings. Dit spreek daarvan dat die lenings nie alleenlik deur regsverpligting terugbetaal word nie, maar omdat elke student inkoop in die feit dat die terugbetaling dit moontlik maak vir die volgende student om te kan studeer,” vertel Tanja trots.
Kom bou saam aan die beroep!
Of jy nou ʼn sake-eienaar, regspraktisyn of finansiële spesialis is – jou bydrae help om aan die volgende generasie regslui en finansiële kundiges te bou. As jy ʼn vierbal bespreek, ʼn putjie borg of bloot ʼn bedrag skenk, help jy om studiefondse te laat groei en drome moontlik te maak.
Bespreek jou plek vir die gholfdag hier!
Want elkeen wat wíl studeer, moet kán studeer.