loading
avatar
Artikels
10 uur gelede
die-druk-op-gen-z-in-die-werkplek

Foto Krediet: Okay Deer

Die druk op Gen Z in die werkplek

Gen Z – die generasie wat ongeveer tussen 1997 en 2012 gebore is – betree ʼn arbeidsmark wat aansienlik anders lyk as dié van vorige generasies. Hulle is die eerste generasie wat grootgeword het met slimfone, sosiale media en konstante digitale verbinding. Hierdie realiteit bring nuwe geleenthede, maar ook unieke druk wat jong werkendes op ʼn ander manier as voorheen ervaar.

Volgens navorsing van StanfordReport word Gen Z beskryf as ʼn generasie wat hoogs selfgedrewe, pragmaties en samewerkend is, met ʼn sterk fokus op diversiteit, outentiekheid en betekenisvolle werk. Hulle is ook geneig om gevestigde norme te bevraagteken en verkies om in omgewings te werk waar kommunikasie duidelik is en waar hulle hul eie unieke identiteit kan uitleef.

ʼn Wêreldwye opname deur Deloitte toon ook dat jong werkendes toenemend bekommerd is oor finansiële stabiliteit, geestelike welstand, loopbaanontwikkeling en die vinnige tempo van tegnologiese verandering. Hierdie faktore dra by tot hoër vlakke van stres en onsekerheid oor die toekoms.

Die druk om voortdurend aan te pas

ʼn Belangrike uitdaging vir Gen Z in die werkplek is hul behoefte om vinnig aan te pas by veranderende werksomgewings, tegnologie en werkgewerverwagtinge. Volgens Future SA is aanpasbaarheid een van die kernfaktore wat bepaal of jong werkendes suksesvol sal wees in hul loopbane.

Die arbeidsmark vereis toenemend werknemers wat nie net tegnologies vaardig is nie, maar ook bereid is om voortdurend nuwe vaardighede te ontwikkel en verskillende rolle en werksomstandighede te vervul.

Die invloed van sosiale media en vergelyking

Waar vorige generasies hul loopbane in relatiewe isolasie opgebou het, word Gen Z daagliks blootgestel aan ander se prestasies op sosiale media. Dit kan lei tot konstante vergelyking en die gevoel dat ander vinniger vorder of meer suksesvol is.

Navorsing van die American Psychological Association wys dat oormatige blootstelling aan sosiale media verband hou met verhoogde vlakke van angs, stres en selftwyfel, veral onder jong volwassenes.

Minder werksekerheid en ekonomiese druk

In Suid-Afrika bly jeugwerkloosheid ʼn groot uitdaging. Data van Statistics South Africa toon dat jongmense steeds een van die mees kwesbare groepe in die arbeidsmark is.

Selfs vir diegene wat werk kry, is daar dikwels onsekerheid oor langtermynstabiliteit en loopbaanvordering. Hierdie realiteit plaas ekstra druk op jong werkendes om hulself voortdurend te bewys.

Volgens Myrtle Endley, ʼn navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut, is die uitdaging waarmee talle jongmense in die werkplek regoor die wêreld sit, ʼn kritiek teenoor werknemers wat gelukkig is met ʼn 9-5 kantoorwerk en ʼn oorbeklemtoning van ledigheid as werklike vryheid.

“Duisende jare bewys dat opofferings, hetsy by die werk, vir jou familie of jou gemeenskap, is die enigste ware manier om vervulling te beleef,” sê sy. “Ons is gemaak om die wêreld ʼn beter plek te maak, nie om daagliks skemerkelkies op die strand te drink nie.”

Hierdie perspektief beklemtoon die spanning tussen moderne “vryheidsideale” en die realiteit van volhoubare loopbaanbou en betekenisvolle werk.

Hoe kan Gen Z hierdie druk bestuur?

1. Behandel leer as ʼn deurlopende proses

Die moderne werkplek vereis voortdurende ontwikkeling. Jong werkendes wat bereid is om nuwe vaardighede aan te leer, het ʼn duidelike voordeel in ʼn vinnig veranderende arbeidsmark. Solidariteit-aanlyn bied verskeie praktiese kursusse aan wat jong mense help om hul vaardighede uit te brei en meer werkgereed te wees.

2. Bou sterk professionele netwerke

Mentorskap en beroepsnetwerke kan jong werkendes help om rigting, ondersteuning en geleenthede te kry.

Solidariteit se beroepsnetwerke is ʼn gemeenskap van individue in die werksmag in ʼn spesifieke bedryf. Hierdie groep eendersdenkende, hardwerkende mense vorm ʼn netwerk waar mense by mekaar kan leer, idees kan deel en op hoogte kan bly van die jongste verwikkelinge in hulle bedryf. Die beroepsnetwerke bied ook gereeld in-persoon netwerkgeleenthede aan, veral vir jong werkendes om by meesters in hulle beroepsveld te leer.

3. Ontwikkel ʼn gesonde verhouding met sosiale media

Om jouself voortdurend met ander te vergelyk, kan loopbaangroei benadeel. Fokus eerder op persoonlike doelwitte, leer en vordering. Sukses lyk anders vir elke individu en volg selde ʼn reguit pad.

4. Bou veerkragtigheid in ʼn onsekere arbeidsmark

In ʼn ekonomie waar verandering konstant is, is aanpasbaarheid en emosionele veerkragtigheid noodsaaklik. Jong werkendes wat leer om onsekerheid te hanteer, vaar beter op die langtermyn.

Floreer in jou loopbaan met Solidariteit aan jou kant

Met die regte ondersteuning, vaardighede en professionele netwerke kan jong werkendes nie net hierdie uitdagings suksesvol bestuur nie, maar ook daarin floreer en ʼn betekenisvolle loopbaan bou.

Solidariteit stap die totale loopbaanpad saam met jou! Raak vandag nog by Solidariteit betrokke en neem die volgende stap om jou loopbaan met selfvertroue te bestuur.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel