loading
Artikels
9 maande gelede
die-einde-van-n-era-het-aangebreek

Foto Krediet: Bbrotin Biss

Die einde van ʼn era het aangebreek 

Deur Maryna Eksteen

Die Amerikaanse joernalis en voormalige voorsitter van The New York Times, Arthur Sulzberger Jr., het die volgende gesê: “Newspapers cannot be defined by the second word – paper. They’ve got to be defined by the first word – news.”

In die hedendaagse digitale era kan dit soms lyk of daar nie meer plek vir gedrukte media is nie. Die teendeel is egter waar. Navorsing het bewys dat gedrukte media vandag steeds ʼn belangrike en gesogte vorm van media in die wêreld is, ongeag waarvoor dit gebruik word. Millenniërs lees meer as enige ander generasie en waardeer die ervaring om ʼn koerant of tydskrif fisiek te kan vashou.

Een van die groot voordele van gedrukte materiaal is dat dit ʼn meer persoonlike ervaring kan bied omdat dit gemeet word aan nuus op sosiale media en oral toeganklik is. Wanneer dit met digitale mediums gekombineer word, kan gedrukte media selfs meer doeltreffend wees.

Anders as ʼn TV-advertensie of digitale advertensie, wat soms baie irriterend kan wees, is drukmateriaal nie “onderbrekings”-bemarking nie. Dit inspireer en vang die leser se oog op ʼn baie gemakliker manier, selfs weke nadat dit die eerste keer verskyn het.

Drukmedia is steeds relevant in hierdie digitale era omdat dit iets bied wat digitale inhoud nie kan bied nie. Mense smag na fisieke kontak met dinge, en drukmedia verskaf dit. Drukmateriaal, ʼn meer betroubare vorm van bemarking, is ʼn goeie manier om emosies en gevoelens deur beelde, advertensies en ander visuele materiaal oor te dra.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat Media24 die ondergang van sy hoofstroom- gedrukte publikasies aangekondig het. Koerante soos City Press, Rapport, Beeld en Daily Sun gaan oënskynlik vir die laaste keer in September 2024 verskyn. Waar laat die ondergang van ʼn publikasiehuis sy werknemers? In hierdie geval staar byna 400 werknemers werkloosheid in die gesig.

Media24 het ook aangedui dat hy ook die digitale uitgawes van Volksblad, Die Burger Oos-Kaap, en die digitale spilpunt SNL24 gaan sluit.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die volgende stelling oor hierdie nuus in ʼn Facebook-plasing gemaak: “Die prys wat Afrikaans gaan betaal indien Rapport en Beeld se gedrukte weergawes gestaak word, sal baie duurder wees as enige besparing wat Media24 teweeg sal bring.

Dit sal ʼn reuseterugslag vir die Afrikaanse nuusaanbod wees. Die Afrikaanse gemeenskap het dié media-instellings vir meer as ʼn honderd jaar ondersteun. Uit ʼn toestand van absolute armoede is Nasionale Pers (Naspers) gebore.

Dié maatskappy het ʼn ereskuld aan die gemeenskap wat uit hul min hulpbronne ʼn maatskappy tot stand gebring het en tot vandag steeds ondersteun. Dit sal oneervol wees om die Afrikaanse nuusaanbod so ingrypend te sny.

Solidariteit het namens sy lede ʼn skrywe aan Media24 gerig om duidelikheid te kry. Ons lede, waarvan sommige in senior bestuursposisies is, het vir die eerste keer van hierdie radikale ingryping in die media te hore gekom.

Personeel en ander belanghebbendes is nie daaroor geraadpleeg nie en daar is nie met hulle gekommunikeer nie. Solidariteit gaan dus vir die Afrikaanse media en sy lede instaan. Ons inligting toon dat die koerante wat gesluit gaan word, wins maak.

Die gedrukte koerante genereer steeds groot advertensie-inkomste. Dit blyk dus dat die beëindiging van hierdie koerante nie oor wins gaan nie, maar oor méér wins. Ons soek antwoorde namens die Afrikaanse gemeenskap en ons lede.”

Solidariteit het intussen aangedui dat hulle die joernaliste in hul afleggingsaak by die KVBA wil ondersteun. Solidariteit is jou loopbaanvennoot en wil die struikelblokke op jou loopbaanpad saam met jou aandurf! Skep vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit en sluit aan by die Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk. Jou beroepsnetwerk tree as waghond op om veranderinge en uitdagings in jou beroep uit te snuffel en jou in jou beroep te beskerm.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel