Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Kort kursusse of ʼn graad? Albei het ʼn plek in jou loopbaan
Deur Liza Joubert
Die dae toe ʼn kwalifikasie jou deur jou hele loopbaan kon dra, is verby. Vandag verander tegnologie, werkplekke en vaardigheidsvereistes vinniger as ooit tevore. Daarom is dit nodig om tradisionele opleiding aan te vul met kort kursusse wat spesifieke vaardighede ontwikkel.
Dit beteken nie grade en diplomas is minder waardevol nie. Inteendeel, formele kwalifikasies vorm steeds die grondslag van talle beroepe. Wat wel verander het, is die behoefte om voortdurend nuwe kennis en vaardighede aan te leer.
Volgens LinkedIn se Workplace Learning Report 2025 stem 91% van leer- en ontwikkelingskundiges saam dat voortdurende leer belangriker as ooit tevore vir loopbaansukses is. In ʼn vinnig veranderende arbeidsmark word die vermoë om nuwe vaardighede aan te leer en aan te pas al hoe belangriker.
Waarom word kort kursusse al hoe gewilder?
Kort kursusse bied ʼn praktiese manier om spesifieke vaardighede vinnig te ontwikkel. Anders as ʼn drie- of vierjaargraad, fokus hierdie kursusse dikwels op ʼn spesifieke behoefte, soos projekbestuur, digitale vaardighede, kommunikasie of leierskap.
Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) beklemtoon dat lewenslange leer toenemend noodsaaklik word namate tegnologiese verandering nuwe vaardighede vereis en bestaande vaardighede vinnig kan verouder.
Kort kursusse maak dit moontlik om nuwe kennis op te doen sonder om op te hou werk of ander verantwoordelikhede af te skeep. Dit is veral voordelig vir jong werksoekers wat hul CV wil versterk, sowel as vir werkende professionele persone wat hul loopbaangeleenthede wil uitbrei.
Kursus versus graad: Moet jy kies?
Dit is nie noodwendig ʼn geval van óf ʼn graad óf ʼn kort kursus nie.
ʼn Graad bied diepgaande vakkennis, kritiese denke en akademiese ontwikkeling. Kort kursusse bied weer die geleentheid om bykomende vaardighede aan te leer wat direk in die werkplek toegepas kan word.
Werkgewers soek toenemend na ʼn kombinasie van kwalifikasies én praktiese vaardighede. Iemand met ʼn formele kwalifikasie wat ook ʼn verbintenis toon tot die voortdurende ontwikkeling van nuwe vaardighede, staan dikwels uit in ʼn mededingende arbeidsmark.
Belê in jou eie ontwikkeling
Voortgesette leer het ʼn noodsaaklikheid eerder as ʼn luukse geword. Daarom bied Solidariteit-aanlyn nagenoeg 150 kort kursusse wat jou kan help om nuwe vaardighede te ontwikkel, jou kennis uit te brei en tred te hou met veranderende werkvereistes.
Die suksesvolste werknemers van die toekoms gaan waarskynlik nie diegene met die meeste kwalifikasies wees nie, maar diegene wat bereid is om voortdurend te leer, aan te pas en hulself verder te ontwikkel.
Die toekoms behoort aan diegene wat aanhou leer. Registreer vandag jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en val sommer dadelik weg met een van die aanlyn kursusse.
Ontwikkel die vaardighede wat jou sal help om relevant en mededingend in die arbeidsmark te bly.