
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Die perfekte verskoning om gholf op ʼn Dinsdag te speel! Bespreek jou vierbal nou.
Deur Leré Nel
Dit is nie elke dag dat jy jou passie vir gholf, jou netwerk én jou maatskaplike betrokkenheid in een dag kan kombineer nie. Maar dit is presies wat jy kan regkry wanneer jy jou vierbal vir Solidariteit se Regsnetwerk en Finansiesnetwerk se 2025-gholfdag bespreek.
Op 23 September 2025 bied dié twee beroepsnetwerke ʼn unieke fondsinsamelingsgeleentheid aan by die pragtige Copperleaf Golf and Country Estate. Dit is ʼn dag waar jy jou gunstelingstokperdjie kan geniet, terwyl jy ʼn behoeftige student help.
Die groter doel
Deur ʼn vierbal by vanjaar se gholfdag te bespreek, help jy nie net om ʼn Afrikaanse jongmens se toekomsdrome te verwesenlik deur hul studies te help finansier nie, maar jy bou ook saam aan ʼn volhoubare toekoms vir jou gemeenskap. Jy hoef ook nie in die regs- of finansiesbedryf te werk om deel te neem nie – enigiemand is welkom!
Alle fondse wat op die dag ingesamel word, gaan direk na ʼn studiefonds vir Afrikaanse regs- en finansiesstudente. Hierdie fondse ondersteun verdienstelike studente wat nie noodwendig oor die finansiële middele beskik om hul studies voort te sit nie. In 2024 is reeds meer as R19 miljoen aan studiefondse deur die Solidariteit Beweging toegeken. Dít is die verskil wat jou deelname help maak.
ʼn Waardevolle netwerkgeleentheid
Benewens die goeie doel, is die gholfdag ook ʼn uitstekende netwerkgeleentheid vir jou besigheid. Die dag bring mense uit verskeie beroepsvelde bymekaar – van regs- en finansiële praktisyns tot entrepreneurs en ander rolspelers uit verskillende sektore. Hier word verhoudings gesmee, waardevolle besigheidskontakte en toekomstige samewerkings moontlik gemaak.
As jy dus op soek is na ʼn manier om jou onderneming se sigbaarheid te vergroot én ʼn verskil in jou gemeenskap te maak, is dié gholfdag jou kans om dit alles met een hou te doen.
Besonderhede oor die dag:
Datum: 23 September 2025
Plek: Copperleaf Golf and Country Estate
Tyd:
- 10:00 – Registrasie
- 11:00 – Afslaan
- 18:00 – Prysuitdeling
RSVP teen 31 Julie 2025 (ʼn bewys van betaling word vereis om deelname te verseker).
Bou vandag, beleef môre die verskil
“Die bydraes van gholfspelers, borge en deelnemers stel ons in staat om die regs- en finansiële praktisyns van die toekoms te laat studeer,” sê Tanja Kitching, fondsbestuurder van die Helpende Hand Studietrust. “Ons kan nie toelaat dat finansiële uitdagings in die pad staan van studente wat hul drome wil najaag nie.”
Jou vierbal is nie net ʼn entjie gholf nie – dit is ʼn belegging in talent, potensiaal en toekoms.
Slaan saam met ons ʼn hou vir die toekoms.